Kersfees kom vanjaar lekker vroeg vir Nederlandse aanhangers van die Suid-Afrikaanse ikoon, Nataniël.
Die Suid-Afrikaanse lewende legende bring op Saterdag 16 November 2024 sy magiese Vroeg Kersfees met Nataniël-produksie na een van Amsterdam se grootste verhoë.
Nataniël is ʼn uiters gewilde kunstenaar en persoonlikheid in sy tuisland, maar ook in die buiteland en is op aanvraag weer terug op die verhoog in Amsterdam, Nederland.
Nataniel in Concert was in 2023 ʼn dawerende sukses en het heeltemal uitverkoop. Die opvolgkonsert beloof selfs meer vermaak waarna mense kan uitsien.
Vir slegs een aand kan gehore van die snerpende Nederlandse winterkoue buite ontsnap, terwyl Nataniël saam met sy wêreldklasorkes die teater met warmte en skaterlag vul.
Vroeg Kersfees met Nataniël is ʼn unieke produksie wat nie misgeloop moet word nie. Kom geniet die betowering van Amsterdam met ʼn vertoning deur een van Suid-Afrika se grootste kunstenaars.
“Met my vorige besoek aan Nederland is ek so hartlik verwelkom en ek kon nie anders as om vanjaar weer ʼn konsert in my dagboek op te skryf nie,” sê Nataniël, wat al vir 37 jaar ʼn huishoudelike naam in Suid-Afrika is.
“Nataniël se konsert is ongetwyfeld vanjaar weer ʼn massiewe hoogtepunt op die Nederlandse vermaakkalender en is beslis ʼn uitvoering wat nie misgeloop moet word nie,” sê Wian Smith-Venter, uitvoerende hoof van The Marketing Zoo en organiseerder van die vertoning.
“Ons het na Nataniël se aanhangers geluister en seker gemaak ons werk hard om hom weer Nederland toe te bring. Ons is trots daarop dat ons een van die grootste name in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf met sy Nederlandse aanhangers kan verbind deur musiek en humor.”
Vroeg Kersfees met Nataniël is 90 minute lank. Die konsert het geen pouse nie en geen foto’s of opnames sal toegelaat word nie. Beperkte VIP-kaartjies is beskikbaar en sluit toegang in sonder om in ʼn ry te staan, voorste sitplekke in die teater, ’n verwelkomingsdrankie, spesiale geskenksak en meer.
Geen kinders onder 14 jaar word toegelaat nie.
Stalletjies met eg Suid-Afrikaanse kos, produkte en ander items sal in die voorportaal beskikbaar wees voor die aanvang van die vertoning – asook na afloop daarvan.
Meer oor Nataniël
Nataniël het sy loopbaan as kunstenaar meer as drie dekades gelede begin met die uitreiking van sy eerste enkelsnit.
Sedertdien het hy meer as 20 albums uitgereik, sowat 110 oorspronklike teaterproduksies op die planke gebring en 28 boeke gepubliseer.
Sy heel eerste konsert in Nederland in 2023 het blitsvinnig uitverkoop en nou is hy weer op aanvraag in November 2024 terug op die verhoog by die Theater Amsterdam.
Nataniël is ʼn gevestigde sanger, liedjieskrywer, vervaardiger, regisseur, ontwerper en openbare spreker. Hy is ook ʼn uitgesproke en dikwels omstrede figuur, maar is ewe tuis in die alternatiewe kringe as op ʼn hoofverhoog.
Sy gewilde Kaalkop-rubriek verskyn al vir 18 jaar in die SARIE-tydskrif.
Nataniël bestuur sy eie produksiemaatskappy Nataniël House of Music en is die skepper van die Kaalkop-reeks van leefstylprodukte.
Kaartjies kan hier bekom word.
Deel op
Nuutste artikels