Om kinders se emigrasie te verwerk: Ouers se aanpassing by ’n veranderende werklikheid

10/01/2025
| Deur Sue-Ann de Wet
Om kinders se emigrasie te verwerk: Ouers se aanpassing by ’n veranderende werklikheid

Die besluit om te emigreer is dikwels ’n komplekse en emosionele proses, veral vir ouers en grootouers wat agterbly. Wanneer jy die woord emigrasie hoor, dink ’n mens eerste aan iemand wat die land verlaat en selde aan die geliefdes wat agterbly. Emigrasie is nie net ’n lewensveranderende werklikheid vir die kind wat emigreer nie, maar ook vir die mense wat agterbly.

Ouers wat kinders sien emigreer, beleef ’n unieke mengsel van vreugde oor hul kinders se nuwe geleenthede en diepgaande hartseer oor die afstand wat tussen hulle geplaas word.

’n Ouer het onlangs by AfriForum Wêreldwyd se kuieroggend die emosie so raak beskryf: “Om kinders en kleinkinders in die buiteland te hê, is om te rou, maar niemand bring vir jou blomme nie.” Hierdie woorde vang die uitdagings en rouproses wat ouers dikwels stil-stil deurmaak, perfek vas.

Vir ouers is emigrasie nie net ’n fisiese skeiding nie, maar ook ’n emosionele uitdaging. Emigrasie is ’n groot lewensverandering. Dit vereis dat ouers hul verwagtinge en drome van ’n gesinslewe herdefinieer. Die afstand bring praktiese uitdagings soos beperkte fisiese kontak, nuwe tydsones en kultuurverskille.

  • Kommunikasie-oorbrugging: Verskillende tydsones maak spontane gesprekke moeiliker.
  • Kulturele aanpassing: Kinders en kleinkinders pas dikwels by ’n nuwe kultuur aan, wat ouers soms kan laat voel asof hulle hul familie verloor aan ’n onbekende wêreld.
  • Konstante afskeid: Elke besoek eindig met nóg ’n hartverskeurende totsiens.
  • Innerlike konflik: Wanneer kinders besluit om te emigreer, ervaar ouers dikwels ’n diep emosionele tweestryd, aan die een kant is daar trots en opgewondenheid oor die geleenthede wat vir hul kinders wag, maar aan die ander kant is daar die rou oor verlore tyd en gedeelde ervarings. Hierdie emosionele balansering is ’n voortdurende uitdaging.
  • Gevoel van magteloosheid: Wanneer kinders besluit om te emigreer, kan ouers voel dat hulle insette nie genoegsaam oorweeg word nie. Alhoewel ouers dikwels hul kinders se beste belange op die hart dra, is emigrasie uiteindelik ’n besluit wat op ’n gesin se unieke omstandighede gebaseer is. Die gebrek aan inspraak kan ouers met ’n gevoel van magteloosheid laat.
  • Grootouerskap oor grense: Vir grootouers is dit ’n uitdaging om bande met kleinkinders oor grense heen te handhaaf. Grootouers mis dikwels belangrike mylpale soos verjaarsdae, sportdae en eerste treë. Tegnologie soos video-oproepe help, maar dit vervang nie die warmte van fisiese teenwoordigheid nie. Grootouers moet kreatief wees in hoe hulle ’n rol in kleinkinders se lewens speel, al is dit op ’n afstand.

Hierdie nuwe realiteite vereis aanpassings in hoe ouers en kinders kommunikeer en bande handhaaf.

  • Moenie skuldgevoelens veroorsaak nie: Vermy opmerkings wat jou kinders skuldig laat voel oor hul besluit.
  • Moenie hulle nuwe lewens onderskat nie: Erken die uitdagings wat hulle in die buiteland ervaar en wees empaties.
  • Moenie jou identiteit prysgee nie: Fokus op wat jou gelukkig maak eerder as om jou hele lewe om hul emigrasie te bou.

1. Hoe moet ek hul emigrasie benader?

Emigrasie is ’n groot besluit, en jou reaksie kan jou verhouding met jou kind sterk beïnvloed. Dit is belangrik om hul besluit met begrip en respek te benader, selfs al stem jy nie heeltemal daarmee saam nie.

  • Luister sonder oordeel: Laat jou kind toe om hul redes en drome met jou te deel. Byvoorbeeld, as hulle sê hulle wil beter loopbaangeleenthede hê, vra hoe jy hulle kan ondersteun.
  • Toon jou liefde en trots: Sê iets soos: “Ek weet hierdie stap is nie maklik nie, maar ek is trots op jou moed om nuwe geleenthede na te jaag.”
  • Moenie druk uitoefen nie: Vermy stellings soos: “Wat gaan van my word as jy weg is?” Dit kan jou kind se skuldgevoelens verhoog.

2. Hoe kan ek betrokke bly as hulle in ’n ander land woon?

Dit kan moeilik wees om ’n verhouding op afstand te handhaaf, maar met tegnologie is daar baie maniere om betrokke te bly.

  • Skeduleer gereelde oproepe: Maak weeklikse video-oproepe ’n ritueel. Bespreek nie net groot gebeure nie, maar ook alledaagse dinge, soos hoe hul dag was.
  • Stuur klein verrassings: Dink aan kreatiewe maniere om jou liefde te wys, soos om ’n handgeskrewe brief te skryf, of gebruik AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids om oulike Suid-Afrikaanse ondernemings in jou geliefdes se omgewing op te spoor. Stuur iets persoonlik – dalk ’n Afrikaanse leesboek vir jou kleinkind wat julle saam kan geniet. Dalk ’n spesiale plaaslike lekkerny wat nostalgie bring – kos wat jou laat verlang na jou ouerhuis. Hierdie klein gebare skep nuwe herinneringe en versterk familiebande.
  • Wees deel van hul nuwe lewe: Leer oor hul nuwe omgewing en vra spesifieke vrae soos: “Hoe gaan dit met jou bure?” of “Hoe proe die plaaslike kos?”

3. Hoe raak ek vertroud met hul nuwe werklikheid?

Om jou kind se nuwe werklikheid te verstaan, help jou om meer ondersteunend te wees en sinvolle gesprekke te voer.

  • Doen navorsing oor hul nuwe land: Lees oor die kultuur, gewoontes en spesifieke uitdagings van die land waar hulle woon. Byvoorbeeld, as hulle na Kanada emigreer, leer oor die Kanadese winter en vra: “Hoe gaan jy aanpas by die koue weer?”
  • Besoek hulle indien moontlik: ’n Kort besoek aan hul nuwe land kan jou help om hul omstandighede eerstehands te ervaar.
  • Leer tegnologie gebruik: Gebruik platforms soos WhatsApp, Zoom of Skype om gereeld kontak te hou.

4. Wat kan ek doen om my verlange te hanteer?

Verlange na jou kind is natuurlik, maar dit is belangrik om maniere te vind om dit positief te hanteer.

  • Fokus op selfsorg: Ontwikkel jou eie stokperdjies en ondersteuningsnetwerk om gevoelens van eensaamheid te hanteer.
  • Doen iets spesiaal: Begin ’n gesinsjoernaal waarin jy stories, herinneringe en boodskappe aan hulle skryf.
  • Bly betrokke by hul mylpale: Vra hoe jy deel kan wees van spesiale oomblikke soos verjaarsdae of hul kinders se eerste skooldag, selfs al is dit net aanlyn. Selfs ’n eenvoudige boodskap kan vir hulle wys dat jy aan hulle dink en beskikbaar is. Onthou egter dat hulle besige lewens kan hê en dalk nie altyd dadelik of omvattend kan antwoord nie – moenie dit persoonlik opneem nie. Fokus eerder daarop om konsekwent en ondersteunend te wees.
  • Aanvaar die rouproses: Dit is normaal om verlies te ervaar. Gee jouself toestemming om te rou en wees geduldig met jou emosies.
  • Die beste medisyne vir droefheid is dankbaarheid: Wanneer die verlange na geliefdes swaar druk, kan dankbaarheid jou help om die las te verlig. Neem tyd om stil te raak en te dink aan al die dinge waarvoor jy dankbaar is – die klein oomblikke van vreugde, die mense wat jou ondersteun en die herinneringe wat jou hart vul. Skryf dit neer, of deel dit met jou familie en vriende. Dankbaarheid skuif die fokus weg van wat ontbreek, na wat steeds mooi en waardevol in jou lewe is.

Oop en eerlike gesprekke is noodsaaklik. Beide ouers en kinders moet hul emosies kan uitdruk sonder oordeel. Deel die alledaagse dinge – klein besonderhede bou emosionele nabyheid oor grense.

Ten spyte van fisiese afstand, bly ouers en kinders deel van mekaar se lewens. Emigrasie verander wel die vorm van verhoudings, maar dit hoef nie die diepte daarvan te verminder nie. Deur aan te pas, nuwe tradisies te skep en wedersydse ondersteuning te bied, kan ouers en kinders ’n blywende, betekenisvolle verbintenis handhaaf.

Die sleutel tot suksesvolle aanpassing is ’n kombinasie van begrip, kommunikasie en ’n fokus op beide jou kind se nuwe lewe en jou eie welstand. Deur proaktief te wees en oop gesprekke te voer, kan jy jou verhouding sterk hou, ongeag die afstand.


Woon jou kinders en kleinkinders in die buiteland? Deel jou ervaring met ons – hoe jy die uitdagings en vreugdes van grootouerskap oor grense heen hanteer. Het jy dalk ’n wenk of twee wat ander kan help om die verlange te verwerk of kontak te behou? Jou raad kan ’n verskil maak in iemand anders se reis.

Foto: Freepik

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels