AfriForum pak Onteieningswet vanaf Maandag in die Kaapse Hooggeregshof

02/08/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
AfriForum pak Onteieningswet vanaf Maandag in die Kaapse Hooggeregshof

AfriForum se hofaansoek om sekere dele van die Onteieningswet, wat onder meer onteiening sonder vergoeding moontlik maak, ongrondwetlik te laat verklaar, word van Maandag (3 Augustus) in die Hooggeregshof in Kaapstad aangehoor. IRR Legal, ’n afdeling van die Instituut vir Rasseverhoudinge, het intussen as mede-applikant tot AfriForum se saak toegetree.

AfriForum het president Cyril Ramaphosa, die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, die speaker van die nasionale vergadering en die voorsitter van die nasionale raad van provinsies as respondente tot die saak gevoeg, waarna die EFF en die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling aansoek gedoen het om ook as respondente toegelaat te word. Die DA en die Vaderlandstigting se afsonderlike hofaansoeke teen die Onteieningswet word saam met dié van AfriForum en IRR Legal aangehoor.


Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, oor die organisasie se hofsaak teen die Onteieningswet

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sy organisasie ’n topregspan aangestel wat gereed is om die Onteieningswet met mening te beveg in die hof. “Dit is nie net in belang van grondeienaars dat onteiening sonder vergoeding beveg moet word nie. Dit is in belang van almal in die land. Die Zimbabwe-voorbeeld wys baie duidelik watter vernietigende uitwerking die miskenning van eiendomsreg op ’n land en al sy mense het. Die enigste mense wat voordeel sal trek uit dié wet is ’n klein groepie politieke elite. Intussen sal die armes – wat valslik voorgehou word as diegene wat bevoordeel sal word – ook hard getref word deur werkloosheid, hiperinflasie en groeiende armoede. Die miljoene Zimbabwiërs wat weens armoede uit Zimbabwe na Suid-Afrika vlug, is ’n bewys van watter vernietigende uitwerking die miskenning van eiendomsreg op almal het,” verduidelik Kriel.

Kriel wys daarop dat die toepassing van die Onteieningswet in sy huidige formaat wydlopende implikasies sal hê. ’n Voorbeeld daarvan is dat ’n grondeienaar se grond sonder vergoeding onteien kan word voordat ’n hof die geldigheid van die onteiening en die onteieningsbedrag bepaal het. ’n Grondeienaar – wat dan rééds sy grond en inkomstebron verloor het – sal derhalwe vir sowat vyf jaar lank op eie koste in die howe moet veg om die onteiening te betwis omdat dit jare vat om ’n bestrede saak voor die hof te kry. “Die meeste grondeienaars sal doodeenvoudig nie die fondse hê om betrokke te raak in ’n uitgerekte hofstryd teen die staat wat met belastingbetalers se geld litigeer nie,” voeg Kriel by.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, het die ANC se topleierskap dit reeds herhaaldelik duidelik gemaak dat hulle toegewy bly aan hul missie van onteiening sonder vergoeding. “Die enigste ding wat in hul pad staan is hierdie hofsaak,” sluit hy af.

AfriForum se argumente in die hof

AfriForum argumenteer dat artikel 12(3), 12(4) en 19(8) van die Onteieningswet geskrap en artikel 19(2) gewysig moet word omdat die genoemde artikels ongrondwetlik is.

Artikels 12(3) en 12(4) is volgens AfriForum daarop gemik om onteiening sonder vergoeding moontlik maak, ondanks die feit dat dit strydig is met artikel 25 van die Grondwet wat bepaal dat onteiening onderhewig is aan onder meer regverdige en billike vergoeding. Die ANC se pogings om die Grondwet te wysig het misluk. Daar word egter nou volgens AfriForum gepoog om die Grondwet op ’n onregmatige wyse te omseil deur ongrondwetlike wetgewing.

Artikel 12(3) van die wet lys ’n aantal voorbeelde van gevalle van onteiening waar geen vergoeding hoef te geld nie. Deur die gebruik van die woorde “insluitend, maar nie daartoe beperk nie” word dié lys egter oop gelaat met geen beperking op die gevalle waar onteiening toegepas kan word nie. AfriForum voer aan dat dit ongrondwetlik is. Die organisasie hou vol dat dié artikel selfs munisipaliteite sal toelaat om hul eie redes vir onteiening sonder vergoeding te versin en grond sonder vergoeding te onteien vóór die saak nog in die hof getoets kon word. AfriForum se standpunt is dat vergoeding altyd kragtens artikel 25 van die Grondwet bepaal moet word, met inagneming van die feite van die betrokke saak, hetsy deur ooreenkoms tussen die partye of deur die howe, en nie deur oop wetgewende kategorieë nie.

AfriForum se hofaansoek wys ook uit dat artikels 19(2) en 19(3) strydig is met artikel 25 van die Grondwet, omdat dié artikels dit moontlik maak om grond te onteien voordat ’n vergoedingsbedrag ooreengekom is of ’n hof daaroor beslis het. Die president én die speaker het volgens AfriForum in wese die ongrondwetlikheid van die artikels in hul hofstukke erken deur voor te stel dat ander bewoording in die artikels ingelees word. AfriForum vra dat hierdie artikels terugverwys word na die parlement vir behoorlike herformulering. Hangende daardie wysiging is AfriForum bereid om ’n tussentydse inleesbevel (reading-in order) te aanvaar, in ooreenstemming met die president se voorgestelde benadering, sodat vergoeding ooreengekom of deur ’n hof bepaal moet word voordat onteiening plaasvind.

In AfriForum se hofstukke word ook aangevoer dat artikel 19(8) ook uit die wet geskrap moet word. Hierdie artikel bepaal dat, ondanks artikel 18 van die Wet op Hoër Howe, ’n appèl teen ’n hofbeslissing oor vergoeding nie die onteienende owerheid verhinder om met die onteiening voort te gaan nie. Dit is ’n irrasionele en onnodige inmenging met die sorgvuldig geformuleerde artikel 18 van die Wet op Hoër Howe en die onderafdelings daarvan wat onder meer voorsiening maak dat uitsprake hangende ’n appèlaansoek op ys geplaas word.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels