Afrikaanse kultuur-en-taalfees betree vir eerste keer internasionale waters

01/04/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Afrikaanse kultuur-en-taalfees betree vir eerste keer internasionale waters

Deur Megan Swart

Die unieke Afrikaanse taal-en-kultuurfees, beter bekend as AfriFees, het vir die eerste keer internasionale waters betree. Hierdie unieke keurspel, wat Afrikaanse kultuur en musiek vier, bied vandeesweek hope vermaak aan vakansiegangers aan boord die MSC Opera.

Terwyl diegene aan boord die BokBoot (30 Maart – 4 April) vanaf Kaapstad na Namibië vaar, beleef hulle óók ’n sing-en-dans-ervaring vol bekende treffers soos “Sarie Marais”, “Hardekole”, “De la Rey”, “Leeuloop”, “Toeter Skoeter”, “Stukkie van der Merwe” en vele meer.

Die musiekgroep Die Broers het toegesien dat hierdie keurspel ’n interaktiewe musiekervaring is wat mense aanpor om saam te sing, heupe te swaai en hul taal voluit te vier.

Dit is egter nie nét Afrikaanssprekendes wat hierdie keurspel geniet nie.

“I thoroughly enjoyed the show. I might be very English but I love Afrikaans music!” het een vakansieganger by AfriFees se eerste vertoning aan boord die BokBoot gesê.

Selfs opgewonde kinders kon nie uitgepraat raak nie en aan enigiemand wat sou luister beklemtoon: “AfriFees is die beste!”.

AfriForum, in samewerking met Johan Vorster, Jacomien de Wet en Snyman Musiek Produksies, het die inhoud van die keurspel saamgestel. AfriFees bestaan uit 12 tematiese keurspelitems wat wissel van nostalgie tot sokkiedans, en van kinderliedjies tot patriotiese treffers.

“AfriFees bring al die unieke elemente van ons taal en kultuur op een plek byeen,” sê Vorster.

“Hierdie unieke keurspel sal vir dekades nóg ’n platform bied om ons kultuur te vier en daardeur kan ons liedjies ook behoue bly, sodat Afrikaans nie verlore gaan nie, maar ’n blywende trots vir ons kinders wees,” voeg De Wet by.

“AfriForum is toegewy daaraan om ons Afrikaanse kultuur en kunste te ondersteun, daarom het AfriForum die inhoud van AfriFees met trots saamgestel,” sluit Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, af.

’n Gratis vertoning van die keurspel sal ook nog op Oppiwater Kunstefees, wat op 9 April die waters invaar, aangebied word.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels