Deur James Home
James skryf ’n kort stukkie oor sy ervaring in Oxford.
In my 50’s het ek alleen gekom. Vrou, twee kinders, ’n broer en baie vriende agtergelaat om te kom werk. Nou het die tyd gekom dat ek my eie plekkie hier moet kry. Vir meer as twee jaar het ek in hospitaalakkommodasie gewoon, weer gewoond geraak aan die koshuislewe. Donker gange, gedempte klanke uit en suite-kamers en 20 Indiese verpleegsters wat die kombuis daar onder met my deel. Ná werk hang die reuk van kerrie soos ’n wolk bo die stowe; soms so sterk dat ek by geleentheid ’n asma-aanval met my blou pompie moes afweer.
Ek het dinge in hierdie kombuis geproe, geruik en gesien wat ek as onbeskryflik sou beskryf; “James, try this,” “Boss, you have to taste this” en “C’mon, this is traditional” was baie aande aan die orde van die dag. Hier maak hulle elke maal van nuuts af, ure se kap-kap-kap en skraap, skraap, skraap gevolg deur drukkokers met die stoom-afblaas wat jou laat wip van die skrik. Die lewe jaag jou soms om vreemde draaie, niemand het my gewaarsku dat ek van Punjabi se kulinêre geure in Engeland sou leer nie. Wanneer die tyd kom om te trek gaan ek hulle waaragtig mis.
Vandag het ek toe eiendomsagente in huurhuise reg oor Oxford vir besigtigings ontmoet. Hierdie agente is die mooiste mense denkbaar. Die mans is jonk, slank en gesofistikeerd en die vroue dra klere wat soos nat papier aan hul lywe kleef. Ek het eerder na hulle gestaar as om behoorlik na die kamers te kyk.
Ná my eerste besigtiging vra my vrou; “Was daar ’n yskas?” Gedwee moes ek bieg; “Huh? Nee ek weet nie …” Later die aand kom ek tot verhaal en nou verstaan ek; soos meerminne lok hulle jou die diep waters binne. Net ’n beeldskone wese kan jou oorreed om R50 000 ’n maand vir ’n tweeslaapkamerpophuis op te dok; hulle vang jou met ’n lang plan.
By elke huis is daar ook verwag dat jy jou skoene by die voordeur uittrek. Ek is toe al gebukkend en hoppend vandag by die plekke in. Soos ’n getoorde matroos het ek kamers, badkamers, gangkaste en kombuise ondersoek, verlangend na die reuk van biryani terwyl die wesens die mooi vloere uitwys; “blind” vir die gate in my sokkies …
Volgende keer sal dit beter gaan.
Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.
Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.
Lees ook: Lief vir Afrikaans























