Deur Cornélle White
Ek is tans ’n Engelse onderwyser in Invercargill, die suidpunt van die Suideiland in Nieu-Seeland. Ons gesin het presies ’n jaar terug op ’n vliegtuig geklim in Johannesburg en ons nuwe avontuur aangepak. Hierdie is ons storie.
Ek en my man het in Maart 2022 ’n oproep van Southland Boys’ High af gekry waar hulle vir my ’n onderwyspos aangebied het. Hier het alles vir ons as ’n gesin begin verander. In 2019 het ons al begin navorsing doen om te emigreer na Nieu-Seeland. Min het ons geweet dat Covid ons planne bietjie gaan laat stilstaan. Soos baie ander gesinne, het ons steeds aan die hoop van ’n nuwe avontuur vasgehou en geglo dat ons beurt gaan kom. En in 2022 was dit ons beurt.
Nadat ek my aanbod ontvang het, het ons begin navorsing doen oor Invercargill – die mooiste klein stad, met alles wat ons nodig sou hê. Die vrees van die onbekende het diep binne my hart gelê, ek het alles opgegee, ’n besigheid, my kinders het afskeid van hul vriende geneem asook hul oumas en oupas. Daardie was vir my die moeilikste en bitterste pil om te sluk. Ek was soms steeds baie onseker, maar my man se woorde, “As jy net bietjie twyfel, dan bly ons net hier,” en sy ondersteuning en bystand het die moeilike dae bietjie makliker gemaak. Met baie bid en voorbereiding, geduld en liefde van ons familie was ons einde Junie op ’n vliegtuig op pad na Invercargill.
Al die harde werk, voorbereiding, huil, oppak en nog ’n bietjie huil, was vir seker die moeite werd – min wetende dat ons hier ’n groot ondersteuningsnetwerk sou kry, meer as wat ons ooit kon dink. Vriende van oral – Suid-Afrika, Engeland en “locals” van Invercargill, almal wat meer as bereid was om ons te help met ons avontuur. Met ons aankoms was ons so bevoorreg om mense soos die Viljoens reeds in ons hoek te hê. Ons nuwe hartsvriende het vir ons ’n huis reggekry en kos vir die eerste ruk in ons kaste gesit. Hulle het ons op so baie maniere geseën, en ons is hulle ewig dankbaar.
Mense wat emigreer verstaan wat hulle opgee – familie, vriende en alles wat hulle ken. Hulle verstaan ook die moeilike pad wat vir hulle voorlê, die onbekende, die hartseer en die verlange. Ons glo dat as ons in ’n groter stad opgeëindig het, ons paadjie dalk baie anders sou gelyk het. Invercargill is ’n klein stad, amper soos George, met net genoeg stad en platteland om vir ons as ’n gesin ’n nuwe woning te wees. Ek kan hier met ’n geruste hart my oudste op sy fiets sit en hy ry self alleen skool toe en ek weet hy sal veilig daar aankom. Invercargill het ’n binnenshuise sportarena waar ons netbal en basketbal speel. Swemlesse is ook onderdak en dis warm. Rugby is steeds ’n groot sport, en die mense wat al lank hier is dra “gumboots” en sambrele, want hulle ken die weer. Ons begin dit nou eers leer. Die mense in Invercargill is vriendelik en baie behulpsaam, en as jy iets nie weet of verstaan nie sal daar ’n klomp mense wees wat jou sal reghelp.
Invercargill is die beste plek vir my seuns om hul nuwe avontuur aan te pak. Ons jongste praat nou vlot Engels en my oudste probeer elke sport onder die son. Ons is dankbaar vir al die geleenthede wat ons aan hierdie kant kry, asook die nuwe vriende wat ons al hier gemaak het. Die winters mag dalk nat en koud wees, maar die koffie en Southland Pies is altyd warm. Ons somers is langer en warm. Ons kan braai tot tienuur in die aand en dan skyn die son nog. Die geselligheid en nuwe vriende wat deur dieselfde proses as jy gegaan het, is wat verlange bietjie minder maak.
Ons hoop om nog nuwe en goeie herinneringe te maak, ons is so geseënd met die nuwe avontuur! Party dae is moeiliker as ander, maar dan sal my man altyd die silwer randjie sien, “Ons het darem krag”.
Ons hoop dat ons storie vir ander families ’n troos sal wees, dat hulle weet ons mis die Suid-Afrikaanse sonskyn en braai. Ons doen ons deel en braai en maak braaibroodjies soos net ons kan.
Groete uit die Suideiland
Cornélle White en gesin
Foto’s: Invercargill – Things to see and do – South Island | New Zealand (newzealand.com)
Deel op
Nuutste artikels