Teen die spoed wat sosiale media ontwikkel is die volgende wenke nuttig om valse nuus aanlyn te identifiseer. Doen die navorsing voordat jy volgende keer te vinnig die deel knoppie druk.
1. Kyk na die visuele voorkoms van die webtuiste. Lyk die webtuiste, foto’s en opskrifte professioneel of amateuragtig?
- Is daar aan die onderkant van die webtuiste ’n klomp artikels wat jou aanmoedig om daarop te klik? Baie webtuistes maak geld deur die aantal klikke en hou daarvan om stories te plaas met opskrifte en grafika wat jou lok om te klik. Gedeeltes van die storie is dan waar. Lees dus verby die opskrif wat jou lok en kyk na die inhoud.
- Let op die datum van die artikel. Baie artikels is stokoud, maar kry ’n tweede asem deur sosiale media.
- Let op die bronadres (URL) van die artikel. Indien dit vreemd eindig, met .LO of .com.co, vermoed dat iets dalk nie wel is nie.
- Soms is ’n artikel doelbewus satiries of net buitensporig sodat dit baie gelees moet word.
2. Kyk wie word as nuusbron vir die stories gegee. In Afrikaans, kyk vir Maroela Media, Netwerk24 of ander nuusbronne wat bekend is. In Engels, kyk vir News24, IOL, SABC of ANA.
- Die bestaande media in Suid-Afrika is in die algemeen geloofwaardig. Met die nuwe eis om teen die spoed van sosiale media mee te ding, sluip foute egter by artikels in.
- Is daar kopiereg op die artikel?
- Soms moet jy eers registreer voor jy ’n storie kan lees. Vra “Waarom?”.
3. Kyk waarmee eindig die webtuiste se domein. Soms kry dit ’n .com agter om ander bestaande webtuistes na te boots. Indien dit ’n .co.za-domein het, kyk op http://co.za/whois.shtml in wie se naam die domein geregistreer is en hoe lank behoort die domeinnaam aan dié huidige eienaar.
- Wees versigtig met Facebook en Twitter dele (“shares”) en artikels sonder ’n skakel na ’n geloofwaardige bron.
4. Kyk na die “Kontak ons”-gedeelte op die webtuiste. Betroubare webtuistes is nie skaam om gedetailleerde kontakinligting te gee nie.
5. Met vals nuus is daar baie keer nie ’n joernalis/outeur se naam nie. Indien daar ’n naam verskyn, kyk na ander stories wat deur daardie joernalis geskryf is. Kyk ook na die joernalis se Twitter-profiel en of die persoon nuusgebeure aktief volg.
- Die joernalis/outeur moet dus ’n ware persoon wees (nie ’n skuilnaam nie) en voorheen geloofwaardig oor ’n aantal ander onderwerpe geskryf het.
6. Wat is die trant van die artikel? Vals nuus is lief daarvoor om slegs een kant van ’n saak te bevorder en maak soms buitensporige aannames of het ’n emosionele aard. Is die artikel gebalanseer?
- Stem die inhoud van die artikel ooreen met dit wat jy reeds van ’n onderwerp weet?
- Maak die inligting in die artikel sin?
- Kyk na grafika en foto’s in die artikel. Soek dan op Google na soortgelyke foto’s en kyk of dit gebruik word by ander stories.
7. Is daar spelfoute in die artikel of word hoofletters onnodig gebruik? Is die taalgebruik in die artikel op standaard?
8. Kyk na bronne en aanhalings wat in die artikel verskaf word. Stem die bronne ooreen met soortgelyke artikels?
- Indien daar skakels saam met die bronne gegee word, kyk na die bronne.
9. Kyk na soortgelyke artikels en of die feite en bronne ooreenstem.
- Kyk ook na jou persoonlike vooroordele oor ’n onderwerp en of dit ’n invloed uitoefen.
10. Dink krities oor die artikel. Lees ook verder oor ’n onderwerp.
Hierdie artikel is opgestel deur Reint Dykema, kennisbestuurder by AfriForum
Deel op
Nuutste artikels