In vorige artikels het ons verwys na die kampe op Sint Helena (https://www.artikels.afriforum.co.za/boerebande-in-verre-lande-13-boeregrafte-op-st-helena/) en Sri Lanka (https://www.artikels.afriforum.co.za/die-boerebegraafplaas-en-gedenkteken-in-sri-lanka/) waar Boerekrygsgevangenes tydens die Anglo-Boereoorlog aangehou is.
Bermuda, ’n argipel wat uit 181 eilande sowat 1 035 km wes van die VSA bestaan, was die vierde buitelandse bestemming waarheen Boerekrygsgevangenes gestuur is. Nadat die Britse Imperiale Regering die besluit geneem het dat Bermuda van hulle sou huisves, is grondgebied hiervoor op verskillende eilande in die groep van die regering van Bermuda, die Britse Admiraliteit en privaat eienaars gehuur. Op 26 Junie 1901 het die eerste skip met 963 manne en seuns aan boord, daar aangekom.
Uiteindelik is meer as 5 000 krygsgevangenes daar aangehou. Volgens ’n artikel van Thomas V. James op TheBermudian.com, was die oudste van hulle 80. Dit het ook ongeveer 180 seuns van tussen 6 en 16 ingesluit. Van dié seuns is in Maart 1902 na ’n kosskool op Hinson se Eiland oorgeplaas.
Dit is merkwaardig dat omvattende, netjiese kampe binne enkele maande voorberei kon word. Watervoorsiening op die klein eilande was ’n uitdaging en watertenks en distilleertoerusting is in die kampe opgestel. Wagte én gevangenes is in klokvormige tente gehuisves. Die toestande in die kampe was redelik goed en die sterftes beperk tot 35, waarvan 34 van natuurlike oorsake oorlede is en een tydens ’n ontsnappingspoging noodlottig verwond is. Die siektes waaraan die 34 oorlede is, sluit longontsteking, tering, maagkoors en hartkwale in.
Die slagoffer van die mislukte ontsnappingspoging was die 16-jarige Hendrick Frederick Bosch, beter bekend as Henkie. Sy vader was ’n Nederlandsgebore prokureur wat hom en sy gesin jare tevore in Pretoria gevestig het. Tydens die oorlog het die vader in Pretoria gebly, maar Henkie het op 13-jarige ouderdom by die Pretoria Kommando aangesluit. Hy is op 6 Januarie 1900 tydens ’n geveg naby Ladysmith in Natal, gewond. Skynbaar het hy daarna huis toe gegaan. Hy is op 5 Junie 1901 in Pretoria gevange geneem en na Bermuda gestuur. Volgens getuies het ’n Britse wag daar gedurig aan die krygsgevangenes te kenne gegee dat hy enigeen sou help om te ontsnap. Die Boere wou hom aanvanklik nie glo nie, maar op die aand van 28 April 1902 het hy ’n teken gegee dat dit veilig was om uit die kamp te glip, waarop Henkie die kans gewaag het as eerste van ’n groep. Hy het in die doringdraad om die kamp verstrengel geraak en is daar doodgeskiet. Sy tragiese dood, so kort voor die vredesluiting, was ’n geweldige skok vir sy ouers en sy pa is op die vroeë ouderdom van 43-jaar op 29 Desember 1902 na ’n beroerte oorlede.
Die mees berugte krygsgevangene te Bermuda was waarskynlik Fritz Joubert Duquesne, vandag bekend as spioen, oorlogskorrespondent, jagter en bedrieër. Volgens sy eie vertellings het hy van Bermuda na die VSA ontsnap, waar hy in 1913 burgerskap aanvaar het. Na vele avonture is hy in 1941 deur die FBI in hegtenis geneem as die leier van wat tot op daardie datum die grootste spioenasienetwerk in die VSA se geskiedenis was. Hy is in 1954 op grond van swak gesondheid vrygelaat en is twee jaar later in New York oorlede.
Verveling is altyd ’n groot probleem onder mense in aanhouding en die krygsgevangenes het hulle onder meer besig gehou met handwerk en sport. Voorbeelde van hulle krygsgevangenekuns kan steeds in Bermuda se Nasionale Museum gesien word. ’n Tennisbaan is selfs op Burt se Eiland geskep. Die Transvalers en Vrystaters het bedags relatiewe vryheid geniet, maar die Kaapse Rebelle moes dwangarbeid in ’n steengroef verrig.
’n Maandverslag van Desember 1901 wat in die Britse Nasionale Argief bewaar word, vertel meer oor die mense se ingesteldheid in die kampe. In dié verslag berig majoor L.E. Morrice (assistent-adjudant-generaal vir krygsgevangenes) aan sy eksellensie generaal sir Ge Digby Barker (bevelvoerder van die troepe in Bermuda) dat hoewel die meerderheid van die burgers van die Boererepublieke waarskynlik aan die einde van die oorlog bereid sou wees om hul aan Britse bewind te onderwerp, hul harte by hul verlore republieke sou bly. Hy was seker dat hulle altyd die hoop sou koester om hul onafhanklikheid terug te kry. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat hul nasionalisme alles behalwe geblus was.
’n Skrale elf maande na hulle aankoms, is vrede gesluit en het die kampe begin leegloop. Krygsgevangenes wat self hul passaat kon betaal, het reeds kort na die vredesluiting vertrek, ander moes op vervoer wat die Britte voorsien het, wag. Die laaste van hierdie skepe het op 21 Januarie 1903 na die Kaap vertrek. Diegene wat geweier het om die eed van getrouheid aan Brittanje af te lê, het op die eilande gebly. Hulle het stelselmatig weggetrek en teen 1910 was net 9 van hulle oor. Geen nageslag van die Boere word vandag op die eilande aangetref nie. Hoewel selfs weinig tekens van die kampe nog gevind kan word, het inwoners hierdie stukkie geskiedenis in Bermuda se bestaan deeglik gedokumenteer en bied die Nasionale Museum uitstallings daaroor aan.
Verder roep ’n gedenkteken hulle verblyf aldaar in herinnering. Kort nadat vrede gesluit is, het die Boere naamlik besluit om ’n gedenknaald ter herdenking aan hul gestorwe makkers in die begraafplaas op Long Island op te rig. Individuele grafte is ook met grafstene aangedui. Die gedenknaald is met die volle ondersteuning van die Britse militêre owerheid opgerig. Daar is met die komitee wat vir die restourasie van die plaaslike katedraal verantwoordelik was, geskakel, en die naald is in 1903 deur die biskop van Newfoundland en Bermuda ingeseën. Dit is uit “Nova Scotia Freestone” gekap, met ’n voetstuk van Bermuda-kalkklip. Die name van die 35 gestorwenes, asook van ander krygsgevangenes wat tydens die vaart na Bermuda omgekom het en ter see begrawe is, kom daarop voor. Gedurende die apartheidsera is die Boerebegraafplaas en gedenknaald verwaarloos, maar in 1997 het plaaslike eilandbewoners David Lines en Andrew Bermingham, Bermuda se Nasionale Trust en die Suid-Afrikaanse regering saamgespan om dit op te knap. Die gebreekte en verbrokkelende grafstene is vervang. Twee van die oorspronklike stene word deur die museum van Bermuda se Historiese Vereniging bewaar – een daarvan is dié van Henkie Bosch.
Die feit dat die plaaslike inwoners soveel sorg wy aan die enkele spore wat van die Boerekrygsgevangenes oorgebly het, is verblydend. Ten spyte van hul kort en hartseer verblyf op die eilande, is hulle nie vergete nie.
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels



















