Junie se leesgenot vir die jongspan

10/06/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
michal-parzuchowski-BPXSTl_HBhk-unsplash-1-scaled

Hiermee die nuutste leesgenot vir die jongspan:

Nina-omnibus: Die Awesome Speurklub

Die omnibus bevat drie avonture waarin beste vriendinne Nina en Jessie die misterieuse swart-en-rooi pet inspan om hulle met speurwerk te help.

Waar kom die kopluise vandaan waarmee almal in Laerskool Tierkop skielik sukkel? Hoekom is die koeldrankfabriek so gretig om hulle nuwe energiedrankie aan die skool te skenk? En sal die slim mense by die Eksotiese Eksperimente Ekspo uiteindelik Nina se vrae oor die pet se spesiale kragte kan opklaar?

Hierdie omnibus bevat drie gewilde titels uit die pen van Elizbe van der Colff: Nina en die wacky hare, Nina en die funky eksperiment en Nina en die crazy klere. Vind meer uit

Hondman 5: Heerser van die vlooie

In die vyfde boek van die Hondman-reeks moet die “Megamakkers” met nuwe skurke afreken!
Wanneer die skelms hulle verskyning maak, moet ons helde saam met ‘n onwaarskynlike bondgenoot werk. Kan Ramkat van sy wrokke vergeet en vir Hondman, Kleinkat en ‘n merkwaardige robot help om die vyande uit sy verlede te laat les opsê?

Bekroonde skrywer en kunstenaar Dav Pilkey se gewilde Hondman-reeks spreek lesers van alle ouderdomme aan en verken universele positiewe temas, insluitend empatie, volharding en die belangrikheid daarvan om getrou aan jouself te bly.

Die vyfde Hondman-boek volg die wenresep van die vorige strokiesboeke: humor, aksie, spanning, asook kleurvolle illustrasies, komiese karakters en kort, eenvoudige sinne. Daar is weer “Blaai-en-beweeg” en “Teken 1-2-3” wat kinders help om hulle eie Hondman en ander karakters in die boek te teken. Vind meer uit

Harry Potter en die gevangene van Azkaban

Wanneer die Ridderbus deur die donker bars en skreeuend voor hom tot stilstand kom, is dit vir Harry Potter die begin van nog ’n ongewone jaar op Hogwarts. Sirius Black, ’n berugte moordenaar en volgeling van Heer Voldemort, het uit Azkaban ontsnap – en hulle sê hy is op Harry se spoor. Boonop sien professor Trelawney ’n aaklige voorbode oor die dood in Harry se teeblare . . . Maar miskien is die vreesaanjaendste ding van alles die Dementors wat die skoolgronde patrolleer . . .

Uiteindelik is hierdie wêreldberoemde reeks weer terug in Afrikaans! Vind meer uit

Die stoutste klas op aarde raak wild!

Volgens die skoolhoof, Mev. Brombom-Bredeboud, is 4B die stoutste klas op aarde. Sy sê skool gaan nie oor leeglê en lyf wegsteek, of pret hê nie. Dit gaan oor leer en dis hoogtyd dat 4B harder dáárin probeer uitblink.

Maar Alex en Manjit het nie letterlik bedoel om Tanne vir ‘n War of the Wizards-speelkaart te verruil en hom in die skool los te laat nie. En hulle het ook nie letterlik bedoel om skuim oral in die klaskamer en oor Mev. Brombom-Bredeboud te laat ontplof nie. Hierdie goed gebeur net!
Die vierde boek in hierdie reeks deur topverkoper Joanna Nadin bevat twee skreeusnaakse avonture en is die perfekte leesstof vir kinders wat gereed is vir hulle eerste hoofstukboeke. Vind meer uit

Borrelgom

Bea Malan, oftewel, Koningin Bea, word met ‘n skok van haar troontjie afgestamp wanneer haar ma die nuus breek dat haar ouers gaan skei en dat hulle na Johannesburg verhuis. Groot poef emoji.

Hier is alles en almal anders as in haar geliefde Stellenbosch, waar sy die hoof van haar swerm was. Nou moet sy sink of swem tussen vreemde kinders in ‘n stad wat sy nie ken nie en ‘n skool wat sy nie verstaan nie. Maar namate Bea se geheim al swaarder op haar druk, beweeg sy nader daaraan om nuwe mense – en dinge – in haar lewe toe te laat.

Selfs ook die rondloperkat Kol, die ligstraal-emoji Lea en die verantwoordelike Daniël. Maar Bea is nog lank nie gereed om te dans nie, en besef dat sy sal moet grootword as sy nie wil toelaat dat die lewe haar soos borrelgom kou en uitspoeg nie. Vind meer uit

Die goorste week ooit: Woensdag

Het JY al ooit ’n GOOR WEEK gehad? Justin Chase het MAANDAG en DINSDAG skaars oorleef, maar nou is dit . . . WOENSDAG!

Sy kat is steeds spoorloos weg. Hy word per ongeluk ’n internetsensasie. En op die oomblik swem haaie in sirkels om hom, want hy’s vasgekeer in ’n hart-gaan-staan, vel-word-hoendervleis, mond-hang-oop, lewe-op-die-spel SOS (sweet-op-sweet) situasie saam met sy ongelooflik irriterende aartsvyand! Vind meer uit

Kaptein Onderbroek #3: Kaptein Onderbroek en die inval van die koelbloedige kostannies uit die ruimte (en daarna die aanval van die ewe bose zombie-nerd boelies)

George en Harold het al vir amper almal in Leergierig Laer ’n poets of twee gebak. Wanneer hulle nuutste poets veroorsaak dat die skool se kostannies bedank, stel mnr. Mor drie ongewone tannies aan – wat boonop baie soos aliens lyk! Sal Kaptein Onderbroek, die held met die rooi mantel, die skool en kinders kan red? Of sal die drie kostannies uit die ruimte hom vir middagete verslind? Vind meer uit

Storierak

Volg ons op sosiale media

Storierak is ’n blad met oulike Afrikaanse kinderboeke deur NB-Uitgewers.

Facebook: Storierak | Facebook

Instagram: Storierak (@storierak_) | Instagram


Boeke beskikbaar as e-boeke is beskikbaar by die volgende e-boekwinkels:

Amazon

Kobo Books

Snapplify

Foto: Michal Parzuchowski/ Unsplash

Deel op

Nuutste artikels