Deur Charné Meiring
Ek het onlangs verjaar en soos die kersies te veel raak om te tel, dink ek bietjie terug oor hoe emigrasie jou feesvieringe verander. Mens is altyd vinnig om te vertel hoe hulle familie die meeste mis vanuit hulle tuisland, maar min mense noem die vriende wat familie geword het – en die impak wat jou trek op vriendskappe het.
Toe ons pas geëmigreer het Londen toe, was die video-oproepe geskeduleer en ons het selfs een of twee keer probeer saam braai, so aanlyn. Ek onthou hoe ons almal ons borde braaibroodjies en wors voor die kamera ingeskuif het, asof dit regtig dieselfde is. Dit was nie, maar dit was oulik.
Maar soos tyd aanstap, word die video-oproepe net video’s of stemgrepe wat gestuur word. Later water dit af en word dit net ’n snaakse grappie wat jy vir ’n paar mense aanstuur … en dan, naderhand, net ’n “Geseënde Kersfees”- en “Geluk met jou verjaardag”-boodskap.
Eers het ek gedink: Gmpf, hierdie mense gee nie meer om nie. Maar mens besef nie die implikasie van afstand op ’n vriendskap nie. Wie wil nou oor ’n teksboodskap vertel jy was weer by die dokter vir hoofpyn, of jou kind is besig om ’n mylpaal te bereik? Google Maps kan nooit hierdie afstand aandui nie. Die klein details wat mens in gesprek sou deel, voel maar net onpersoonlik en onnodig so oor ’n teks. En dan bou dit op. Jy los só baie details en aspekte van jou lewe uit, dat JY onwillekeurig mense begin uitsny – en vice versa.
En dan kom die verjaardagboodskappie, en jy dink: Sjoe, ek weet nie eers meer hoe dit met daardie vriendin gaan nie. Is sy hartseer? Is sy gelukkig? Kom sy oor die weg met haar nuwe skoonfamilie? Het sy nie nou weer ’n nuwe werk of iets nie? Is sy okei by die huis op haar eie met net die kinders?
Soos met enige volwasse verhouding, verander jou vriendskappe ook deurentyd. Jy voeg mense by. Mense gaan weg. Party bly net ’n klein rukkie, maar los ’n blywende impak op jou. Party is gelukkig om daardie een ride or die-vriendin te hê.
En party raak stil. Nie omdat hulle nie meer omgee nie, maar omdat hulle nie weet hoe om jou nog deel te maak van hulle daaglikse lewe nie. Want laat ons eerlik wees – wat kan jy eintlik vir iemand stuur wat 10 000 km weg is, behalwe ’n grappie oor hoekom wyn en braaibroodjies eintlik ’n gebalanseerde dieet is?
En dan besef jy: dalk is dit genoeg. ’n Snaakse meme, ’n “Gelukkige verjaarsdag” en ’n belofte dat, as julle weer eendag dieselfde lug asemhaal, julle sal sit en koffie drink en lag, asof niemand ooit verhuis het nie.
Want dis mos maar wat vriendskap is. ’n Onsigbare tou, soms papier dun, soms so dik soos die oseane wat ons skei, maar altyd daar. Selfs al is dit net om vir jou te sê: Jy raak dalk ouer, maar jy bly my mens.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan. AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels



















