SA Kiwi Chicks: Waar ons lekker kuier in Afrikaans

03/08/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
SA Kiwi Chicks: Waar ons lekker kuier in Afrikaans

Deur Lijlanie Viljoen

Emigrasie is baie meer as ’n verandering van adres. Jy pak nie net jou tasse nie; jy pak jou lewe in bokse. Familie, vriende, bekende geure, jou gunstelingslaghuis (en Florence – jou beste vriendin en huishoudster) – alles bly agter. In die begin voel emigrasie soos ’n mallemeule waarop jy skaars tyd kry om asem te skep.

My fokus was aanvanklik heeltemal op my kinders. Ek wou seker maak hulle pas aan, maak nuwe maatjies en voel gelukkig in hulle nuwe land. Toe, omtrent ’n jaar later, kyk ek een oggend vir myself in die spieël en vra: ‟En jy? Hoe gaan dit eintlik met jóú? Het jy al aangepas?”

Daardie vraag het my laat besef dat baie Suid-Afrikaanse vroue waarskynlik dieselfde beleef. Ons is dikwels só besig om vir almal anders ’n tuiste te skep dat ons vergeet om ook vir onsself een te bou.

So is SA Kiwi Chicks in 2013 gebore. Saam met twee vriendinne het ons ’n nie-winsgerigte netwerk vir Suid-Afrikaanse Christen-vroue begin – ’n plek waar ons mekaar kon ondersteun, aanmoedig en herinner dat niemand alleen deur emigrasie hoef te stap nie.

Ons droom was eenvoudig: om ruimtes te skep waar Suid-Afrikaanse vroue weer tuis kon voel, bemoedig kon word en sommer net kon lekker kuier in Afrikaans.

Terloops … het jy al ooit probeer om “lekker kuier” in Engels te vertaal? “Have a nice social gathering” klink soos iets waarvoor jy ʼn vorm moet invul! Nee wat, ‟lekker kuier” bly maar een van daardie eg Afrikaanse uitdrukkings wat liefs nie vertaal wil word nie.

By SA Kiwi Chicks vier ons ons kultuur, deel ons ons geloof en bemoedig ons mekaar terwyl ons die uitdagings van emigrasie saam aanpak. Ons inspirasie kom uit Markus 16:15: ‟Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.” Ons glo God plant ons nie per ongeluk op ’n plek nie. As Hy ons na Nieu-Seeland geroep het, is daar ook ’n doel daarmee.

Daarom het ons byeenkomste nog nooit net oor melktert, boeretroos en vetkoek gegaan nie – al help dit beslis! Ons fokus bly die hart van elke huisgesin: die vrou. Wanneer sy emosioneel, geestelik en prakties versterk word, vloei daardie invloed na haar gesin, haar vriende en haar gemeenskap.

Oor die jare het ons talle geleenthede aangebied waar vroue kon ontspan, bederf word, saam lag, saam huil, saam bid en nuwe vriendskappe bou. Die spesiale geskenkies waarmee ons elkeen bederf het, was nooit oor die geskenk self nie; dit was ’n herinnering dat elke vrou kosbaar is. Vandag koördineer ek steeds ons jaarlikse bederfgeleenthede.

Een van die grootste verrassings was hoe die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap in Nieu-Seeland hierdie visie omarm het. Sake-eienaars het as borge ingetree en gehelp om geleenthede moontlik te maak. Só het ’n netwerk ontstaan waar mense mekaar se drome ondersteun en mekaar se laste help dra.

Meer as ’n dekade later glo ek steeds dat gemeenskap een van God se mooiste geskenke is. Al woon ons duisende kilometers van Suid-Afrika af, hoef ons nooit ver van ons mense of ons identiteit te wees nie. Waar Suid-Afrikaners mekaar met oop harte ontvang, word vreemde plekke verrassend vinnig tuistes.

SA Kiwi Chicks was nog altyd meer as ’n organisasie. Dit is ’ bewys dat God gewone mense gebruik om buitengewone verskil te maak. Soms begin dit alles bloot met ’n koppie koffie, ’n lekker kuier in Afrikaans … en iemand wat vir jou sê: ‟Welkom. Jy hoort ook hier.”

Loer gerus in by www.facebook.com/SaKiwiChicks en lees meer oor ons Selfsorg-damestee wat op 19 September 2026 plaasvind.

Lijlanie Viljoen

Koördineerder: SA Kiwi Chicks

Deel op

Nuutste artikels