Uit en tuis: ’n e-pos uit Melbourne

08/03/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
IMG_6499

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Christina du Toit, wat in Melbourne woon.

Hallo, Christina! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om in Australië te gaan woon?

Ek het in Pretoria se Moot-area grootgeword, maar uiteindelik het ons sewe jaar gelede ons huis in die Oos-Rand opgepak en besluit om in Melbourne te kom woon. Ons was geseën met ‘n wonderlike geleentheid, want my man, Jacob, het ’n borgskap van die Victoria-regering ontvang. Dit het ons in staat gestel om ons in Melbourne te kon vestig. Melbourne is ’n wêreldstad wat ongelooflike geleenthede vir ons en ons kinders bied.

Ek dink die grootste oomblik in elkeen van ons se lewe is wanneer jy besef jy het ’n keuse waar jy wil woon. As jy vrede in jou eie hart daaroor het, is dit makliker om met die enorme administrasieproses, die oppak en die groet te begin.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ons is ’n tipiese Afrikaanse gesin met baie sterk familiebande wat mekaar se geselskap geniet en baie dinge saam doen. Ons woon nou al sewe jaar in Melbourne en het in hierdie tyd al vier keer verhuis. In ons geval het ons eers in die weste van Melbourne gewoon en toe weer na die ooste van Melbourne verhuis toe die kinders hoërskool toe is.

Ons het dit amper as ’n tweede emigrasieproses beleef! Selfs in een groot stad kan die omgewings baie verskil en ek is dankbaar dat ons ’n bietjie van elke kant van Melbourne kon beleef. Ons woon tans noordoos van Melbourne in ’n dorpie genaamd Eltham. Dit neem ons sowat ’n uur per trein om tot in die hartjie van Melbourne te kom.

Vanjaar is Jacob en ek 27 jaar getroud. Ons dogter Jana (18 jaar) is in matriek en ons seun Conrad (15 jaar) is besig met jaar 9. Ons honde Nowa (’n swart hond) en Graci (’n wit klein windhond) is twee regte egte Aussies en moes ter wille van oorlewing maar vinnig Afrikaans aanleer.

Melbourne staan tans bekend as “the most lockdown city in the world” en ons gesin kon die stukkie wêreldgeskiedenis saam hier deurleef. Ek wil nog eendag ’n boek daaroor skryf!

Was dit moeilik om aan te pas, of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

Ek dink ons het aanvanklik die impak van emigrasie onderskat. Die groot, stil alleenheid wat almal soms beleef as hulle in ’n ander tydsone as hul hartsmense is, kan oorweldigend wees. Al is daar ander dierbare mense (insluitende Suid-Afrikaners) om jou, ken hulle nie noodwendig jou unieke herkoms nie. Ek het besef mens moet ou en nuwe vriendskappe koester en nie as vanselfsprekend aanvaar nie.

Ek dink die geheim om vriende te maak is om in te skakel by dit wat vir jou belangrik is (soos skole, kerke en gemeenskapsprojekte) en lekker is om te doen (soos sport, stokperdjies en reis). In Suid-Afrika was ek deel van ’n wonderlike groep van 13 vroue wat elke Woensdag bymekaargekom het om die mooiste goed te hekel en ’n koppie tee saam te geniet. In Melbourne het ek nou net so ’n kreatiewe groep ontmoet wat elke week bymekaar kom (in die gemeenskapsentrum) en my hart goed doen. Ons ontmoet ook dierbare mense as ons met die honde langs die see, in hondeparke of sommer net in die woonbuurt gaan stap.

Dit is vir my ook lekker om mense aan mekaar voor te stel en te sien hoe nuwe vriendskappe ontwikkel. Ek geniet dit om sulke geleenthede te skep, soos Floreer Oorsee. Elke week reël ek ook dat ouers van ons skool bymekaar kan kom vir ’n koffie en kuier. Dit is ’n voorreg om my wêreld ’n lekkerder plek vir almal om my te maak.

Dit kan uitdagend wees om in ’n nuwe land aan te pas. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Dis die klein dingetjies wat groot dinge kan word en jou alleen kan laat voel.

Die klanke om ons: Die voëls klink anders hier – om nie te praat van die snaakse bromgeluid van ’n buidelrot (Engels: possum) of koala nie! Die geluide in die winkels of strate; dit alles klink net anders. By ons Floreer Oorsee-oggendtee het ek ‘n traan gepink toe ek kon staan en luister hoe 80 vroue uitbundig in Afrikaans kuier en lag. Dit is die mooiste klank wat ek jare laas kon hoor. Lag klink maar net mooier in Afrikaans!

Die onverwagse gevoel van veiligheid: Ons het die eerste maand hier elke aand ’n stoel voor die deur gesit, want dit was vreeslik moeilik om te gaan slaap in ’n huis sonder heining, alarm, diefwering of sekuriteitdeure. Dit bly steeds vreemd voel om laat in die aand in die stad te kuier en rond te loop, of om baie motors te sien wat oornag in die strate geparkeer staan. Mettertyd het ons meer gerus geword, maar ek dink ons sal maar altyd op ons hoede wees en dankbaar bly vir die “gevoel” van veiligheid.

Om vertrou te word: Die meeste winkels het geriewe waar jy jou inkopies self kan oplui, betaal en inpak. Selfs as jy brandstof ingooi, glo die mense jy sal ingaan en vir jou brandstof betaal. Jy word vertrou om self die geld te betaal om die trein of bus te gebruik. Dit is wonderlik om vertrou te word om die regte ding te doen (al is daar ook mense wat dié vertroue soms skaad, want mense is maar mense reg oor die wêreld).

Informele agtergrondkennis: Aan die begin het dit gevoel of ek nie die Engels verstaan wat die mense hier praat nie, en toe besef ek dat ek nie altyd weet waarna hulle verwys as hulle praat nie. Hul kinderhelde, bekende mense, grappies en van hul gewoontes is uniek en mens leer dit maar ken soos wat die tyd aanstap.

Die tydsones: Ek kyk maar altyd eers hoe laat dit by iemand is voordat ek hulle bel en ek sit my foon se klank in die aand af, want mens skrik jou dood as jy voeroggend ’n kuieroproep kry. Die tydsoneprobleme is nie net vir Suid Afrikaners nie, maar ook vir Australiërs, want ons is ook nie almal in dieselfde tydsone nie: Ons het somertyd (Engels: daylight savings time) in Sydney en Melbourne.

Die omgewing: Die wonder van Melbourne is dat die natuur ongelooflik verander as mens twee ure na enige kant toe ry. Van die beste golwe vir branderplankry is by Torquay, maar die see lyk soos ’n kalm dam in Melbourne se Port Phillipbaai. Mens kry warmwaterbronne en sneeu twee ure buite Melbourne. Die weste van Melbourne is plat soos die Vrystaat se vlaktes, en die ooste het ongelooflike mooi berge, heuwels en uitkykpunte. Melbourne het die mooiste ou geboue langs splinternuwe moderne geboue. Die wêreld is baie groter as wat mens besef.

Jy is ’n persoonlike en lewensafrigter. Vertel ons ’n bietjie meer en waar kan lesers jou kontak?

Ek het navorsing vir my DPhil oor verskillende leierskapteorieë gedoen en hoe mens dit kan gebruik om ander te help om deur moeilike tye in hul lewens te kom. Dit bly elke keer vir my ’n groot voorreg om ander te help, sodat hulle ook leiers van hul eie lewe kan wees in die lewensfase waarin hulle nou is. Ek luister, ondersteun, bemoedig en probeer ’n ander lig op elke situasie skyn, wat dit ook al mag wees.

Julle is welkom om by https://www.leadyourself.au/ meer oor my te lees. Ek sien daarna uit om van julle te hoor.

Ons het die Facebook-blad Floreer Oorsee begin om spesifiek Suid-Afrikaners in Melbourne te help om nie net te blom hier waar hulle hul nou bevind nie, maar ook om te floreer in alles waarmee hulle besig is.

Ons hou weer ’n spesiale damestee op 23 Maart 2024 in die hartjie van Melbourne (by Scots Church) sodat Suid-Afrikaanse vroue bietjie bederf kan word, lekker kan kuier, nuwe vriende kan ontmoet en netwerke kan bou.

Is daar enige eg Suid-Afrikaanse winkels naby waar jy trooskos soos biltong kan koop?

’n Interessantheid reg oor die wêreld is dat Suid Afrikaanse winkels regtig aan die toeneem is. Ons is baie gelukkig dat daar sulke winkels ook naby ons is. Wat nog lekkerder is, is dat ons plaaslike supermark groep (Aldi’s) selfs ’n Suid-Afrikaanse week het waartydens gunstelinge soos Suid-Afrikaanse sjokolade, biltong, Mrs Ball’s-blatjang, Ouma Beskuit, Suid-Afrikaanse speserye, rooibostee en Safari gedroogte vrugte verkoop word. Dit is altyd lekker om dan in die winkels te wees, ander Suid-Afrikaners met hul kruidenierswaentjies vol bederf te kan eien en dan ’n lekker geselsie aan te knoop.

Net soos in Suid-Afrika is boerewors, biltong en droëwors ’n noodsaaklikheid en selfs dít word nou in sommige supermarkte te koop aangebied. In Point Cook (wes van Melbourne) is daar die vriendelikste Viëtnamese slagter, Le (Le’s Butcher, Sanctuary Lakes), wat onder die druk van al die Suid-Afrikaners om hom geswig het en regtig die heerlikste boerewors maak.

In ons eie gemeenskap is daar Suid-Afrikaanse entrepreneurs wat in ons behoeftes voorsien en ons help om ons verlange weg te eet:

Annemarie – https://www.facebook.com/Annemarie.Cakes

Marietjie – https://bushmanmeats.com.au/  

Is daar enige professionele diensverskaffers (byvoorbeeld dokters, prokureurs en tandartse) waar jy woon wat jou in Afrikaans kan help?

Daar is beslis professionele diensverskaffers wat jou in Afrikaans kan help, maar mens moet maar rondvra en soek, want hulle is nie so volop in Melbourne nie. Ek glo dit sal ander storie wees in Perth of Brisbane, maar waar dit moontlik is, probeer ons graag ons mense ondersteun.

Baie vriendelike dienste en hulp:

Jy het genoem dat jy twee kinders het. Hoe oud is hulle en hoe het hulle in die nuwe land aangepas?

Jana en Conrad was nog altyd die enigste Du Toits in albei skole wat hulle bygewoon het en die skoolgaan hier was (is nog) ’n totaal unieke ervaring vir ons almal.

Conrad het graad 1 in Suid-Afrika voltooi en toe met sy TV-Engels en ’n paar Engelse lesse hier begin skoolgaan. Dit was ’n baie moeilike en lang eerste kwartaal. Nie net was Australiese Engels ’n uitdaging nie, maar kinders van 94 verskillende lande het saam in een skool skoolgegaan.

Conrad is vanjaar in jaar 9 en is gekies om vir nege weke lank op ’n leierskapontwikkelingskamp te gaan. By die skool sing hy in ’n seunskoor en speel kontrabas in ’n orkes. Conrad het ’n groot en diverse vriendekring en geniet die hoërskool.

Jana kon tot graad 4 in Suid-Afrika skoolgaan voordat ons Australië toe gekom het. Van die kinders in haar klas hier het haar gespot oor haar Afrikaanse aksent en dit het dit moeilik gemaak om nuwe maats te maak en om selfvertroue te hê om iets in die klas te sê. ’n Jaar later was Jana egter gekies om in ’n video te verskyn (en van die agtergrondstemme te doen) wat ons skool op ’n internasionale skolekonferensie vir International Baccalaureate (IB-)skole verteenwoordig het.

Jana gaan vanjaar jaar 12 doen en is gekies as ’n omgewinskaptein by hul skool. Sy is ook deel van verskeie komitees by die skool (waarin sy nou maar net twee jaar is). Akademies is haar punte goed genoeg dat sy net vier vakke vir matriek hoef te doen (pleks van ses). Sy het al wonderlike skoolavonture beleef en fantastiese maats gemaak.

Hier is ook ’n gebruik dat kinders vanaf 14 jaar en 9 maande mag begin werk. Jana het al twee betaalde werke gehad en ook vrywillige werk gedoen as deel van haar Duke of Edinburgh-sertifikasie.

Jana en Conrad is albei baie gebalanseerde kinders wat die geleenthede hier aangegryp het, soos toe hulle smiddae ná skool skaak in die biblioteek gaan speel het, as jong lewensredders(Australiese Engels: nippers) in die koue see hier diensgedoen het, en aan perdry, swem en musiek (klavierlesse) deelgeneem het. Hulle kan alleen gaan stap met Nowa en Graci, of fietsry, want daar is oral lieflike paadjies en parke. Conrad en sy vriende hou gereeld watergeweerpartytjies in die park as die weer lekker warm is. Ons voel gerus genoeg om Jana alleen met die trein stad toe te laat gaan. Jana is nou besig om te leer bestuur en Conrad is besig om vir ons ’n groentetuin te beplan.

Ons is baie trots en dankbaar oor hoe Jana en Conrad al die veranderinge in hul lewe hanteer, hoe hulle uitdagings aanpak, dink en keuses maak oor die wêreld om hulle.

Hoe verskil die skoolstelsel in Australië van dié in Suid-Afrika?

Ons belewenis van die Australiese skoolstelsel is dat dit heelwat anders is as Suid-Afrikaanse skole. Hier word anders oor skool gedink en sukses word op ’n heel ander wyse gedefinieer.

Jana en Conrad se eerste skool hier was Alamanda College, ’n openbare IB-skool vir voorskool tot jaar 9. Die skool wou nie na my kinders se lêers met hul Suid-Afrikaanse rapporte en toekennings gekyk het nie en het hulle bloot aanvaar vir wie hulle was. Jana en Conrad het geen toetse, eksamens of huiswerk gehad nie en is net op hul klaswerk geëvalueer. Hul rapporte was tot 28 bladsye lank! Daar was ook geen prysuitdelings nie, maar wel aanmoedigingsertifikate. Aan die einde van jaar 9 was daar net die politieke verteenwoordiger wat ’n toekenning aan ’n seun en dogter toegeken het, en dan die hoofdetoekenning (Australiese Engels: principal’s award) vir die uitsonderlikste student in jaar 9 (wat aan Jana toegeken is).

Alamanda College en Balwyn High School het gratis ekstra ondersteunende Engelse klasse vir al die internasionale studente aangebied en baie moeite gedoen om die kinders te help aanpas. In die laerskole hier is daar ook oulike tradisies soos Boekedag, waar elke klasdeur deur die kinders self versier word na aanleiding van die klas se gunstelingboek wat hulle gelees het. Kinders en onderwysers trek soos hul gunstelingboekkarakter aan en loop op die maat van musiek in ’n parade deur die skool.

Die skole sluit hier ook gewoonlik net voor Kersfees en dan het hulle groot buitelugkonserte waar die ouers op piekniekstoele sit en luister na elke klas wat ’n Kersliedjie sing. Ek was ook verbaas oor hoe gereeld veral die laerskoolkinders as klas saam met die onderwyser deur die woonbuurt na parkies gestap het sodat hulle meer bewus kon word van hul omgewing. Natuurlik word kinders ook op busse na uitstappies en dies meer rondgery, maar in die hoërskool het my kinders al ’n paar keer saam met onderwysers op die trem stad toe gery vir ’n geleentheid waarheen hulle uitgenooi is.

Alamanda College se skoolgronde het ook heel anders gelyk toe ons dit bygewoon het, want dit het geen heinings gehad nie. Die skool het ongelooflik gegroei en toe ons daar weg is, het hulle al ses verskillende klasroosters gehad. Dit beteken dat kinders op verskillende tye met skool begin om die verkeer om die skool te kan fasiliteer. Die kinders het ook op verskillende tye pouses – en wat dit nog meer spesiaal maak, is dat daar nie een keer ’n klok gelui het nie; almal het bloot saamgewerk. Die klimrame en flying fox is onder sonveilige nette en daar is lugversorgers in elke klas.

In Balwyn High School – die hoërskool waar Jana en Conrad nou skoolgaan – is daar net vier periodes elke dag en hulle moet self kyk wanneer hulle waar moet wees, want die onderwysers en kinders wissel almal en nie een klas is noodwendig weer die volgende keer op dieselfde plek nie, behalwe natuurlik vir die wetenskap en huishoudkundevakke.

Die skoolkurrikulum is net so verskillend, want daar is heelwat ander vakke waaruit die kinders kon kies: juweelvervaardiging, waar Jana regte silwer juwele gemaak het; fyngebak, waar jy jou eie roomysgeur kon uitdink; seilvaart, waar hulle in klein bootjies in ’n hawe naby ons leer seil het; selfs toepontwikkeling, musiekkomposisie en webtuisteontwikkeling. Daar is ook ‘n vreeslike oulike vak: buitemuurse opvoeding en omgewingstudies, waar hulle meer oor die omgewing en bewaring leer. Hulle doen teorie, maar kry ook die geleentheid om op die see te gaan kajak, bergfiets te ry, rotse te klim, branderplankry te probeer, te gaan leer ski in die sneeu en om op staptogte te gaan, waar hulle vir ’n paar nagte en met net die goed op hul rûe in die wildernis moet oorleef.

Albei Australiese skole wat ons kinders bygewoon het, was ook baie tegnologies gedrewe. Conrad het in jaar 2 met ’n iPad begin, en Jana in jaar 5 met ’n skootrekenaar. Ons is deur al die Covid-inperkings met interaktiewe aanlyn klasse. Die meeste van Jana en Conrad se handboeke is nou e-boeke. Ek dink ook leerlinge hier word baie onafhanklikheid geleer en hulle kommunikeer direk met hul onderwysers deur middel van e-posse of hul skool se Compass (’n skoolkommunikasiemiddel).

Jana het met jaar 10 en Conrad met jaar 7 by Balwyn High School begin. Dit was ook vir hulle sosiaal uitdagend om weer by ‘n nuwe skool as ouer kinders in te stap, nuwe vriende te moes maak en die skool se manier van doen van vooraf te leer en probeer verstaan, veral ná die twee jaar van inperkings waar hulle baie geïsoleer was. Hier begin hulle in jaar 10 al oefen om eksamen te skryf. Die hooffokus is maar jaar 11 en 12. Aan die einde van jaar 12 kyk hulle net na ses vakke se punte en dan kry jy ’n ATAR-punt (Australian Tertiary Admission Rank), wat jou rangorde aandui vergeleke met almal in die hele staat wat saam met jou eksamen geskryf het. As jy sou kies om universiteit toe te gaan, doen jy aansoek, maar die universiteite stuur vir jou ’n uitnodiging en kies om jou as student by hulle te hê.

Ek dink elke skool verskil en verander ook jaar ná jaar. As julle meer wou lees oor die skole wat ons hier bywoon:

Alamanda Collage – https://www.alamandacollege.vic.edu.au/

Balwyn High School –  https://www.balwynhs.vic.edu.au/

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is jou gunstelingherinnering aan Suid-Afrika?

Ons almal is dit eens dat ons grootste gemis en verlange na ons familie en vriende is wat nog steeds in Suid-Afrika woon. Ek het besef ons weet hoe al ons Suid-Afrikaanse vriende en familie se huise en wêrelde lyk, maar dat nie almal van hulle die geleentheid sal hê om by ons aan tafel te sit en ons wêreld te beleef nie. Ons gunstelingherinneringe is saam met hierdie hartsmense van ons en ons is dankbaar vir elkeen van hulle.

Afrika sal altyd in ons bloed bly. Ons mis ons mooi Afrika-natuur, ons Afrika-diere en -voëls, die reuk van die Bosveld, die langpad vat deur die Karoo op pad Kaap toe, goedkoop braaihout, verskeidenheid biltong en boerewors, dubbelbaksteenhuise, die fantastiese en gematigde klimaat van Johannesburg en die hartlikheid van Suid-Afrikaners.

Ander dinge wat mens nie kan verduidelik nie, is die TV-programme waarmee ons grootgeword het en wat ons verwysingsraamwerke gevorm het (Wielie Walie en Kraaines) en selfs RSG en Huisgenoot.

Hier is dieretuine, maar nie wildtuine nie, en mens is soms verwonderd oor die seën wat ons gehad het om leeus, renosters, seekoeie en olifante in hul natuurlike habitat te kon sien.

Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie?  

Australië is massief. Daar is vele dialekte van Engels, en Aussie-Engels is nie VSA- of Britse Engels nie.

Elke dorpie in Australië het begin met ’n kerk, ’n botaniese tuin, ’n biblioteek en bakkery. Vleispastye is ’n Aussie-ding en die status van ’n dorpie kan baie keer getakseer word op die gehalte van sy bakkery se vleispasteie en worsrolle. Elke dorpie se bakkery het al iewers ’n prys vir sy gebak gewen.

Parke en kinderspeelterreine is belangrike plekke en naweke kuier almal in die parke. Gasbraaifasiliteite is in die meeste van die parke beskikbaar, en piekniekaktiwiteite word terdeë geniet.

Handearbeid is skaars en duur, en Working Bees is geleenthede waartydens die gemeenskap saamstaan om ’n projek af te handel. Ná elke funksie spring almal in om op te ruim en niemand hoef gevra word om te help nie. Dit is maar net hoe ons dit hier doen.

Parkering is vreeslik duur en jy moet self sien kom klaar om parkering te reël as jy verkies om met jou motor te pendel. Gelukkig is daar uitstekende openbare vervoer (treine en busse) en mens kom baie maklik oor die weg sonder dat jy jou motor hoef te gebruik.

Wat beteken jou Afrikanererfenis vir jou? Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Ons sal altyd kinders van Afrika bly. Afrikaans word met trots in ons huis gepraat en ons het nog steeds ’n wye kring van vriende wat ook Afrikaans praat.

Ons probeer moeite doen om kunstenaars vanuit Suid-Afrika te ondersteun wanneer hulle Melbourne besoek en kyk gretig uit vir die Afrikaanse kerkdienste in Bayside twee keer ’n jaar. Ons woon selfs Suid-Afrikaanse sokkies by as die geleentheid hom voordoen.

Nuus uit Suid-Afrika bly belangrik en ons maak ’n punt daarvan om te lees en uit verskeie bronne op hoogte te probeer bly van wat alles in Suid-Afrika gebeur, want dit is waar ons mense is.

Die grootouers mag dalk nog in Suid-Afrika wees, maar ons doen moeite om soveel moontlik met hulle oor WhatsAppoproepe en deur foto’s en video’s op te vang.

Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Watter Suid-Afrikaanse tradisies leer julle vir jul kinders? Van watter Afrikaanse hulpmiddels maak julle gebruik?

Afrikaans is nog steeds ons huistaal en ons praat daagliks Afrikaans met nabye vriende en oor WhatsApp-oproepe met ons familie tuis. Ek is baie trots op Jana en Conrad wat met net graad 1- en graad 4-Afrikaans pragtig Afrikaans praat, lees en skryf hier.

Melbourne is baie multikultureel en uit respek praat die meeste mense by plekke soos die kerk maar Engels, maar waar daar ’n geleentheid is om met ander Afrikaners te kuier, vloei die Afrikaans mildelik. Die meeste jonger kinders is egter besig om te verengels en dit is hartseer om dit te beleef.

Vir ons is dit belangrik dat ons kinders bande met hul oupa en oumas, neefs en niggies in Suid-Afrika behou en ons is dankbaar dat die oupa en oumas met ons en die kinders teruggesels.

Ons moedig ons kinders aan om ander te respekteer, met die hand te groet en ander op hul gemak te laat voel. Ons is ook dankbaar dat ons kinders kan gesels en ’n groter mening kan hê omdat hulle al ’n groter deel van die wêreld beleef het.

Hoe vorm of behou jou kinders ’n verhouding met hul grootouers? Hoe gereeld sien julle as familie mekaar?

Om vir ons oupa en oumas te gaan kuier was en is een van die grootste en lekkerste dinge om te doen. Wanneer ons Suid-Afrika toe gaan, tel ons die slapies af en maak planne vir elke sekonde van die tyd saam.

Ek neem vreeslik baie foto’s en probeer elke dag foto’s stuur van wat ons gedoen het met kort boodskappies vir die oupa en oumas. Hulle het van die begin af soveel moeite gedoen om met Jana en Conrad te praat en hul verhouding het met die emigrasieproses net hegter geword.

Dit bly vir my een van die kosbaarste oomblikke as hulle sê ons moet gou ’n foto neem want Oupa sal dit geniet of ons moet onthou om vir Ouma te vertel van dit en dat.

Vliegkaartjies is vreeslik duur en waar ons oorspronklik elke jaar wou kom kuier het, het dinge soos huiskoop, troeteldiere, en skool- en werkkalenders dit baie moeilik gemaak om dit te kan doen. Ons moet dus ons kuiers in Suid-Afrika baie lank voor die tyd beplan. Gelukkig kan die oupa en oumas darem nog vlieg en ons is gelukkig om hulle darem al ’n paar keer in Melbourne te kon hê.

Enige lesse wat julle geleer het?

Emigrasie is nie net ’n emosionele besluit nie. As jy emigreer, gaan jy baie dinge moet hersien en herbesin, insluitende hoe jy met jou familie en vriende in Suid-Afrika in kontak gaan bly.

Finansiële beplanning is ’n absolute noodsaaklikheid en mens moet genoeg voorsiening maak, want dinge is maar duur. Begryp hoe dinge soos pensioen en belasting werk, en hoe duur huispryse in Australië is.

Bly besig en hou aan om te verken. Dit help met die verlange en help ook om nuwe vriende te maak.

Die gesin is die belangrikste “fort” in ’n wêreld van die onbekende, en ons moet baie op mekaar staatmaak en vertrou as daar ’n krisis is.

Jou Australiese vriende word familie en Kersfees en verjaarsdae word nou saam met hulle beplan en nie net meer jou familie nie.

Hou vas aan die mooi van gister en fokus op die avontuur van more.

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels