’n Brief uit die buiteland: Die waarheid wat min mense oor immigrasie sal erken
Deur Carike Koen
Toe Carike Koen vier jaar gelede saam met haar man, haar hoërskoolliefde, en hul gesin die groot stap geneem het om na Auckland, Nieu-Seeland, te verhuis, het sy geweet emigrasie sou uitdagings inhou. Carike is in Pretoria gebore en het op De Aar grootgeword. Sy is ’n trotse ma met ’n diep liefde vir familie, geloof en haar geboorteland. Deesdae studeer sy regte, gedryf deur ’n passie om mense te help, terwyl sy steeds die eenvoudige dinge in die lewe koester – en geen Springbok-wedstryd misloop nie, al beteken dit sy moet voor hanekraai al wakker wees.
In hierdie eerlike brief deel Carike haar perspektief op emigrasie – nie die geromantiseerde prentjie wat dikwels op sosiale media uitgebeeld word nie, maar die werklikheid van aanpassing, verlies, groei en die belangrikheid van deeglike voorbereiding. Sy skryf openhartig oor die emosionele koste van emigrasie, die uitdagings van ’n nuwe begin en haar geloof wat haar deur moeilike tye dra.
‘n Mens sien dit deesdae oral: families wat “huis toe” trek, terug Suid-Afrika toe. Maar die vraag wat min mense hardop vra, is: was dit regtig uit vrye wil … of omdat daar nooit behoorlik beplan is nie?
Ons is nou al vier jaar in die buiteland, iets wat ek nooit gedink het ek eendag sou sê nie. Want die waarheid is: Ek is lief vir Suid-Afrika. Lief vir ons mense, ons humor, ons chaos, ons braaivleis en die manier waarop ons mekaar verstaan sonder om baie te sê.
Maar dan kyk ek na my kinders … En ek besef weer hoekom ons die besluit geneem het.
Immigrasie is nie ’n “Instagram-droom” nie. Dis nie mooi foto’s van groen gras, skoon strate en fancy koffiewinkels nie. Dis opoffering. Dis onsekerheid. Dis om jou hele identiteit weer van vooraf te moet bou in ’n land waar niemand jou storie ken nie.
En dis waar baie mense hulself misgis.
Ons sien gereeld jong Suid-Afrikaanse paartjies wat hier aankom met hope drome, maar sonder die feite. Hulle kom oor met hoop alleen, en hoop betaal ongelukkig nie rekeninge of visums nie en bied nie rus vir emosionele uitputting nie. Dan, ’n paar maande later, hoor jy:
Ons verkoop alles, ons gaan terug.
My gesin kan nie aanpas nie.
Die mediese goed werk nie uit nie.
Hulle erken nie my kwalifikasies nie.
Ons het gedink dit gaan makliker wees.
Die harde waarheid? Immigrasie straf mense wat nie hul huiswerk doen nie.
En tog kla mense steeds op sosiale media:
Immigrasiefooie gaan weer op.
Nou moet ons nog ’n toets skryf vir burgerskap.
Wat nog?
Maar die ding is: Jý het besluit om te kom. Elke land beskerm sy eie belange eerste. Hulle skuld niemand ’n maklike proses nie. Kla verander niks, voorbereiding wel.
Doen dit vir jou kinders. Doen dit vir veiligheid. Doen dit vir geleenthede. Maar doen dit met oop oë.
Maak seker jy verstaan die land se reëls.
Maak seker jou kwalifikasies is geldig.
Maak seker jy weet hoeveel dinge regtig kos.
Besef dit gaan soms báie alleen raak.
En die belangrikste: Besef wat dit emosioneel van jou gaan vat.
Want immigrasie voel baie soos rou.
Jy verloor nie net ’n land nie. Jy verloor mense. Gewoontes. Taal. Jou gunstelingwinkels. Die reuk van reën op warm teer. Sondae by familie. Jy verloor die gemak van bekendheid.
En dan leef jy vir ’n tyd tussen twee wêrelde: Nie meer heeltemal Suid-Afrikaans soos voorheen nie, maar ook nog nie heeltemal deel van jou nuwe land nie.
Dis ’n vreemde plek om te wees.
Sommige dae wil ek self net in trane uitbars. Ander dae wil ek ’n Kiwi m@er. Maar gelukkig verstaan die mense om my dit. Hulle gee my ruimte. Hulle verstaan daardie “af dae” waarvan niemand op Facebook praat nie.
Maar ten spyte van alles?
Dit ís die moeite werd …
As jy voorbereid kom.
As jy jou feite agtermekaar kry.
As jy besef daar gaan moeilike dae wees.
As jy bereid is om weer van onder af te begin.
En as jy met geloof deurdruk wanneer alles in jou wil opgee.
’n Mens bou mettertyd ’n nuwe “huis” sonder om die oue ooit regtig te verloor.
En dalk is dit die deel wat niemand jou vertel voor jy emigreer nie: Jy huil baie. Jy huil meer as ooit tevore. En dan besef jy wat ’n mooi land jy agtergelaat het. Dit is die moeilikste.
Maar hier staan Suid-Afrikaners saam. Ons help mekaar, ons lag saam, ons huil saam.
Doen jou huiswerk, dink aan die toekoms, huil as jy moet huil, maar onthou: Jy is nie alleen nie.
Groete uit die koue, nat Auckland
Carike Koen























