Deur Sue-Ann de Wet
Vir baie gesinne is die besluit om te emigreer een van die grootste besluite wat hulle ooit sal neem. Daar word maande, soms selfs jare, lank daaroor gedink. Gesprekke word gevoer, finansies word beplan, visums word aangevra en die voor- en nadele word sorgvuldig opgeweeg.
Teen die tyd dat die besluit finaal geneem is, het die gesin wat emigreer dikwels reeds emosioneel vrede daarmee gemaak.
Maar vir hul ouers begin die emosionele reis eers wanneer hulle die woorde hoor: “Ma, Pa … ons beplan om te emigreer.”
Daardie gesprek is selde maklik. Dit bring dikwels opgewondenheid oor nuwe geleenthede, maar ook hartseer, onsekerheid en selfs skuldgevoelens. Vir ouers kan dit voel asof hul wêreld skielik kleiner word. Die spontane Sondagmiddagkuiers, verjaarsdae, Kersfees en die alledaagse betrokkenheid by kinders en kleinkinders gaan nooit weer dieselfde wees nie.
Daar is geen perfekte manier om hierdie nuus te deel nie, maar daar is maniere om dit met empatie, respek en begrip te doen.
Besef dat julle nie op dieselfde plek in die proses is nie
Een van die grootste foute wat mense maak, is om te vergeet dat hulle reeds deur die besluitnemingsproses is, terwyl hul ouers nou eers daarmee gekonfronteer word.
Teen die tyd dat julle die nuus deel, het julle waarskynlik al talle gesprekke gevoer, navorsing gedoen en emosioneel begin aanpas by die idee van emigrasie. Julle het moontlik reeds begin droom oor die nuwe lewe wat voorlê.
Vir julle ouers gebeur alles egter in een oomblik.
Waar julle hoop en verwagting ervaar, ervaar hulle dalk verlies. Daarom is dit belangrik om hulle nie te forseer om onmiddellik entoesiasties of ondersteunend te wees nie. Gee hulle tyd om die nuus te verwerk en hul eie emosies te verstaan.
Kies die regte oomblik
As dit moontlik is, voer hierdie gesprek persoonlik. Om so ’n belangrike besluit per WhatsApp of tussen ander verpligtinge deur te deel, kan maklik die indruk skep dat hul gevoelens nie werklik in ag geneem is nie.
Kies ’n rustige tyd wanneer almal die geleentheid het om te gesels sonder dat iemand haastig is of onder druk verkeer. Vermy ook spesiale geleenthede soos verjaarsdae of familiebyeenkomste. Hierdie nuus verdien sy eie ruimte.
Moenie die gesprek haastig probeer afsluit nie. Laat genoeg tyd vir vrae, stilte en emosies.
Laat hulle emosies toe
Mense reageer verskillend wanneer hulle hoor hul kinders gaan emigreer.
Sommige raak stil.
Ander huil.
Party vra dadelik praktiese vrae, terwyl ander dalk kwaad of teleurgesteld reageer.
Hierdie reaksies beteken nie noodwendig dat hulle teen julle besluit gekant is nie. Dit is dikwels bloot deel van hul eie rouproses. Hulle probeer sin maak van ’n nuwe werklikheid waarop hulle nie voorbereid was nie.
Probeer om nie verdedigend te raak wanneer emosies hoog loop nie. Luister eerder. Soms is dit belangriker om teenwoordig te wees as om antwoorde te hê.
Vermy die behoefte om die besluit te verdedig
Wanneer ouers vrae vra, voel kinders dikwels hulle moet elke aspek van hul besluit regverdig.
Hoewel dit belangrik is om eerlik oor julle redes te wees, hoef die gesprek nie ’n debat te word waarin iemand “wen” nie.
Julle ouers probeer dikwels nie die besluit aanval nie; hulle probeer verstaan.
Deur rustig te verduidelik waarom julle hierdie pad gekies het, help julle hulle om die groter prentjie te sien. Dit beteken nie hulle gaan minder hartseer wees nie, maar dit kan wel begrip bevorder.
Erken hul verlies
Emigrasie raak nie net die mense wat vertrek nie.
Dit verander ook die lewens van die mense wat agterbly.
Vir baie ouers beteken dit minder spontane besoeke, minder betrokkenheid by hul kleinkinders se daaglikse lewe en die besef dat belangrike lewensgebeure dalk voortaan deur ’n skerm beleef gaan word.
Moenie probeer om hierdie verlies kleiner te maak deur te sê: “Jy kan mos kom kuier,” of “Ons sal elke dag ’n video-oproep maak nie.”
Tegnologie maak kontak makliker, maar dit vervang nie fisiese teenwoordigheid nie.
Erken eerder hul hartseer. Soms is ’n eenvoudige sin soos: “Ons weet hierdie is ongelooflik moeilik vir julle,” baie meer vertroostend as ’n lys praktiese oplossings.
Praat ook oor die toekoms
Hoewel dit belangrik is om ruimte vir emosies te laat, kan dit ook help om oor die toekoms te praat.
Gesels oor hoe julle kontak wil behou. Dalk besluit julle om elke Sondag ’n video-oproep te maak, foto’s gereeld te deel of reeds vroeg te begin beplan vir toekomstige besoeke.
Wanneer ouers weet daar is steeds ’n plek vir hulle in julle nuwe lewe, verminder dit dikwels die onsekerheid.
Verhoudings verander ná emigrasie, maar dit hoef nie swakker te word nie. Met doelbewuste moeite kan familiebande steeds sterk bly, selfs oor duisende kilometers.
Wees geduldig
Moenie verwag dat julle ouers die besluit onmiddellik gaan aanvaar nie.
Net soos julle tyd nodig gehad het om by die idee van emigrasie aan te pas, het hulle ook tyd nodig.
Sommige ouers aanvaar die nuus vinnig.
Ander het maande nodig voordat hulle werklik vrede maak daarmee.
Respekteer hul tempo. Bly in gesprek, betrek hulle by julle voorbereiding waar dit gepas is en gee hulle die geleentheid om deel van die proses te voel.
Hou die gesprek oop
Die eerste gesprek behoort nie die laaste een te wees nie.
Soos die emigrasiedatum nader kom, ontstaan daar nuwe vrae, nuwe emosies en nuwe onsekerhede. Deur gereeld met julle ouers te gesels, hulle op hoogte te hou van die proses en hulle by sekere voorbereidings te betrek, help dit om vertroue te bou en die gevoel van uitsluiting te verminder.
Baie ouers waardeer dit wanneer hulle nie eers ná die tyd van belangrike ontwikkelings hoor nie, maar voel dat hulle steeds deel van hul kinders se lewe is.
‘n Gesprek wat liefde vra
Daar is geen handleiding wat presies kan sê hoe hierdie gesprek moet verloop nie, want elke familie se omstandighede is anders.
Wat wel altyd dieselfde bly, is dat hierdie gesprek nie net oor emigrasie gaan nie. Dit gaan oor liefde, familie en die besef dat ’n verhouding nou op ’n nuwe manier sal moet funksioneer.
Wanneer die nuus met eerlikheid, respek en deernis gedeel word, skep dit ’n grondslag waarop die verhouding kan voortbou – selfs wanneer kontinente tussen ouers en kinders lê.
Emigrasie verander dalk waar ’n familie woon.
Dit hoef nie te verander hoe lief hulle mekaar het nie.
Wat om nie te sê nie wanneer jy die nuus deel nie
Wanneer emosies hoog loop, is dit maklik om iets goed bedoelend te sê, maar wat kan bydra tot jou ouers se hartseer. Vermy dit om hul gevoelens te minimaliseer of die gesprek vinnig af te sluit.
Vermy eerder frases soos:
“Julle sal daaroor kom.”
“Ons doen dit nie aan julle nie.”
“Dit is klaar besluit, so daar is niks om oor te praat nie.”
“Jy moet net gelukkig wees vir ons.”
“Dit gaan nie regtig so erg wees nie.”
“Ons sal mos altyd kan video bel.”
Hoewel hierdie opmerkings dikwels goed bedoel word, kan dit vir ouers laat voel asof hul verlies nie werklik raakgesien of verstaan word nie.
Sê eerder:
“Ons weet hierdie is moeilik om te hoor.”
“Ons wou hê julle moes dit eerste by ons hoor.”
“Ons verstaan dat julle tyd nodig het om dit te verwerk.”
“Ons weet hierdie besluit raak nie net ons nie, maar julle ook.”
“Ons wil graag saam met julle deur hierdie nuwe hoofstuk stap.”
“Ons hoop julle sal steeds ’n groot deel van ons en die kinders se lewe bly.”
Hierdie eenvoudige woorde verander nie die werklikheid van emigrasie nie, maar dit wys vir jou ouers dat hul gevoelens raakgesien word en dat hulle steeds ’n belangrike plek in julle lewe het. Soms is dit nie die antwoorde wat mense die meeste onthou nie, maar hoe hulle gevoel het gedurende een van die moeilikste gesprekke wat ’n familie ooit sal voer.
Deel op
Nuutste artikels



















