“Engels bly by die voordeur”: ’n Afrikaanse gesin se pad van vasbyt en volharding in Australië

18/07/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
“Engels bly by die voordeur”: ’n Afrikaanse gesin se pad van vasbyt en volharding in Australië

Wanneer ’n gesin emigreer, verander alles – van taal en kultuur tot roetine en verhoudings. Tóg is daar gesinne wat daarin slaag om hul taal en waardes nie net te behou nie, maar selfs te versterk in ’n vreemde omgewing. Een só ’n gesin is dié van Charles Keyser, wat reeds in 2004 na Australië geëmigreer het met sy vrou en twee jong dogters.

Charles het onlangs op ’n artikel van AfriForum Wêreldwyd gereageer en sy gesin se pad van doelbewuste taalkeuses, volgehoue Afrikaanse kommunikasie en waardegedrewe ouerskap gedeel – en dit het ons diep geraak. Hulle storie herinner ons daaraan dat kulturele behoud nie per ongeluk gebeur nie. Dit vra vasberadenheid, konsekwentheid en soms die moed om teen die stroom te swem.

Afrikaans was nie onderhandelbaar nie

“Ons het die reël neergelê dat Engels by die voordeur gelos word. In die huis het ons slegs Afrikaans gepraat,” vertel Charles.

Hierdie besluit het van dag een af konsekwent gegeld – selfs in die moeiliker tienerjare. Vandag, jare later, sien hulle die vrugte: albei dogters is self mammas en praat uitsluitlik Afrikaans met hulle kinders.

Maar dit het nie by geselskap geëindig nie. Charles en sy vrou het daarop aangedring dat hulle dogters in Afrikaans teruggeskryf het op SMS’e. “Google maak dit maklik,” sê hy, “en dis ’n puik manier om sinsbou en spelling te oefen.” Ook het hulle doelbewus hul taalvaardigheid bevorder deur gereeld interessante woorde uit die HAT en ’n woordeboek met die gesin te deel. Charles lees dit weekliks en deel nuwe en ou woorde met die familie. Hy noem dat dit krities is om die taalgebruik breed en suiwer te hou. Engels glip te maklik in.

Waardes as anker
Vir die Keyser-gesin is taal nie net ’n kommunikasiemiddel nie, dit is ook ’n draer van waardes. Hulle het hul kinders grootgemaak met die boodskap dat eerlikheid, nederigheid en pligsgetrouheid sentraal staan tot Afrikaner-wees. Hierdie waardes is nie iets wat verdwyn wanneer jy jou land verlaat nie – dit is iets wat jy kies om saam te neem.

Nie elke vuur brand warm nie
Charles gee ook eerlike raad oor sosiale verhoudings in die buiteland. Hy sê: “Nie alle Suid-Afrikaanse emigrante sit noodwendig om dieselfde vuur nie.” Vir hulle was dit belangrik om bande met gesinne te bou wat soortgelyke lewensbeskouings en waardes gedeel het. “Moenie huiwer om kuiers te staak en verder te soek as daar onvoldoende oorvleueling is nie,” moedig hy aan.

Hou jou taal, kultuur en waardes lewendig. Begin by die voordeur

Charles se verhaal is ’n voorbeeld van hoe gesinne aktief keuses kan maak om hul identiteit te bewaar – én dit oor geslagte heen oor te dra. Taalverlies gebeur nie oornag nie, maar taalbehoud ook nie. Dit verg daaglikse keuses, klein gewoontes en ’n duidelike visie van wat jy vir jou kinders (en kleinkinders) wil agterlaat.

Lees ook: Nuutgevonde perspektiewe oor die behoud van jou kultuur en netwerk in die buiteland

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels