Uit en tuis: ’n e-pos uit die Sunshine Coast

25/11/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit die Sunshine Coast

Van Pretoria tot Sunshine Coast: Michelle Strydom oor nuwe weer, nuwe werk en die selfvertroue wat emigrasie bou

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Michelle Strydom, wat in Australië woon.

Ons is oorspronklik van Pretoria. Dit is nogal ’n lang storie, maar die kort weergawe is dat my man, Marco, skielik ’n werksaanbod uit Nieu-Seeland ontvang het. Nadat ons dit deeglik bespreek het, het ons besluit dit is ’n geleentheid wat ons nie kon laat verbygaan nie. Vier maande later – visums in die hand – was ons op pad om ons nuwe hoofstuk oorsee te begin.

Na nege jaar het ons burgerskap in Nieu-Seeland gekry en toe besluit ons om vir die tweede keer te emigreer, dié keer na Australië. Met ons nuwe paspoorte kon ons dit doen sonder visums. Die grootste redes vir ons besluit was ’n beter klimaat en meer geleenthede. Ons woon tans aan die Sunshine Coast, sowat 45 minute noord van Brisbane – baie naby aan die klimaat waaraan ons in Pretoria gewoond was. Nieu-Seeland is ’n ongelooflik veilige en pragtige land, maar die oorwegend nat, koue weer het vir ons ’n groot uitdaging geword.

Ek en Marco het in November 2015 getrou. Twee maande later het hy die werkaanbod uit Nieu-Seeland gekry en ons lewens het oornag verander. Hy is in Mei 2016 vooruit, en ek het twee weke later gevolg – na ’n paar dokumentasie-uitdagings en heelwat vrae, want ons was pasgetroud!

Ja en nee. Vir Marco was dit glad nie ’n groot aanpassing nie, hy het baie vinnig ingeskakel en sy kollegas het hom baie welkom laat voel. Vir my was dit ’n ander ervaring. In Nieu-Seeland het ek by drie maatskappye gewerk, en by twee daarvan het ek gevoel ek hoort nie regtig daar nie. Die derde was ’n internasionale maatskappy waar ek regtig deel van die span gevoel het. In ons ervaring kom dit dikwels neer op wie jou toesighouer is.

Die sogenaamde tall poppy syndrome is iets wat ek wel ervaar het in Nieu-Seeland, maar nié in Australië nie.

Klein dingetjies was ook nuut, soos ’n vasgestelde “morning tea”-pouse wat almal gelyk neem, en dat middagetes graag saam, buite in die vars lug, geniet word.

In Australië voel die werkkultuur vir ons albei baie beter. Ons is welkom en geniet ons kollegas opreg.

Glad nie. Ons is nou eers agt maande hier, maar pas baie goed aan en het reeds ons eie huis gekoop. Dit was letterlik honderd keer makliker as in Nieu-Seeland. Hier gee mense nie om waar jy vandaan kom nie, jy word eenvoudig aanvaar soos jy is, en hulp word vrylik aangebied.

My ervaring is gebaseer op Queensland se reëls. Een van die grootste aanpassings is dat elke staat en grondgebied sy eie regulasies en selfs sy eie openbare vakansiedae het.

Dan: jou digitale identiteit. Jy kan niks doen daarsonder nie: nie ’n bankrekening oopmaak, werk kry, ’n huis huur of ’n kar koop nie. Dit is baie administrasie, maar sodra dit klaar is, werk alles seepglad.

Ons het ook ons kat saamgebring van Nieu-Seeland af. Sy was ’n buitekat daar, maar hier is streng reëls. Sy mag nie buite die erf rondloop nie, daar is groot boetes, en sy moet te alle tye geregistreer wees en ’n halsband met haar nommer dra.

Ons het nog nie Australië verken nie, maar ons het heerlik in Nieu-Seeland gereis. Ons het ’n afleweringsvoertuig omskep in ’n motorwoonwa en 80% van die mooiste plekke op die Noordeiland besoek. Dit was ’n besonderse ervaring en die reisgogga het behoorlik gebyt! Baie toeriste verken die land op dieselfde manier, dis bekostigbaar en avontuurlik. Nieu-Seeland het ook van die beste bergfietsroetes wat ek al gesien het.

Ja, twee winkels in ons omgewing het ’n groot verskeidenheid. Maar van die begin af het ons besluit om aan plaaslike produkte gewoond te raak. Suid-Afrikaanse produkte is baie duur in die buiteland. Plaaslike produkte kos omtrent die helfte. Ons trakteer onsself wel soms met biltong en boerewors, want niks plaaslik kom naby die egte ding nie!

“Die diep kant is nie altyd sleg nie.”
Ons het nog nooit uit Suid-Afrika gereis voordat ons geëmigreer het nie. Ons het blindelings na ’n land gegaan waar ons nog nooit was nie. Dit was die beste ding wat met ons kon gebeur. Ons het groot gedroom in Suid-Afrika, maar kon nooit voorsien dat ons eendag hier sou wees nie.

Sonder twyfel: selfvertroue. Toe ons in 2016 op die vliegtuig klim, kon ek skaars ’n Engelse sin vlot vorm. Vandag woon ek in ’n Engelstalige land en werk in ’n internasionale oproepsentrum. Ek sê dit nie om myself te prys nie, maar om ander te bemoedig. As ek dit kon doen, kan jy dit ook doen.

Die belangrikste: As jou huwelik nie 200% sterk is nie, moenie hierdie hoofstuk begin nie. Emigrasie bring stres en groot uitdagings, en dit kan ’n huwelik breek. Julle moet op dieselfde bladsy wees.

Dan iets wat ek baie glo:
Ondersteun die land waarin jy woon, of woon in die land wat jy ondersteun.
Ons het al gesien hoe mense hier aankom en Suid-Afrika in Australië of Nieu-Seeland probeer herskep – en wanneer dit nie werk nie, raak hulle bitter en gaan terug.

Ook: jou beste vriende is nie noodwendig Suid-Afrikaners nie. Maak oop vir die Aussies en die Kiwi’s, hulle is wonderlike mense.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels