Uit en tuis: ’n Lewe in Nederland met Suid-Afrika in die hart

22/10/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
9e176be6-31ef-4d1d-8e5a-4467434bc759

Van Stoffberg en Pretoria, via Nieu-Seeland, tot in Nederland: Jacques en Christian se pad het hulle al ver van hul mense af geneem. Vandag woon hulle in Almere, waar hulle nuwe gewoontes leer ken en die geleentheid benut om Europa te verken. Tog verlang hulle steeds na donderstorms, spontane kuiers en ’n braaivleisvuur met familie rondom hulle.

Ons het met hulle gesels oor hul lewe in Nederland, die aanpassings wat dit verg en waarom Suid-Afrika steeds vir hulle huis bly.

Waar in Suid-Afrika kom julle oorspronklik vandaan, en waar woon julle tans?

Jacques kom van Stoffberg in Mpumalanga en Christian van Pretoria. Ons woon tans in Almere, naby Amsterdam, in Nederland.

Hoe lank woon julle al in die buiteland, en voel dit teen hierdie tyd soos huis?

Ons het eers drie jaar in Nieu-Seeland gewoon en is nou net meer as ’n jaar in Nederland.

Dit voel nog nie heeltemal soos huis nie. Die kultuur en leefstyl verskil baie van dit waaraan ons in Suid-Afrika gewoond was. Ons pas aan, maar mis steeds die bekende.

Wat was julle eerste indruk van Nederland?

Ons was beïndruk met die stiptelike openbare vervoer. Die mense was baie behulpsaam met ons verblyfpermitte, en die gemeente, soos die munisipaliteit hier genoem word, het ons met die nodige reëlings gehelp.

Ons omgewing was skoon en netjies. Dit het ons laat dink: Hier kan ons dalk tuis raak.

Het julle ’n kultuurskok ervaar, en wat het julle die meeste verras?

Beslis! Mense is hier baie ruimdenkend, en jy raak gewoond aan dinge wat jy nie noodwendig elke dag in Suid-Afrika op straat sou sien nie. Die openlike gebruik van dagga was byvoorbeeld vir ons ’n skok. Dit voel soms of niemand eens daarna oplet nie.

In die werksomgewing ervaar ons ook dat jy dikwels steeds die ekspat bly, al probeer jy hard om deel van die omgewing te word.

Die eetgewoontes verskil heelwat van ons s’n. Daar word nie elke aand gebraai nie, en vleis is nie noodwendig boaan die inkopielys nie. In die winkels kom ons steeds produkte teë waarvan ons nie mooi weet hoe om dit te gebruik nie.

’n Tradisionele gereg is stamppot: kapokaartappels waarin groente en ander bestanddele ingemeng word.

Hoe verskil die klimaat van dit waaraan julle gewoond was?

Die somermaande, van Junie tot Augustus, is baie lekker. Dit kan warm en bedompig raak. Vir ons voel 30 °C in Nederland soms soos 40 °C in Durban!

Die winter kry ons egter onder. Dit is grys, reënerig en bitter koud, en wanneer dit sneeu, voel ons dit behoorlik. Ons huis se verwarming is byna ses maande van die jaar aan. As jy openbare vervoer gebruik, moet jy die koue trotseer en behoorlik aantrek.

Hoe vergelyk behuising daar met dié in Suid-Afrika?

Die huise wat ons hier teëkom, is dikwels klein en naby aan mekaar. Die trappe is smal en steil, en die slaapkamers en badkamers is kompak. Jy is gelukkig as jy ’n slaapkamer van drie by drie meter kry!

Baie wonings het ook nie die soort buitekuierplek waaraan ons gewoond is nie. Jy kan nie aanvaar dat daar plek vir ’n braai sal wees nie.

Huur is ’n groot uitgawe. Volgens ons ervaring kan dit maklik tussen €1 400 en €2 600 per maand beloop, met elektrisiteit, water en munisipale heffings wat nog bykom. Daarom begin baie mense met ’n kleiner woonstel.

As jou woning sy eie parkeerplek het, is dit ’n groot bonus. ’n Motorhuis is beslis nie vanselfsprekend nie.

Hoe werk vervoer waar julle woon?

Jacques werk sowat 10 km van die huis af en Christian ongeveer 25 km. Ons het ’n maatskappymotor waarmee Christian daagliks werk toe ry.

Jacques gebruik soms openbare vervoer. Hoewel sy werk net 10 km ver is, kan die rit met openbare vervoer tot ’n uur en ’n half neem.

Hoe verskil inkopies en supermarkte van dié in Suid-Afrika?

Vir ons kom die winkels hier nie naby ’n goeie Checkers of Spar nie. Die groente-afdelings voel kleiner en die keuse is dikwels meer seisoenaal.

Vleis is duur en die snitte verskil van dit waaraan ons gewoond is. Vir ’n goeie steak gaan ons eerder na ’n slaghuis, maar ons het al pryse van sowat €40 vir ’n stuk van 500 g gesien.

Ons besef nou hoe bederf ons in Suid-Afrika was met die verskeidenheid kos en produkte.

Watter plaaslike gereg het ’n gunsteling geword?

Erwtensoep, ’n dik groenertjiesop, is heerlik in die winter. Dit vervang darem nie jou ma se groentesop nie!

Hoe ervaar julle toegang tot dokters, tandartse en ander professionele dienste?

Ons het dit redelik maklik gevind om by die nodige dienste aan te sluit nadat ons ons BSN-nommers, oftewel burgerservicenummer, ontvang het. Soms moet ons egter ’n paar dae wag om ’n dokter te sien.

Ons ervaring is dat dokters dikwels eers parasetamol en rus aanbeveel. Dit was nogal ’n aanpassing vir ons.

Tandheelkundige sorg is duur, en ons moet mooi kyk watter koste ons self moet dra. Dieselfde geld vir oogkundige dienste. Ons moes ons gesondheidsversekering, of zorgverzekering, en enige aanvullende dekking volgens ons behoeftes en begroting kies.

Hoe hou julle kontak met familie en vriende in Suid-Afrika?

Ons praat minstens een keer per week met ons familie en vriende via WhatsApp-oproepe. Ons probeer ook om een keer per jaar vir ’n maand huis toe te gaan om almal te sien.

Wat doen julle graag vir ontspanning?

Ons reis graag. Ons is tog nou in Europa en probeer soveel moontlik sien terwyl ons die geleentheid het.

Wat het julle eers ná emigrasie werklik begin waardeer?

Die reuk van nat grond wanneer dit begin reën, en die geluid van ’n behoorlike donderstorm.

Ons mis ook yskoue koeldrank en bier wat jy sommer uit ’n winkel se yskas kan haal. Dan is daar natuurlik die verskeidenheid vleissnitte, biltong en droëwors wat so maklik in Suid-Afrika beskikbaar is.

En soms verlang ’n mens net na ’n vulstasiepastei of ’n Russiese wors en skyfies!

Wat is julle gunstelingherinneringe aan Suid-Afrika?

Om ons ouers, suster en broer gereeld te kon sien en in mekaar se daaglikse lewe te deel. Ons mis die familiekuier om ’n braaivleisvuur, die saamlag en die vinnige inloer by vriende wat in ’n braai ontaard.

Dan is daar die weer, die taal en ons mense. Dit is die dinge wat by ons bly.

Watter tradisies hou julle in die buiteland lewendig?

Ons vier Kersfees met die tradisionele kos waarmee ons grootgeword het en herdenk graag Erfenisdag. Ons braai ook by elke moontlike geleentheid.

Rugby beteken braai, ongeag of dit reën of sneeu!

Sien julle jul toekoms in die buiteland, of sal julle eendag terugkeer?

Ons wil beslis eendag na Suid-Afrika terugkeer. Dit is die weer, die mense en die gees wanneer die Springbokke speel.

Dit is óns land.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van

Nuutste artikels