Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Bernelle Visser wat in Australië woon.
Hallo Bernelle, dit is heerlik om met jou te gesels!
Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en hoekom het julle besluit om juis na Australië te emigreer?
Ons het uit Brackenfell, Kaapstad na Australië geëmigreer. Ons het al ’n paar jaar gesoek na werksgeleenthede vir albei van ons wat ons uit Suid-Afrika kon neem en het toevallig in die proses uitgevind dat Mareo se vaardighede as tegnikus op die “skill shortage list” in Australië was nadat ’n onderhoud suksesvol was. Australië was dus die maklikste pad om te volg, asook vir permanente verblyfreg.
Hoekom het julle spesifiek Geraldton as jul nuwe tuiste gekies?
Ons oorspronklike werksgeleentheid wat ons na Australië gebring het, was in Sydney maar ná ’n paar jaar het ’n beter werksgeleentheid in Wes-Australië ons oorreed om die skuif te maak, en ook vir die beter lewenskwaliteit en voordele wat WA bied teenoor NSW.
Hoe het jy die emigrasieproses ervaar, was daar iets wat jou verras het of wat moeiliker was as wat jy verwag het?
Dit was een van die moeilikste dinge wat ek emosioneel al ooit moes doen, maar ek wens ons kon dit dekades gelede al gedoen het sodat dit ’n hele generasieverandering kon wees. Sodat ons almal die beter lewenskwaliteit kon geniet. Ons het verwag daar sal baie papierwerk en koste, stres en trane wees. Ons was verras met hoe vinnig mens jouself weer aan hierdie kant kan opbou en ’n regverdige, groeiende pad stap in jou werk, teenoor Suid-Afrika.
Hoe het julle julself gevestig in die gemeenskap, was dit maklik om jul voete te vind en nuwe vriende te maak?
Ons het in kontak gekom met ’n Suid-Afrikaanse vriendegroep in Sydney wat almal ontmoet het by ’n rolbalaand en van daar af het ons goed oor die weg gekom en gereeld bymekaargekom. Dit het dit baie maklik gemaak om vriende te maak, ons moet nou dieselfde doen hier in Geraldton.
Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Australië. Het julle al ’n netwerk of sosiale kring opgebou daar? Kom julle soms bymekaar?
Ons het in Sydney ’n sosiale kring en ons is gelukkig om familie in Perth te ken, asook ’n ou skoolvriend van Mareo. Ons moet nog werk aan ons netwerk in Geraldton, aangesien ons nou eers vier maande hier woon. Ons is bevoorreg om aangename bure van Suid-Afrika te hê. Hier woon ’n paar in ons straat.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika, dalk iets kleins wat ander dalk nie sou verwag nie?
Die hospitaliteit in restaurante, salonne, ens. Die Suid-Afrikaanse humor in die werksplek. Ek dink Suid-Afrikaners gebruik humor as ’n tipe oorlewingsmeganisme.
Wat het jou verras of beïndruk van die Australiese leefstyl of kultuur?
Dat min dinge afgeskeep word of alles is ’n professie en daarom word meeste dinge reg gedoen soos die boek sê. Ons geniet die vertrouesisteem baie en dit moedig mens aan om altyd die regte ding te wil doen.
Wat doen jy en jou gesin vir ontspanning daar – is daar iets uniek aan Geraldton wat julle geniet?
Ons gaan nou baie see toe want ons woon stapafstand van die strand af, speel tennis, soek goeie koffie, ry op die branderplank en braai langs die strand. Ons geniet die strande hier en die kampeerplekke suid en noord van Geraldton.

Watter lesse het julle as gesin geleer sedert julle verhuis het, oor julleself, oor aanpassing, of oor julle nuwe omgewing?
Geld en materialistiese dinge kom altyd terug, maar tyd doen nie. Jy beïndruk niemand met jou duur motor of groot huis nie en niks hoef so dringend en stresvol te wees nie. Dis lekker om altyd veilig te voel en nie te hoef kies tussen behoeftes en wat jy wil hê nie. Hier kan mens maklik beide kry.
Praat julle nog Afrikaans by die huis? Hoe belangrik is dit vir jou om die taal en kultuur te behou?
Ons gaan eerder dood voordat ons nie meer Afrikaans mag praat nie. Dit is belangrik om ons kultuur te hou maar dit kom ook natuurlik. Dit is eintlik net in die werksplek waar ons regtig moet Engels praat en aanpas of met die publiek.
Is daar Suid-Afrikaanse winkels of produkte naby julle beskikbaar of moet julle kreatief raak om ’n smaak van die huis te kry? Het julle al professionele diensverskaffers gevind wat Afrikaans kan praat soos dokters, prokureurs of selfs onderwysers?
Daar is baie produkte beskikbaar naby ons en winkels wat Suid-Afrikaanse produkte verskaf. Ons het ook Suid-Afrikaanse dokters in die dorp.
As jy aan hierdie emigrasiehoofstuk in jou lewe ’n titel sou gee, wat sou dit wees en hoekom?
“Tasse vol stories” – daar is so baie betrokke by die proses, maar ook baie herinneringe wat jy altyd by jou sal dra en koester van jou lewe voor emigrasie.
Wat sou jy sê is die grootste verandering in jouself sedert jy geëmigreer het?
Mens besef wat en wie werklik belangrik is en hoe sterk mens regtig kan wees.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Japan

























