Boerebande in verre lande 14: Oom Paul se reisende Boerebrandwagte

09/02/2026
| Deur Alana Bailey
Boerebande in verre lande 14: Oom Paul se reisende Boerebrandwagte

Deur Alana Bailey

Verlede jaar was die Krugermonument op Kerkplein in die nuus weens die vandalisme waaronder dit deurgeloop het, AfriForum se projek om dit te beveilig en die oprigting van die replika van Oom Paul se standbeeld in Orania. Hoewel die monument op Kerkplein baie bekend is, besef min mense hoe ’n interessante geskiedenis dit het en dat die vier Boerebrandwagte wat Oom Paul omring, eens oor die Engelse platteland uitgekyk het!

Om by die begin te begin: Die skatryk sakeman Sammy Marks was ’n groot bewonderaar van Oom Paul. In die 1890s het hy aan hom en die uitvoerende raad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aangebied om op eie koste ’n monument vir Oom Paul te laat oprig. Hy het £10 000 daarvoor bewillig, wat destyds ’n fortuin was. Beeldhouer Anton van Wouw is vir die taak aangewys en het na Europa gereis om die standbeelde in Italië te voltooi.

Vir die ontwerp is besluit op ’n beeld van die ou president wat 4.04 meter hoog sou staan, omring deur vier sittende brandwagte wat elk 2.02 meter hoog sou wees. Twee van hulle moes in Voortrekkerdrag geklee wees en twee soos boere van die 1880s. Verder is besluit om vier bronspanele op die voetstuk van die monument aan te bring wat vier hoogtepunte uit Oom Paul se lewe sou uitbeeld. Die beelde is in Rome gegiet en toe per skip na Delagoabaai (vandag Maputo) vervoer, maar die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het intussen uitgebreek en alle planne om die monument te voltooi, is op ys geplaas. Die beelde het in die hawe gebly en Marks het belangstelling in die projek verloor. Toe dit blyk dat die Britte die oorlog gaan wen, het hy die beelde van die vier brandwagte aan lord Herbert Kitchener, opperbevelvoerder van die Britse magte, geskenk.

Kitchener het die vier beelde in 1902 na Engeland laat vervoer, waar hulle die volgende agtien jaar sou bly. Aanvanklik is hulle na die barakke van die Royal Engineers by Chatham geneem. Kitchener het aangebied dat die beelde as monument vir soldate wat in die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het, gebruik kon word. Onenigheid het losgebars onder die lede van die komitee wat oor die ontwerp van hierdie monument moes besluit. Van hulle het byvoorbeeld gevoel dat jy nie jou land se gesneuweldes kan vereer met standbeelde van die “vyand” wat boonop gewapend voorgestel word nie! Uiteindelik is ’n ereboog as monument by Chatham opgerig en die standbeelde is verder weg losstaande daarvan op voetstukke geplaas. Die monument is op 26 Julie 1905 deur koning Edward VII onthul.

In 1910 het Kitchener ’n landgoed naby Canterbury in Kent gekoop en twee van die beelde is daarheen verskuif, waar hulle in 1913 opgerig is. Intussen het die eerste premier van die Unie van Suid-Afrika, Louis Botha, egter gesprekke met Kitchener begin om te vra dat die beelde terugbesorg moes word. Dit was nie as ’n dringende saak beskou nie en die onderhandelinge hieroor het gesloer. Die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het sake verder vertraag, maar die militêre verhouding tussen die Britse en die Uniemagte het die Britte wel meer positief oor die versoeke gestem.

Teen 1920 het Jan Smuts, wat toe die Suid-Afrikaanse eerste minister was, aan Lord Alfred Milner, die Britse Staatsekretaris van Kolonies, geskryf om die saak weer te opper. Kitchener is intussen in 1916 oorlede en toestemming vir die terugbesorging van die beelde is dus van sy erfgenaam (sy neef, burggraaf Broome) en die Royal Engineers gevra. Al die betrokkenes het ingestem. Wat meer is, Brittanje sou vir die vervoerkoste betaal. In 1921 is die brandwagte amptelik aan Suid-Afrikaanse verteenwoordigers oorhandig en uiteindelik was die vier brandwagte op pad terug huis toe.

Intussen het die reuse beeld van Oom Paul in die hawe bly lê, totdat dit na onderhandelinge teruggekry en op 24 Maart 1913 in Prinsepark, Pretoria onthul is.

Met die terugkeer van die brandwagte het die stadsraad van Pretoria besluit om die saamgestelde monument met ’n marmer voetstuk op Stasieplein (met ander woorde voor die treinstasie) op te rig. Uiteindelik was die vyf beelde herenig en die monument is op 10 Oktober 1925, presies honderd jaar na die geboorte van Oom Paul, aldaar onthul.

Die langgekoesterde ideaal om die monument na Kerkplein te verskuif, het hierna gaandeweg meer steun verkry en op 10 Oktober 1954 is dit daar onthul met die voetstuk wat ons vandag ken. Pretorianers het dikwels gespot dat Oom Paul moeg gewag was vir die trein en toe Kerkplein toe is om ’n bus daar te haal!

Die detail van die standbeelde is merkwaardig – Van Wouw was betreklik onbekend toe hy die opdrag gekry het om hulle te maak. Sy taak is verder bemoeilik daardeur dat Oom Paul geweier het om vir hom te poseer en hy as’t ware die ou president moes agtervolg en afloer!

Deesdae word die monument deur ’n deursigtige metaalheining omring, maar bedags is die hek daarin meestal nie gesluit nie en kan die beelde van naderby bekyk word. Sekuriteitswagte hou toesig daaroor, maar nogtans kon vandale in 2025 weer eens groot skade daaraan aanrig. Fondse om dit na behore te restoureer, ontbreek nog.

Dit is tragies dat hierdie pragtige monument met die veelbewoë geskiedenis steeds só deurloop. AfriForum bedank ons lede wat dit moontlik gemaak het om tydelike beter beveiliging aan te bring. Enige skenkings aan ons erfenisprojekte sal ook aangewend word om meer permanente oplossings te vind, byvoorbeeld om kameras te installeer om die monument snags onder oë te hou. Skenkings kan betaal word aan:

Banknaam: FNB

Rekeningnaam: AfriForum MSW

Bankkode: 261550

Lopende rekeningnommer: 623 498 98 398

Verwysing: jou selnommer en “Oom Paul”

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels