Uit en tuis: ’n e-pos uit Christchurch, Nieu-Seeland

01/10/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Christchurch, Nieu-Seeland

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Charmaine Dix wat in Nieu-Seeland woon.

Ons is van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal. In 2012 het ons die besluit geneem om Suid-Afrika te verlaat. Die keuse was gebaseer op verskeie redes: veiligheid, ekonomiese geleenthede, politieke onsekerheid en bowenal die hoop op ’n beter lewenskwaliteit vir ons kinders.

Dertien jaar gelede het ons byna alles verkoop om weer van voor af te begin. Soos julle weet, was dit nie maklik nie. Ons het gebid, getwyfel, geglo en gehuil. Ja, ons het met ’n jong seuntjie en ’n jong dogter, as ’n hardwerkende, tradisionele gesin, alles agtergelaat. Geen pensioen, geen plan B nie, net geloof en ’n droom van ’n beter lewe in Nieu-Seeland.

Vir die eerste keer in my kind se lewe kon hy alleen na ’n park stap, of op sy fiets klim en self rondry. Dit was vir ons as ouers onskatbaar. Ons reis was nie maklik nie, maar ons geloof en vasberadenheid het ons deurgedra. Vandag, as ons terugkyk, weet ons die opoffering was die moeite werd.

Ons is ’n klein gesinnetjie van vier: my man Raymond, ek (Charmaine), ons dogter Anika en ons seun Nathan. Ons het al ons visums in orde gekry en was reg vir die groot trek.

Anika het egter nog ’n jaar in Suid-Afrika agtergebly omdat haar kêrel Justin, nou haar man, eers later sou saamkom. Sy wou onder geen omstandighede sonder hom in ’n vreemde land kom bly nie. In 2014 het ons toe ’n gesin van vyf geword.

Raymond het drie maande voor ons gekom om te begin werk en ’n huis te vind, terwyl ek besig was met inpak en reëlings. Dit was seker die meeste stres wat ek nog in my lewe moes hanteer, maar ek is nog hier!

Toe ek en Nathan uiteindelik in Nieu-Seeland aankom, het dit ’n bietjie tyd geneem om aan te pas. Ons het in Desember gearriveer en in Christchurch gebeur daar letterlik niks tot Februarie wanneer skole weer begin nie. Ek het vir 22 jaar gewerk, en skielik was ek ’n huisvrou. Genade! ’n Mens kan net soveel keer jou huis skoonmaak.

Ons meubels was nog op die see, so ek en Nathan het elke dag park toe gegaan of see toe. So het ons stadig maar seker begin aanpas.

Ons het uiteindelik vriende gemaak. Reg oorkant die straat het ’n dierbare Suid-Afrikaanse paartjie gewoon wat hulleself aan ons kom voorstel het. Vandag is ons steeds vriende. Shirley het ons toe genooi na die Suid-Afrikaanse etes, tee’s en sokkies. Daar het ek vir Martina ontmoet — ook van Suid-Afrika — en sy en haar man het ons beste vriende geword. Nou, 13 jaar later, is hulle soos familie.

Om eerlik te wees, hier is huise en hier is huise. Ons het aanvanklik in ’n klein huisie met net een badkamer gebly. Die kaste was piepklein, die kombuis-opwasbak so groot soos ’n plastiek skotteltjie, en die meubels te groot vir die vertrekke. Ná 18 maande het ons gelukkig in ’n groter huis ingetrek en alles het sommer beter gelyk.

Wanneer ’n mens dit met Suid-Afrika vergelyk, is die huise daar beslis beter.

Die grootste leemte is ons families en vriende. My seun het sy maatjies, Kaiden en Brendan, vreeslik gemis, maar soos kinders is, het hy vinnig aangepas. Ons mis die tipiese Suid-Afrikaanse braai en die kuier saam met geliefdes.

O, en natuurlik biltong! My man het vinnig geleer om dit self te maak. Nou, ná 13 jaar, voel dit soms asof ons nog altyd hier woon, maar die herinneringe en bande met ons oorsprong bly deel van ons.

Die kultuur was aanvanklik vreemd. Kinders groet nie altyd nie en ouers laat hulle maar gaan. Later het ek besef dis eenvoudig deel van die kultuur.

Die grootste skok was egter by die werk. Die werksomgewing is ontspanne — amper té ontspanne na my sin. Daar is min dringendheid, as die werk nie klaar is nie, is môre weer ’n dag. Ek het geleer om net my eie werk te doen en nie te stres oor ander nie.

Nie altyd nie, maar in Desember probeer ons altyd Nieu-Seeland verken. Die maatskappye is toe, dit is somer en die weer is heerlik. Ons kampeer by die see, ry fiets en doen paddle board. Dit is veilig en besonders.

Ons het vinnig besef ons het net mekaar, en dit is ’n groot voorreg om in ’n veilige land te woon. Ek het swaar gesmag na my mense, my taal en kultuur, maar besef: my man en kinders floreer, en dit is vir my genoeg.

Ons praat steeds volstoom Afrikaans — selfs my Engelse man gebruik dit meer hier as in Suid-Afrika. Anika (32) en Nathan (22) leef nog met baie Suid-Afrikaanse tradisies. Afrikaans bly ons huistaal en ons is trots daarop.

Ja, in Christchurch is daar ’n paar winkels en ook Afrikaanse dokters, tandartse en selfs onderwysers. Een vriendin van my leer haar klas Afrikaanse liedjies sing — dis so oulik.

As ek iets in my tas kon pak, sou dit my familie gewees het. Ek dra hulle in my hart, mis hulle elke dag, en bid daagliks vir hul veiligheid.

Die grootste verandering in my is die kalmte wat gepaard gaan met die verandering van leefstyl en omgewing. Nieu-Seeland is bekend vir sy veiligheid, natuurlike landskappe, en die beklemtoning van werk-lewe balans. Dit gee sekuriteit en gemoedsrus.

Doen jou huiswerk. Maak seker jy en jou maat is op dieselfde bladsy, want jy het net mekaar. Ek het vir twee jaar gelees en geleer oor Nieu-Seeland. Ons is nie spyt oor ons besluit nie.

Maar die verlange na jou vaderland gaan nooit heeltemal weg nie. Maak seker jou verwagtinge is realisties, want dit is nie Suid-Afrika nie.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels