Uit en tuis: ’n e-pos uit Nieu-Seeland

08/12/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Nieu-Seeland

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Sorina Lloyd wat in Nieu-Seeland woon.

Hallo Sorina, dit is heerlik om met jou te gesels!

Ek is tans ’n tuisteskepper (iets wat ons nie in Suid-Afrika kon bekostig nie) en my man is ’n tegniese skrywer. Die Nieu-Seelanders is baie diplomaties en beleefd. Ons Suid-Afrikaners ervaar dit soms as taamlik langdradig, want alles word deeglik verduidelik en mense kom nie altyd vinnig tot die punt nie. Ons is gewoond om dinge te dóén, terwyl daar hier baie gepraat word. Ek sê altyd hulle gee instruksies wat soos voorstelle klink, iets wat aan die begin nogal vir verwarring en misverstande gesorg het!
Wat ek wel baie waardeer, is dat hulle opreg omgee oor mense se geestesgesondheid en regtig sorg vir mekaar in dié opsig.

Dis baie duur om hier te leef, veral wat verblyf betref. Ons is nou sewe jaar hier en kon nog nie bekostig om ’n huis te koop nie. Die deposito’s op huise is gewoonlik 20% van die koopprys, en selfs ’n kleiner huis kos naby aan $1 miljoen. Huur is net so duur en word weekliks betaal. Toe ons hier aankom, was ons huur $450 per week, nou betaal ons $600. Omdat Nieu-Seeland ’n klein eiland is en die meeste produkte ingevoer word, is alles oor die algemeen duurder.

Toe ons pas in die land aangekom het, het ons op die Noordeiland gewoon en by ’n Afrikaanse kerk aangesluit, dit het baie gehelp. Nou woon ons op die Suideiland, waar daar nie ’n Afrikaanse kerk naby ons is nie, maar ons huidige gemeente het heelwat Suid-Afrikaners. Ons Afrikaners kom ook so nou en dan bymekaar vir ’n lekker sokkie, en ons koop dikwels Suid-Afrikaanse produkte soos rooibostee en biltong. Daar is baie winkels reg oor die land wat Suid-Afrikaanse goed verkoop.

Daar is iets besonders aan Suid-Afrikaners, hulle is eg. Jy weet waar jy met iemand staan. Ek mis ook die uitsig op Tafelberg wat ons so dikwels gehad het, en glo dit of nie, ek mis selfs die Kaapse Dokter!

Ja, beslis. Aanvanklik het ek die mense hier as oppervlakkig ervaar en dit was moeilik om aan te pas. Ek wou Suid-Afrika hier hê – maar dis onmoontlik. Jy moet leer om in te pas by die nuwe kultuur, eerder as om dinge te probeer maak soos dit was. Toe ek dit eers besef het, het aanpassing baie makliker geword.

Ons bly naby die see en dis heerlik om Sondae ná kerk daarheen te gaan. Daar is ook baie fietsrybane en met elektriese fietse sien jy selfs bejaardes gereeld ry. Die mense hier is groot koffiedrinkers maar net tot so 15:00 die middag! Gevolglik maak koffiewinkels vroeg toe, maar daar is min plekke met slegte koffie. Ons geniet dit om nuwe plekkies te ontdek en hulle koffie te probeer.

Ons het besef ons is tot baie meer in staat as wat ons ooit gedink het. Ons moes leer om vinnig aan te pas, want verandering kan enige oomblik gebeur. Ons het ook agtergekom dat die gras nie altyd groener is aan die ander kant nie – jy moet self werk aan ’n gelukkige, vol lewe. En ons het geleer om te ontspan; die lewe is hier baie minder gejaagd as in Suid-Afrika.

Ja, net Afrikaans. Dis deel van wie ons is. My jongste dogter was sewe toe ons hier aangekom het, en sy dink makliker in Engels, maar ons moedig haar aan om Afrikaans te praat. Wanneer jy ver van jou mense is, raak jou kultuur en taal selfs belangriker – dis jou identiteit. Jy kan die Suid-Afrikaner uit Suid-Afrika vat, maar nooit Suid-Afrika uit die Suid-Afrikaner nie.

Ja, soos ek genoem het, is daar oral Suid-Afrikaanse winkels en selfs groot supermarkte hou van ons produkte aan. Met tyd pas ’n mens se smaakkliere aan – kos hier is oor die algemeen minder sout of gegeur. Wanneer ek nou Simba-skyfies eet, is dit amper té sout! Die avontuur lê daarin om nuwe smake te ontdek wat jou aan die huis laat dink.
Ons hoor gereeld Afrikaans, jy kan nie sommer hier in Afrikaans skinder nie, want iemand sal verstaan!

Ek mis my familie die meeste en natuurlik ’n goeie seekosbord of snoek op die braai! Niks hier kom naby daaraan nie. Ek wens ek kon ons twee honde saamgebring het, maar dit was nie moontlik nie. Dit is ook moeilik om troeteldiere te hê as jy huur, want baie min eienaars laat dit toe. Oor die algemeen is ek egter tevrede, dit is anders, maar anders is nie slegter nie.

Ek moes leer wie ek werklik is. Dis maklik om net aan te gaan wanneer alles bekend is, maar emigrasie dwing jou om jouself te leer ken. Ek moes leer om my gesin sonder hulp te dra, om aan te pas by ’n ander kultuur eerder as om te verwag dat hulle by my aanpas. En ek het geleer om te bid, te vertrou en aan my Vader vas te hou.

Maak seker jy doen dit vir die regte redes. Dit is moeilik om alles agter te laat en weer van voor af te begin. Onthou ook dat alles verander – jy, die mense wat jy ken, en selfs die plekke wat jy mis. Wat jy agtergelaat het, bestaan nie meer presies soos toe jy vertrek het nie.

As jy hier aankom, moet jy leer om vir jouself ’n plekkie oop te grawe. Wees jouself, leer die mense dat daar nie ’n Engelse woord vir “lekker” is nie, en dat “nou-nou” en “net-nou” nie dieselfde tyd beteken nie!

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels