Alana Bailey, Hoof: Kultuursake, AfriForum
Met die aanvang van die 21ste eeu is voorspel dat grense gaan verdwyn. Trouens, in Europa kon jy al wyd reis met die diensverskaffer wat op jou selfoonskerm verander, of die GPS se inligting as enigste aanduiding dat jy nou in ’n ander land as tien minute gelede is.
Vriende van my het verklaar: “Buiten vir langer vlugte, is daar geen verskil tussen vir kinders in Kaapstad of Hamburg gaan kuier nie.”
En toe kom Covid-19 en skielik is daar weer grense. Trouens nie net grense nie, maar dikwels onverbiddelik geslote grense. Grense met grendels.
Al wat ons nou weet, is dat die wêreld nooit weer dieselfde gaan wees nie. Ons kan aanvaar dat nuwe veiligheidsmaatreëls in die toekoms op lughawens en by grensposte sal voorkom, maar ons voete gaan nog jeuk en reis sal ons nog reis.
Die afgelope paar maande word ons by AfriForum oorval met navrae van Suid-Afrikaners wat soms wanneer grense skielik sluit, gestrand raak. In die ergste gevalle gebeur dit wanneer hulle iewers is waar daar bitter weinig toegang tot geriewe, kommunikasie, beskerming of lewensmiddele is.
Omdat ’n mens wil voorkom dat dit gebeur, volg hier ’n paar wenke vir toekomstige reisigers om die reis met lekkerkry klaar te kry, as ek nou woorde in Langenhoven se mond mag lê … Hierdie pandemie het almal onkant betrap en steeds bly verskillende lande se reaksies daarop uiteenlopend en onvoorspelbaar. Ons moet egter so ver as moontlik voorbereid daarop wees, asook op ander gebeure wat ’n mens se planne dalk in die wiele kan ry.
Hiermee dan die wenke:
Doen navorsing oor jou bestemming. Kom gevaarlike weerstoestande soos orkane sekere tye van die jaar daar voor? Is dit ’n gevaarsone wat natuurrampe soos aardbewings of vulkaniese uitbarstings (soos by Whakaari / White Island in Desember 2019) aanbetref? Is dit polities stabiel? Hoe lyk misdaad daar? Kom enige endemiese siektes soos malaria daar voor? Twee bronne vir betroubare inligting is jou naaste reiskliniek en die internet. Tik “travel directives” in en jy sal die jongste inligting kry wat lande soos die VSA en VK aan hulle burgers voorsien. Hulle intelligensiedienste is baie deeglik en die advies op datum.
Kry reisversekering en lees die polis. Oor sekere ouderdomme word bepaalde siektetoestande dikwels uitgesluit. Alle aktiwiteite word ook nie noodwendig gedek nie ‒ as jy byvoorbeeld gaan ski in Switserland, sal eise wat met jou gebreekte been verband hou, dalk verwerp word, omdat die betrokke polis ski as hoë gevaar aktiwiteit klassifiseer. In areas waar mense ontvoer word, dek polisse soms net enkele dae se onderhandeling met die kriminele of terroriste, terwyl onderhandelings maande mag duur. Lees die opsies noukeurig deur voor jy versekering uitneem, maar moenie daarsonder vertrek nie.
Moenie op die staat staatmaak nie. Volgens die internasionale reg is ’n staat onder geen verpligting om altyd tot sy burgers se hulp te kom nie. Hulp gaan van verskeie kwessies afhang. Waarom was jy in die buiteland? Bestaan enige verdrae tussen jou land en die land waar jy is wat sodanige hulp moontlik maak of voorkom? Is hulp prakties uitvoerbaar? Het jou land die kundigheid of hulpmiddele om op die tydstip wat jy die hulp benodig, op te tree? Bereken jou risiko’s voor jy vertrek en as jy nie gemaklik voel nie, moet eerder nie gaan nie.
Moenie op ander instellings staatmaak nie. In ’n noodsituasie is die kaptein soms letterlik voor die passasiers van die sinkende boot af. ’n Regering, hotelgroep, skeepvaart- of lugredery is soms net so onvoorbereid op ’n ramp as jy, of eenvoudig laks, of skuil agter die fynskrif by “Bepalings en voorwaardes” in jou ooreenkoms met hulle. Moenie aanvaar hulle gaan jou help as daar probleme ontstaan nie en moenie die blaamspeletjie speel as jy in nood verkeer nie. Gebruik eerder jou energie om oplossings te vind om so veilig en gou as moontlik uit die situasie te kom.
Moenie pakkies vir enigeen saamneem nie. Al meen jy dat jy 100% seker is wat daarin is, bly dit die beste om dit nie te doen nie. Smokkelaars is soms die mense van wie jy dit die minste verwag.
Wees eerlik oor jou gesondheid. As jy ’n redelik ernstige harttoestand, of diabetes, of enige soortgelyke siekte het, dink mooi of jy die kans wil waag om te reis. Hou ook jou geliefdes se angs en spanning in gedagte as jy ver van die huis af sou siek word of gestrand raak sonder chroniese medikasie. Jy moet ook in hulle beswil optree.
Neem ekstra medikasie saam. As jy enige chroniese medikasie neem, sorg altyd dat jy ’n paar dae se ekstra voorraad saamneem. Vlugte kan vertraag word, of stakings kan openbare vervoer lamlê en dan moet jy ekstra medisyne hê. Neem ook jou voorskrif en die medikasie se inligtingspamflet saam. Dieselfde medisyne het nie altyd dieselfde naam oraloor nie en as ’n apteker die pamflet het, kan ’n plaasvervangende middel makliker gevind word. Onthou, ongelukke kan ook gebeur soos dat medisyne uitval en dan moet jy nog kry, al het jy voorsorg getref.
Misdaad bly nie in Suid-Afrika agter nie. Bly waaksaam en paraat! Moenie ’n beursie in ’n oop handsak of broeksak bêre nie. Hou ekstra kopieë van jou paspoort, visum en jou bank se nommer waar jy kaartdiefstal moet aanmeld in al jou stukke bagasie.
Reisigers kan nie op ’n leë maag marsjeer nie. Hou altyd iets om te eet in jou handbagasie. Staatmakers is energiestafies, sjokolade, of goeie ou Mariebeskuitjies. As vloeistof toegelaat word, neem water of melk saam.
Maak seker watter COVID-maatreëls bestaan en hou in gedagte dat dit op kort kennisgewing kan verander. Dit sluit die sluiting van grense en vereistes vir bewyse van inenting en toetse in. Maak ook seker watter regulasies in die land geld – is daar ’n aanklokreël, waar en wanneer moet jy ’n masker dra, ensovoorts.
Daar is vele ander wenke oor hoe jy veilig in ’n ander land kan bly, maar met die bostaande fokus ons veral op die beplanning, vertrek en terugkeer.
By voorbaat, bon voyage!
Deel op
Nuutste artikels