Afrikaans 100 – Taalhelde 4 – Helde in aanloop tot 8 Mei 1925

07/05/2025
| Deur Alana Bailey
Afrikaans 100 – Taalhelde 4 – Helde in aanloop tot 8 Mei 1925

Deur Alana Bailey

Op 8 Mei 1925 het Afrikaans naas Engels die amptelike taal van die land geword. Verskeie gebeure het egter die fondament gelê waarop hierdie historiese besluit gebou is.

’n Belangrike keerpunt was die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). In sy boek Ons gaan ’n taal maak – Afrikaans sedert die Patriot-jare, skryf prof. Jaap Steyn:

As die Afrikaners hulle taal sou verloor, sou hulle sonder spoor in die vergetelheid verdwyn en in ’n ander nasie opgelos word. Die taal het in die middelpunt gestaan van die stryd om die voortbestaan as volk.

Historikus Leopold Scholtz, skryf in sy boek, Kruispaaie – Afrikanerkeuses in die negentiende en twintigste eeu, dat die taal in die tyd gesien is as dié instrument om die selfrespek van Afrikaners te herstel.

In die jare pas na die einde van die oorlog, het sommige Engelssprekendes neerhalend na Afrikaans verwys as onder meer ’n “barbarous tongue”, “mongrel language”, “hotch potch taal” en “ox-wagon vernacular”. Hierteenoor het leiers soos oud-pres. M.T. Steyn en genl. J.B.M. Hertzog sterk gestaan om mense te besiel om hulle taal en identiteit met gesonde trots uit te leef.

In 1909 is by die Nasionale Konvensie waar daar oor die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika onderhandel is, was genls. Louis Botha en Jan Smuts ten gunste van ’n stelsel waar Engels en Nederlands (as voorganger van Afrikaans) as amptelike tale in die parlement en geregshowe gebruik kon word. Die gebruik sou dus nie afgedwing wees nie, en dit sou ook nie taalgebruik deur ander staatsamptenare insluit nie.

Steyn en Hertzog wou egter afdwingbare gelykheid van hierdie tale sien. Soos Steyn dit gestel het:

So lank een ras [destyds is “ras” gebruik om taalgemeenskap te bedoel] voel dat dit ’n onderdanige plek naas die ander moet inneem, so lank is daar die gevoel van onreg, en hierdie gevoel sal ’n skeidsmuur vorm tussen die twee.

Steyn se pleitrede vir gelyke taalregte was só passievol dat selfs dr. Leander Star Jameson, die einste man wat die Transvaal in 1896 ingeval het, erken het dat hy en ander Engelssprekendes die belangrikheid van die taal verkeerd verstaan het en nou ’n nuwe blaadjie moes omslaan.

Later het hulle wel weer probeer “terugblaai” en selfs Afrikaanssprekende afgevaardigdes na die konvensie wou die knie voor eise ten gunste van Engels as dominante taal buig. Botha en Smuts se argumente was soortgelyk aan dit wat ons deesdae so dikwels hoor: Afrikaans is dan die taal van net ’n klein groepie aan die suidpunt van Afrika, terwyl Engels met sy eeuelange, ryk geskiedenis ’n wêreldtaal is.

Daarteenoor was dit Steyn en Hertzog wat voet by stuk gebou het en gesorg het dat die gelyke taalberegtiging ’n grondwetlike werklikheid geword het. Die uiteindelike besluit wat by die konvensie geneem is, het naamlik bepaal dat beide Nederlands en Engels die amptelike tale van die Unie sal wees en gelyke behandeling, regte en voorregte sal geniet.

Na 1910 moes gewone mense wat steeds onder Engelssprekendes se meerderwaardigheid deurgeloop het, bemoedig word en aangemoedig word om hulle taal in openbare ruimtes met selfvertroue te gebruik. Vir verarmdes wat feitlik alles in die oorlog verloor het, maar ook vir andere in die Unie waar die oorlog nie direkte spore gelaat het nie, was dit nie net ’n identiteits- of kultuurprojek nie, maar ook ’n noodsaaklike meganisme om die Afrikaanse gemeenskap se ekonomiese oorlewing te verseker.

Vandag beklemtoon internasionale taalregtekenners soos dr. Fernand de Varennes dat die gebruik van ’n gemeenskap se taal in openbare ruimtes en veral vir moedertaalonderrig, voorwaardes is vir die gemeenskap om finansieel te gedy. Hierdie navorsing was nog nie beskikbaar aan die begin van die twintigste eeu nie, maar tog het Steyn, Hertzog en andere instinktief besef hoe onontbeerlik die beskerming van die Afrikaanse gemeenskap se taalregte is.

Van toe tot 1925 is ook onophoudelik gewerk daaraan om Afrikaans as taal te ontwikkel. Die gedig Winternag van Eugène Marais het byvoorbeeld reeds in 1905 bewys dat dit moontlik was om letterkunde in dié taal te skep wat by enige ander hoëfunksietaal kon kers vashou. Ander digters en skrywers het kort op sy hakke gevolg. Bybelvertaling en die ontwikkeling van terminologie het gevorder, en in 1917 het die eerste weergawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) verskyn om leiding ten opsigte van gestandaardiseerde spelling te bied. Moedertaalonderrig het uitgebrei en vanaf 1924 is Afrikaans as die enigste voertaal in die drie susterskerke gebruik.

So is gewerk na die hoogtepunt van 8 Mei 1925. Onder die destydse minister van Binnelandse Sake, dr. D.F. Malan, is ’n wetsontwerp op dié datum aangeneem wat soos volg bepaal het:

Het woord ‘hollandse’ in artikel honderd zeven en dertig van de Zuid-Afrika Wet, 1909, en elders in die Wet waar dat woord voorkomt, wordt hierbij verklaard het Afrikaans in te sluiten.

Die wet het op 27 Mei 1925 in werking getree en is van 31 Mei 1910 terugwerkend gemaak.

Die stryd teen bevooroordeling deur anderstaliges, maar ook lede van die Afrikaanssprekende gemeenskap het nie daar geëindig nie, maar ook nie die werk om die taal te laat groei en bewusmaking oor die waarde van die gebruik daarvan nie. Dit duur selfs vandag nog voort. Deur die genade is daar altyd diegene soos Steyn en Hertzog wat onwrikbaar standpunt inneem wanneer taalgenote moed verloor.

Op 8 Mei 2025 is ons wens dat ons taal steeds van krag tot krag sal gaan!

Deel op

Nuutste artikels