Drie jaar anderkant die oseaan

15/06/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Drie jaar anderkant die oseaan

Deur Christa Diederiks

Vandag, drie jaar terug, groet ons van huis tot huis. Ons besittings in vyf tassies ingeprop. Versigtig optimisties sien ons uit na ’n lewe anderkant die oseaan tussen die lowergroen velde en heinings. Al kouend aan ’n laaste stukkie biltong, word daar gedruk en gesoen asof ons nooit weer ons mense gaan sien nie.

Die besluit was nie maklik nie en het stadig sy loop gevat na die nuwe jaar. Soos reeds eenkeer vantevore moes ons van alles ontslae raak. Vriend en vreemdeling het gevat en uitgedeel en ons gelos met enkele klere en sentiment om ons nuwe lewe te begin.

Die hartseer verlange het vlak kom lê en ons ’n paar keer sleg uitgevang in die laaste drie jaar.

Dit was drie moeilike jare met verskeie hindernisse. Van ’n kamer na ’n knus huisie, van niks tot weer te veel, het ons letterlik die heuwels en smal lanings getrotseer.

Maar die strome van seëninge soos die versekerde reën in Mieliemuur het gereeld oor ons gevloei. Ons het albei ’n goeie werk en my werk het ten spyte van my valle my geakkommodeer sodat ek van die af huis kon werk.

Ons het voertuie waarmee ons die see en mooi heuwellande kan verken en in ons huis het ons alles wat ons nodig het.

Stelselmatig maak ons nuwe vriende, maar die hunkering na ons taal en die lewe in sonskyn eis maar sy tol. Verlange na geliefdes vreet aan koue vingers en nat voete. Tog bou ons stadig maar seker ’n lewe hier tussen die groen bome, heuwels en lanings met ’n hart wat in twee wêrelddele klop, eintlik in meer as twee, want ons volwasse kinders en kleinkinders het hul nessies op drie verskillende kontinente gaan skrop.

Met ons Hemelse Vader pak ons die toekoms aan. Vol verwagting, vrede en hoop.

Oor die skrywer

Christa Diederiks is in Menlopark, Pretoria, gebore en het daar grootgeword, maar dit was die platteland en die Magaliesberge wat haar liefde vir die natuur en mense gevorm het. Sy en haar man, Johan, is albei net duskant 60 en het drie kinders grootgemaak. Vandag is hul kinders, kleinkinders en ander familie oor verskeie lande versprei – ’n werklikheid wat dikwels inspirasie bied vir haar skryfwerk.

Christa woon tans saam met haar man in Liskeard, Cornwall, Engeland – haar geliefde “Anderkantland”. Die ervarings van emigrasie, familie oor grense heen, die natuur en die mens se geestelike reis vind gereeld neerslag in haar gedigte en stories. Sy skryf hoofsaaklik vir Ink Skryf in Afrikaans en het ook vir die aanlyn tydskrif Kaleidoskoop geskryf.

Hoewel sy ook in Engels skryf, bly Afrikaans haar voorkeurtaal en die medium waardeur sy haar gedagtes en emosies die natuurlikste verwoord. Haar werk weerspieël die lewe se uitdagings, verlange en vreugdes, dikwels met ’n sterk persoonlike inslag.

Benewens haar skryfwerk is Christa werksaam as “Data Officer” by Looe Community Academy in Cornwall, waar sy verantwoordelik is vir die skool se databasis, roosters en verslagdoening. Sy en haar man is aktiewe lede van Grace Community Church Morval en geniet die rustiger ritme van die Corniese platteland.

Soos haar man graag opmerk, is Christa ’n vrou van baie woorde – iets wat gelukkig ook in haar skryfwerk tot sy reg kom.

Deel op

Nuutste artikels