Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Hannelie Wright wat in Australië woon.
Hallo Hannelie, dit is heerlik om met jou te gesels! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik, en hoekom het julle besluit om juis na Australië te emigreer?
Ek is in die Jakarandastad gebore. Ek het my Australiese man in Uganda ontmoet. Ons albei het vir dieselfde Amerikaanse maatskappy gewerk.
Ons is in 2012 in Pretoria getroud. Ons het gereeld navraag gedoen oor ons huweliksertifikaat en terugvoer ontvang dat ons moet bewys lewer dat ons vir die regte redes getrou het.
Ons het op verskeie geleenthede in die ry gestaan om aansoek te doen vir my man se burgerskap, maar dit was ’n groot frustrasie en ons het moed opgegee. Ons beste opsie was om Australië toe te trek.
Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? Wat was die grootste aanpassing vir jou in Australië?
Julle slaan die spyker op die kop – dit was vir my ’n groot aanpassing in Australië.
Mense het gesukkel om my naam uit te spreek, en dit is nogal lastig wanneer jy koffie bestel: jy moet jou naam gee, en hulle roep dit dan uit wanneer jou bestelling gereed is.
Ek moes ook leer om self brandstof in te gooi en my motor se bande te pomp – iets wat ek tot vandag toe eerder probeer vermy!
Nog iets wat ek baie gemis het, is ’n bekostigbare huishulp wat die huis kan skoonmaak, soos ons dit in Suid-Afrika geken het.
En laastens: om nuwe vriende te maak – dit vat tyd en verg moeite, veral in ’n land waar jy van vooraf moet begin.
Hoe het julle julself gevestig in die gemeenskap, was dit maklik om julle voete te vind en nuwe vriende te maak?
Kleiner gemeenskappe is baie meer oop om nuwe mense te verwelkom as die groter stede. Op die kleiner myndorpe het ons nuwe vriende begin maak. Ek was gelukkig om werk te kry waar ander Suid-Afrikaners werk. Ek het vir ’n lang tyd gehuil selfs as ek ’n Suid-Afrikaanse aksent hoor. Die trane het net gerol. My taal, my mense.
Dit het my ’n baie lang tyd geneem om emosioneel my voete te vind, maar ek was en is steeds, baie gelukkig dat my man soveel passie en liefde vir ons land en mense het. Hy vertel gereeld hoe hy Suid-Afrika ondervind. Bruce braai en speel vir my Afrikaanse musiek. Mense hier wil weet van ons land, en ons vertel die storie, ons ondervinding.
Is dit anders om inkopies te doen in Australië in vergelyking met Suid-Afrika?
My man kook, so hy doen die inkopies. Ons albei mis Suid-Afrikaanse kos, sagopoeding, malvapoeding, pap en sous, boerewors, Bloubul-steak en kaiings. Elke nou en dan sal een van die Suid-Afrikaanse families vir ons boerewors en biltong maak of ons bestel aanlyn van ’n Suid-Afrikaner in Brisbane. Ons het ’n internasionale afdeling in ons winkel, maar dis nie dieselfde nie. Kos is baie duur hier en die Flings en Ghost Pops is nie altyd so vars nie.
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika, dalk iets kleins wat ander dalk nie sou verwag nie?
Ons dokters se siekekamermaniere is baie beter as enige plek in die wêreld. Hier voel jy soos ’n nommer. Tandartse is onbekostigbare. Steers-burgers, goeie biltong en droëwors en veral ons winkels. Elke supermark lyk anders en bied verskillende kossoorte en -items.
Watter lesse het julle as gesin geleer sedert julle verhuis het, oor julleself, oor aanpassing, of oor julle nuwe omgewing?
Die Australiërs is gaande oor ons Afrikaanse aksent. In Suid-Afrika het Afrikaners baie kritiek ontvang oor ons Engels, maar hier ken almal ons aksent en is gaande daaroor. Dis eintlik goed om verskillend te wees. Een van die grootste lesse is dat jy nie die Afrikaans uit die Suid-Afrikaner kan kry nie, ons het passie vir ons land en mense.
Kry jy kans om te reis?
Ons probeer om elke jaar terug te gaan Suid-Afrika toe en probeer altyd om die Krugerwildtuin in te pas. Om terug te vlieg uit Wes-Australië is baie beter en goedkoper as uit Queensland.
Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Watter Suid-Afrikaanse tradisies leer julle vir julle kinders? Van watse Afrikaanse hulpmiddels maak julle gebruik?
My man verstaan Afrikaans, of liewer as ons rustig praat, hy ken ’n paar Afrikaanse woorde en natuurlik leer almal hom die slegte woorde eerste. Dit is groot sports as hy Afrikaans praat. Ons kleinkinders noem ons Oupa en Ouma en daar is ’n Springbok-rugbytrui teen hul kamermuur. Nee, ek praat net Afrikaans met my familie en vriende oor die foon en die Suid-Afrikaners wat hier in Australië is.

Is daar Suid-Afrikaanse winkels of produkte naby julle beskikbaar of moet julle kreatief raak om ’n smaak van die huis te kry? Het julle al professionele diensverskaffers gevind wat Afrikaans kan praat – soos dokters, prokureurs of selfs onderwysers?
O ja, Suid-Afrikaners is oral in Australië. Dis fantasties dat daar soveel professionele Suid-Afrikaners hier is. So dankbaar dat ons sangers en kunstenaars gereeld vertonings hier hou. Ons laaste vertoning wat ons in Perth bygewoon het, was Nataniël en Karen Zoid.
As jy aan hierdie emigrasiehoofstuk in jou lewe ’n titel sou gee, wat sou dit wees en hoekom?
“Nog steeds onder dieselfde hemel”
Die verlange is erg, my familie, my vriende, my lewe, my kos, my taal, maar ons is nog steeds onder dieselfde hemel. My geloof het ook baie sterker geword, “Help my Here”, maar nou sê ek ook na dit “Dankie Here”.
Wat sou jy sê is die grootste verandering in jouself sedert jy geëmigreer het?
My Engels is fantasties, maar ek bid nog steeds in Afrikaans.
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel, iets wat jy wens jy geweet het voor julle vertrek het, of raad vir ander wat oorweeg om dieselfde pad te stap?
Moenie te veel daaroor dink nie, doen dit net en glo en bid, dit raak beter!
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit die buiteland





















