AfriForum lê argumente teen Onteieningswet in Kaapse Hooggeregshof voor

03/08/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
AfriForum lê argumente teen Onteieningswet in Kaapse Hooggeregshof voor

AfriForum se hofstryd om die grondwetlikheid van die Onteieningswet uit te daag, het vandag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad begin. Verskeie applikante en respondente is by hierdie saak betrokke. AfriForum het as een van die applikante in die saak vandag begin om sy saak te stel. Die burgerregteorganisasie se regspan sal môre voortgaan om verdere argumente voor te lê.

AfriForum het vandag in die voorlegging van sy argumente daarop gefokus dat artikels 12(3), 12(4) en 19(8) van die Onteieningswet geskrap en artikel 19(2) weens die ongrondwetlikheid daarvan gewysig moet word.

Die organisasie se regspan het benadruk dat artikels 12(3) en 12(4), wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak, strydig is met artikel 25 van die Grondwet en daarom uit die wet geskrap moet word.

Daarbenewens is daarop gewys dat artikels 19(2) en 19(3) onteiening toelaat voordat vergoeding ooreengekom of deur ’n hof beslis is. President Cyril Ramaphosa het reeds in Oktober verlede jaar in sy beantwoordende verklaring erken dat dié artikels van die wet ongrondwetlik is. AfriForum vra dat hierdie artikels terugverwys word na die parlement vir ’n behoorlike herformulering en is bereid om ’n tussentydse inleesbevel (reading-in order) te aanvaar sodat vergoeding ooreengekom of deur ’n hof bepaal moet word voordat onteiening plaasvind.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het AfriForum se regspan dit vandag duidelik voor die hof gestel dat onteiening sonder vergoeding ongrondwetlik is. “Aangesien disrespek vir eiendomsreg katastrofiese gevolge vir die land en sy mense kan inhou, staan AfriForum gereed om hierdie saak enduit te beveg met alles tot ons beskikking,” beklemtoon Kriel.

Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van openbare betrekkinge, was ook vandag in die hof. “Die hofsaal in die Hooggeregshof in Kaapstad was vandag stampvol gepak met bondgenote en teenstanders van die reg op privaat eiendom. Dis bemoedigend dat AfriForum nie alleen veg vir die beskerming van dié reg nie,” sluit hy af.

Die saak duur tot Vrydag 7 Augustus.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels