Natuurhoekie 80: Op Vlerke oor die luiperd se groot skrik

02/07/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Natuurhoekie 80: Op Vlerke oor die luiperd se groot skrik

Deur André Christof

André (skrywer van die Op vlerke-reeks boeke oor die natuur) en sy vrou Kate besoek graag die Nasionale Krugerwildtuin. Een van hierdie besoeke het heelwat opwinding veroorsaak, soos hy self vertel:

Na ’n oornagbesoek aan Letaba-ruskamp, hou ek en Kate een oggend op pad na Skukuza, so agt kilometer suid van die Olifantsrivier, by Ngotso-Noord-watergat stil en beloer ’n swartaasvoël wat ’n hele ent weg, links van die pad, langs die suiping in die veld staan, sy kop tussen sy skouers ingetrek.

Dit is ’n indrukwekkende aasvoël met ’n massiewe krom, skerpgepunte, gelerige snawel, die grootste aasvoël in die streek. Hy het ’n bloedrooi kaal kop en nek, velvoue op- en aan die kante van sy kop, groot vlesige velvoue aan weerskante van sy nek, lang vere op sy kraag. Die oorwegend swart voël het ’n witgestreepte bors met ’n wit “broek”, kaal wit bene wat afsteek teen die donker lyf en ondervlerke, asook kragtige sterk geboë kloue.

Later stap hy na die suiping toe, klim op die sementwal, die lang wye vlerke in ’n V bokant hom uitgestrek, die wit strook oor die voorste deel van sy ondervlerk duidelik sigbaar, dan, terwyl hy so balanseer en met die pote trap-trap, gly hy in die water in.

Daar staan hy nou vir ’n tyd doodstil, die vlerke nog steeds oopgevou, dan loop hy so ’n entjie vorentoe, klim teen die kant uit, nie lank nie, maak hy sy vlerke toe, nou begin hy met sulke lang treë draf, klap sy vlerke, stadig en diep, en eindelik styg hy in die lug op.

’n Paar kilometer verder nader ons die Ngotso-rivier, wat links van die pad verby kronkel. Weerskante van die pad is die veld groen, lig bebos. Bome staan ’n hele ent weg langs die rivier af, heelparty met veelvuldige stamme.

Ons ry nou stadig, soos ons dan links, dan regs, beloer.

Nie lank nie, sien ons ’n beweging in die lang grasse regs van die pad. Nou ry ons éérs stadig, soek, fynkam …

Dan gewaar ons op ’n plek, so twintig meter van die pad af, waar enkele bome staan, wéér ’n beweging, ’n geelbruin kleur, ook net vir ’n breukdeel van ’n sekonde. Die volgende oomblik spring ’n luiperd soos blits in ’n boom, skarrel vervaard teen die takke op.

Nou probeer die luiperd staanplek kry, maar daar is nie ’n tak wat dwars lê om op te staan nie, almal loop skuins op boontoe, dus sukkel die jong wyfie.

Later klim sy hoër op, daar waar die boom vertak, toe gaan sit sy in ’n mik, maar sy sit nie werklik ín die mik nie, sy sit so amper ’n meter bókant die mik. Haar agterpote hang weerskante van die tak aan haar voorkant af, sy sit vooroor gebuk met die tak wat links onder haar ribbekas verby, op loop boontoe. Haar linkerboud druk teen die tak agter haar vas – só sit sy nou daar ingewig, dan stut sy, met ’n voorpoot skuins ondertoe gestrek, teen ’n mik regs voor haar.

En wát van ’n pragdier is sy, die pels so sag. Die bors, laer hals, pens en binnekante van die bene is wit met swart kolle op, die aarbeivormige kolle op die bors en laer hals wat saamsmelt om ’n kraag te vorm, so ook het die geelbruin van die kop en onderste ledemate swart kolle op, met swart kolle in die vorm van rosette op die res van die lyf se geelbruin pels.

’n Mens kry haar jammer soos sy daar, ’n entjie van ons af sit: Die manjifieke, elegante dier met die lang wit snorbaarde lyk skoon verwese met haar geel oë wat so voor haar uit staar.

Elke nou en dan probeer sy met haar agterpote vastrap om van posisie te verander, maar na ’n gesukkel bly sy in die “mik” vooroor gebuk, lê-sit.

’n Mens kan sien hierdie was nou verseker nie die beste boom wat die jong dier in haar haas kon kies nie, ook nie een met die dikste stam of takke nie, maar daar was ook nie tyd nie, sy wou net so vinnig as moontlik van die grond af kom.

Soos die luiperd daar sit, sien ons sy kyk elke nou en dan oor die veld agter haar uit. Nou soek ons of ons kan sien waarna sy kyk. Later gewaar ons ’n hele ent weg ’n paar leeuwyfies wat onder bome met veelvuldige stamme in die lang grasse lê. Net hul koppe steek so effe uit, maar hulle lê met hul rûe na die pad gekeer, kyk oor die veld voor hulle uit, en dit lyk nie of hulle enigsins belangstel, of van haar bewus is nie.

Later raak die luiperd moeg van so ongemaklik in die “mik” sit, die bek oop soos sy nou al hard asem haal. Sy verplaas haar pote, kom regop, gaan staan sodat sy op twee afsonderlike takke vastrap.

Nou draai sy eers weer haar kop, kyk na die leeus se kant, doer ’n ent weg agter haar, draai terug, dan kyk sy na die veld onderkant die boom. Die volgende oomblik kom sy met ’n spoed uit die boom af grond toe, beweeg vinnig, laag op die grond, deur die gras, gaan oor die pad en verdwyn binne ’n oogwink in die lang grasse aan die anderkant.

Tien interessante feite oor luiperds:

  • Luiperds is oorwegend alleenlopers – hulle soek meestal net in paartyd mekaar se geselskap op, of wanneer hulle hul kleintjies grootmaak.
  • Hulle kan 12 tot 17 jaar oud word.
  • Hulle is nie so vinnig soos jagluiperds nie, maar kan tot 58 km per uur hardloop.
  • Hulle kan tot 6 meter ver spring.
  • Hulle eet nie net vleis nie, maar ook selfs insekte en vis.
  • In die dag rus hulle gewoonlik, maar in die nag beweeg hulle rond en jag.
  • Twee tot drie kleintjies word op ’n keer gebore.
  • Moeders bly twee jaar lank by hulle kleintjies, waarna hulle hul eie koers gaan.
  • Die kolle op hul lywe word “rosette” genoem, omdat dit roosvormig is.
  • Daar is ’n wiskundige formule vir die kolle op ’n luiperd – die kolle is nie sommer lukraak daar nie! Lees gerus meer hieroor by https://www.bbcearth.com/news/the-maths-behind-a-leopards-spots.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels