Uit en tuis: ’n e-pos uit Gladstone, Queensland, Australië

18/11/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Gladstone, Queensland, Australië

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het.
Hierdie week gesels ons met Tanya Ungerer, ’n veearts van Worcester, wat saam met haar gesin in Australië woon. Hulle het eers in Nieu-Seeland gewoon voordat hulle na Queensland verhuis het – en Tanya sê dis nou “amper soos om weer tuis te kom”.

“Om twee keer in bietjie meer as drie jaar so ’n groot trek aan te pak, was nie kinderspeletjies nie, maar ons is baie bly ons het die skuif gemaak.”

Ek is oorspronklik van Worcester in die Wes-Kaap. Ons het aanvanklik Nieu-Seeland toe geëmigreer. Dit was nie destyds deel van ons plan om Australië toe te kom nie, maar na drie en ’n half jaar daar, het ons vier maande gelede besluit om die skuif te maak.
Ons het al vantevore ook in Engeland gewoon, so ek dink die reisgogga is maar in ons bloed! Alhoewel die gewone redes – soos ’n beter toekoms vir ons kinders – ’n rol in ons besluit gespeel het, het my beroep dit maklik gemaak om elders te werk. Ons het gedink: hoekom nie?

Waar ons in Nieu-Seeland gewoon het (Tauranga op die Noordeiland), was daar ongelooflik baie Suid-Afrikaners. Jy kon bitter min winkels toe gaan sonder om Afrikaans te hoor!
Ons is nog maar vier maande in Australië, so ons kyk nog die kat uit die boom uit, maar die mense hier in Gladstone is besonders vriendelik. Iemand sal altyd ’n geselsie aanknoop as jy in ’n ry staan.

“Hier is ’n hele paar Suid-Afrikaners, maar baie van hulle is al jare hier – goed geïntegreer en tuis.”

Ek is ’n veearts en werk in ’n praktyk waar dinge redelik glad verloop. Die werkkultuur hier is vir my meer soos Suid-Afrika as Nieu-Seeland – die mense is hardwerkend en maklik om mee oor die weg te kom.
In Nieu-Seeland was hulle baie gesteld op vaste teetye en middagetes; dit was vir my vreemd!

“Waar ons nou woon, voel dit half vir my asof ek tuisgekom het.”

Die aanpassing in Nieu-Seeland was vir my baie groter. Dalk is dit omdat dit ons tweede immigrasie is, dat alles nou makliker voel.
My aanpassings is meer “Eerstewêreldprobleme”: lawaaierige voëls, winkeltrollies wat skeef loop en warm, drukkende weer!
Maar ons kla nie – dis juis die klimaat wat ons gelok het. Ná al die reën en kort somers in Nieu-Seeland, is die sonskyn hier heerlik.

Ek hou van fietsry, swem en hardloop; my man is mal oor visvang. Ons verken graag nuwe plekke, eilande en parke.
Hier is ook mooi strande sowat 20 minute van ons af – perfek vir pieknieks of swem.

“Ek geniet veral die veiligheid hier. As die kinders of ek alleen wil gaan draf of fietsry, hoef ons nie bekommerd te wees nie.”

En dan natuurlik: skoon openbare toilette, netjiese fasiliteite en kangaroes op die skool se rugbyveld!

Ons sien ons familie min, maar ons praat gereeld. Ek het ’n suster in Suid-Afrika en ’n broer in Praag. Ons het nou ’n oom en tannie wat 500 km van ons af woon – dit is heerlik om soms saam te kuier.

Ons het geleer dat solank ons as gesin se verhoudings sterk is, sal alles regkom.
’n Gunstelingsêding vir ons is: “Dit is wat dit is.”
As jy emigreer, onthou: niemand het jou genooi nie – jy het self besluit om te gaan. Vergelyk minder, ervaar meer. Dis die enigste manier om regtig tuis te raak.

“Baie van ons Suid-Afrikaanse tradisies draai om kos!”

Ons maak biltong, wors en droëwors, bak beskuit, en maak Peppermint Crisp-tert of melktert. Ons braai gereeld – vleisie en braaibroodjie ingesluit!
By die huis praat ons uitsluitlik Afrikaans. As die SA-ondersteuningsgroep ’n sokkie hou, gaan ons saam – dis hoe die kinders leer dans én Afrikaans praat.

Ons het nie ’n Suid-Afrikaanse winkel naby nie, maar die Spar verkoop Fizzers en dit maak die kinders baie bly. Ons maak ons eie speserye vir biltong en droëwors – en as ek beskuit het, is ek gelukkig!
Daar is ook ’n paar Suid-Afrikaanse onderwysers en diensverskaffers in die dorp.

Ek mis naweke by my ma, of vinnige koffie-afsprake met my suster. Ek mis die gemak van bekende plekke en mense wat jou “net ken”.
En Pick n Pay Clothing! Klere koop bly moeilik. Ons het baie lekker gewoon in Worcester en mis ons vriende, maar ons is dankbaar en begin nou wortel skiet hier.

“Ek het geleer om minder te bekommer en meer te vertrou.”

Elke trek leer jou dat jy met min kan klaarkom. Ek het geleer om eenvoud te waardeer – selfs in ’n amper leë huis.

Vir ons was dit belangrik om 100% aan die skuif toegewy te wees. Daar was nooit ’n omdraaikans nie.
Ek glo ook jy leer ’n land en sy mense die beste ken as jy op die platteland bly – dis waar jy die ware hartklop van die plek ervaar.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels