Deur Willem Wynand Van Aswegen
Emigrasie verander baie dinge – jou adres, jou omgewing en jou daaglikse ritme. Maar soms verander dit ook iets diepers: hoe jy jouself sien, en hoe die wêreld jou sien. Skielik is jy nie meer die persoon met ’n bekende naam, geskiedenis en plek nie. Jy is iemand wat weer moet begin, weer moet bewys, weer moet behoort.
Vir baie Suid-Afrikaners in die buiteland is dit nie net ’n fisiese reis nie, maar ook ’n innerlike een. ’n Reis van identiteit, aanpassing en die stil vraag wat soms onverwags opduik: Wie is ek nou?
In hierdie eerlike en aangrypende bydrae deel Willem Wynand van Aswegen die storie van hom en sy gesin. Dit is ’n verhaal van verlies en groei, van trots en aanpassing, en van die nuwe maniere waarop ons ons erfenis aan die volgende geslag oordra.

Vyf-en-twintig jaar gelede het ons ons lewens in tasse gepak en Suid-Afrika agtergelaat.
Soos baie families het ons nie net ’n plek verlaat nie, ons het ’n storie agtergelaat.
In ons geboorteland het mense geweet wie ons is.
Ons werk, ons familie, ons geskiedenis … dit alles het betekenis gehad.
Ons het behoort, sonder om onsself te verduidelik.
Maar in ’n nuwe land het alles verander.
Skielik het niemand ons name geken nie.
Niemand het ons verlede geken nie.
Ons moes weer van voor af begin — nie net in lewe nie, maar in identiteit.
Ek deel graag ons eie storie.
Ja, ons aanpassing was, en is, uniek.
Ek het dit probeer verwoord in ’n liedjie: “Wie is jy?”
’n Mens beplan, maar dan tref die realiteit jou voor die bors.
Die mense kon nie my name uitspreek nie.
Gelukkig was “Willem” nie vir hulle vreemd nie.
Maar my van, en my noemnaam – Wynand – het hulle regtig laat sukkel.
Jy sal nie glo watter impak dit kan hê nie.
Jy stuur CV ná CV… en niks gebeur nie.
Tot op ’n dag wat ek besluit het om ’n Engelse van te gebruik.

Man, binne minute het hulle teruggebel.
Maar dit het my skuldig laat voel …
amper asof ek “under cover” werk.
Daardie dag het ek besluit:
My van is my van.
My kultuur is my kultuur.
Ek het toe maar my trots in die sak gesteek.
Met ’n meestersgraad … het ek taxi’s begin ry.

En daar, tussen vreemdelinge, het ek begin leer.
Ek het geluister. Ek het gevra. Ek het gesels.
Tot op ’n dag toe iemand my ’n eenvoudige “resep” gegee het:
Doen aansoek vir ’n tydelike pos,
’n kontrak van ’n paar maande …
verkieslik een wat niemand anders wil hê nie.
Ek het dit gedoen.
En siedaar – my eerste werk: ’n maand kontrak.
Halfpad deur sê hulle: Maak dit drie maande.
Ek stem in.
En teen die einde kry ek ’n kontrak vir ’n jaar.
Dit was ’n nagmerrie-geleentheid.
Ek was veronderstel om ’n besigheidsintelligensieprojek se resultate uit te rol.
Maar teen die einde van die dag moes ek erken: Niks was regtig gelewer nie.
En dit het hulle miljoene gekos.
En tog …
Dit was deel van die reis.
Jare het verbygegaan.
Ons het ’n nuwe lewe gebou.
Ons het aangepas, gewerk, en stadig ons plek gevind.
Vandag is ons familie gevestig.
Ons kinders het grootgeword.
En nou is daar ’n nuwe geslag – ons kleindogter.
Een dag terwyl sy swaai op die swaai haak sy af en sy sing vir my die koorgedeelte van “We are Australian” deur The Seekers.

En in daardie oomblik het iets binne my verskuif. Ja, ek het ’n traan of twee weggevee.
Daar was vreugde, maar ook iets diepers.
Want in haar stem hoor ek beide
waar ons vandaan kom …
en waar ons nou is.
Dis hoekom ek liedjies skryf soos “Wie is jy?”
Liedjies oor daardie stil vraag wat baie mense dra:
Wie is jy …
wanneer niemand jou storie ken nie?
Miskien lê die antwoord nie net in waar ons begin het nie …
of selfs waar ons nou is nie.
Miskien lê dit dieper:
In waardes, in karakter, in waarheid.
En miskien verloor ons kinders en kleinkinders nie ons storie nie.
Hulle dra dit net anders –
in nuwe woorde, nuwe liedjies … en ’n nuwe begin.
Volg Willem Wynand se platforms hier:
https://sites.google.com/view/trippledoor/home
Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.
Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.
Lees ook: Suid-Afrika verlaat



















