Deur Alana Bailey
In ongeveer 1796 is die kleinerige windaangedrewe Mostert se meule op Welgelegen, die plaas van Dirk Gysbert van Reenen, opgerig om graan vir die groeiende Kaapse bevolking en besoekers te maal. Van Reenen se dogter is later met ’n Mostert getroud en sodoende het die meule aan sy naam gekom.
Op Sondag, 18 April 2021, het die wind wat soveel eeue lank die meule aangedryf het, in ’n vyand verander en ’n veldbrand wat oorkant die snelweg teen die berghange ontstaan het, na die meule laat versprei. Groot skade is aangerig, maar planne vir die herstel van die meule was dae later reeds in volle swang. Dit is danksy ’n groep erfenisentoesiaste wat in 1993 die organisasie “Vriende van Mostert se meule” op die been gebring het.
Mostert se meule was eens die enigste oorblywende werkende windmeul suid van die Sahara in Afrika. Die groep het sedert 1993 gesorg dat dit in stand gehou word deur noue samewerking met die departement van Openbare Werke (DOW), aangesien die meule tegnies in staatsbesit is. In onlangse jare was dit dikwels op Saterdae oop vir die publiek om eerstehands te sien hoe dit werk, maar in 2020 het COVID-19-inperkings die demonstrasies voorlopig tot ’n einde gebring. Die meeste mense kon dit steeds van die snelweg se kant af bewonder – ’n kompakte herinnering aan ’n vergange era in ons geskiedenis. Vlamme het egter binne minute ’n einde aan die meule se funksionaliteit gebring.
Die oomblik toe die terrein na die brand betree kon word, was lede van die Vriende daar om die oorblyfsels van die gebou en onderdele te beveilig. Sedertdien is beide gevorder met die beplanning en uitvoering van die restourasie, asook die insameling van fondse om die projek moontlik te maak. Daar moet deurgaans van spesialiste vir die herstelwerk gebruik gemaak word en DOW moet ook elke stap goedkeur.
AfriForum Wêreldwyd het al verskeie artikels oor die vordering met die restourasieprojek geplaas. Toe ek dus tydens ’n onlangse besoek aan Kaapstad onverwags drie ure beskikbaar het voor ’n terugvlug na Gauteng, het ek gou by die meule gaan inloer.
Die murasies van naburige woonhuise wat ook in die brand vernietig is, is oorgroei met onkruid en skep ’n neerdrukkende atmosfeer van verval.
Loer jy egter deur die rankroosheining na die meule, is dit ’n heel ander storie! Dit woel en werskaf daar. Die terrein is baie deeglik beveilig om die publiek weg te hou en die mure is met ’n seil oordek om dit droog te hou. Bouers is op steiers besig om daaraan te werk. Die grasperk om die meule is netjies versorg en die ander geriewe op die terrein is ook opgeknap.
Die meule se webtuiste word gereeld met die jongste nuus oor die vordering met die projek opdateer (sien https://mostertsmill.co.za/current-restoration/). ’n Blog voorsien ook inligting oor die herbou van die onderdele van die meule in baie fyn tegniese besonderhede, met foto’s wat van groot waarde vir toekomstige restourateurs sal wees (sien https://mostertsmillafterthefire.blogspot.com/).
Omdat die projek met soveel sorg aangepak word om te verseker dat elke aspek van die gebou en toerusting so na as moontlik aan die oorspronklike sal wees, gaan die projek nog ’n hele ruk duur … en duur is die woord, want dit gaan nie goedkoop wees nie. Enige bydrae is dus welkom – meer inligting is beskikbaar by https://mostertsmill.co.za/current-restoration/.
Hierdie projek is nie net belangrik weens die historiese betekenis van die meule nie, maar ook omdat dit ’n uitnemende voorbeeld is van ’n gemeenskap wat nie net oor hulle verlies gekla het en gewag het dat die staat tot die meule se redding moes kom nie, maar self moue opgerol het en die toekoms daarvan verseker.
Dit sluit pragtig aan by AfriForum se boodskap dat die toekoms van ons verlede in ons eie hande rus! Ons wens almal wat by die projek betrokke is, voorspoed toe en maak graag weer ’n bydrae om hiermee te help.