Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het.
Hierdie week gesels ons met Karien Reyneke wat in Nieu-Seeland woon.
Hallo Karien, dit is heerlik om met jou te gesels! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik, en hoekom het julle besluit om juis na Nieu-Seeland te emigreer?
Alberton was ons tuiste vir die laaste 20 jaar. My man, Robert, is deur ’n Nieu-Seelandse maatskappy genader wat vir hom werk aangebied het. Ons het letterlik binne twee maande alles gereël – paspoorte, visums, geboortesertifikate. Ons het alles verkoop of weggegee, en op ’n vliegtuig geklim na ons nuwe tuiste: Blenheim.
Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? Wat was die grootste aanpassing vir jou in Nieu-Seeland?
Ek dink dit wat mens op Google sien is absoluut nie hoe dinge in ’n ander land werk nie. Ons moes leer oor die kultuur, hul sê-dinge, hul kossmake. “Daylight saving” was ’n groot aanpassing, veral in die winter. Dit is 17:00 al stikdonker buite. Somer is heerlik want dan is dit lig buite tot amper 21:30 tien in die aand.
Die skoolsisteme maak my nog gereeld lekker deurmekaar want hulle werk op ’n kredietstelsel.
Hoe het julle julself gevestig in die gemeenskap – was dit maklik om julle voete te vind en nuwe vriende te maak?
Ek is bevoorreg om in ’n beroep te wees waar ek daagliks met baie mense werk. Werksvriende het huisvriende geword. So het ons ’n paar spesiale vriende gemaak op wie ons regtig kan steun – daardie mense wat soos “huis” voel.
Vertel ons watse werk jy doen en hoe die werkskultuur in Nieu-Seeland verskil van dié in Suid-Afrika?
Ek is ’n demensie-adviseur by Alzheimers Marlborough. Voor dit het ek vir 20 jaar by SAPD gewerk. Die werkskultuur is wêrelde van mekaar verwyderd. Ek werk nou van 08:30 tot 15:00, wat hulle “skoolure” noem. Dit maak alles soveel makliker, veral met ons twee kinders. In Suid-Afrika het werk altyd eerste gekom, en my gesin tweede. Hier voel dit andersom. Ek kan my gesin eerste plaas.
Hoe gereeld sien julle familie mekaar?
Dis ’n teer punt. My sussie was verlede jaar vir drie weke hier, en ’n vriendin het onlangs vir ’n kort vakansie kom kuier. Maar daardie oomblik op die lughawe voel elke keer soos die groot “totsiens”. Robert mis sy ouers verskriklik. Ons hoop hulle kom binnekort kuier.
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika – dalk iets kleins wat ander dalk nie sou verwag nie?
Die reuk van ’n varsgebakte kaasrolletjie wanneer jy by Spar instap.
Die reuk van reën op ’n stofpad.
Wat het jou verras of beïndruk van Nieu-Seeland se leefstyl of kultuur?
Vyfjariges wat met hul rugsakkies en valhelms op hul fietsies alleen straat-af skool toe ry.
Kinders wat te voet, met ’n fiets of op ’n skopfiets skool toe gaan.
Parkies wat ongelooflik goed ingerig is met klimrame, swaaie en netjiese omgewings.
En alles is skoon en word goed onderhou – paaie word dadelik reggemaak, daar is geen slaggate nie, en jy sien nie rommel rondlê nie.
Watter lesse het julle as gesin geleer sedert julle verhuis het – oor julleself, oor aanpassing, of oor julle nuwe omgewing?
Ek glo nie enigiemand besluit om te emigreer vir hulself nie – dit is vir die kinders. Linke (12) en Rico (17) is baie gelukkig hier. Dit het tyd geneem om vriende te maak, maar dit gaan nou goed. Ons het weekliks saam gesit en gesels, om seker te maak almal is reg en dat ons oor emosies kan praat. Kommunikasie is belangrik.
Wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?
Dis wie ons IS, en dis wie ons sal BLY. Ons praat nog steeds Afrikaans. Ek het ’n kollega nou die dag gevra as sy verby my sou loop in ’n winkel, of sy sou kon sy sien ek is ’n Suid-Afrikaner? En haar antwoord was, glad nie, totdat sy my hoor praat. Afrikaans is so diep gewortel dat dit nie iets is wat jy sommer net kan vergeet of wegbêre nie.
Is daar Suid-Afrikaanse winkels of produkte naby julle beskikbaar of moet julle kreatief raak om iets te ervaar wat julle aan die huis herinner? Het julle al professionele diensverskaffers gevind wat Afrikaans kan praat, soos dokters, prokureurs of selfs onderwysers?
Snaaks genoeg, my seun het twee Suid-Afrikaanse onderwysers – vir Wiskunde en Engels. Ons tandarts is ook van Suid-Afrika. Maar ons dorp is klein, so ons bestel die meeste produkte aanlyn. Die groter dorpe het meer opsies.
As jy aan hierdie emigrasiehoofstuk in jou lewe ’n titel sou gee, wat sou dit wees, en hoekom?
Ek sou dit my “drie minute”-hoofstuk noem. Ons het van die begin af gesê: as jy verlang, hartseer of alleen voel, vat drie minute – voel dit, deel dit, huil as jy moet – en dan vee jy jou trane af en gaan aan met jou dag.
Wat sou jy sê is die grootste verandering in jouself sedert jy geëmigreer het?
Hierdie pad is nie vir die “faint-hearted” nie. Ek moes leer om volkome op my eie voete te staan. Daar is nie ’n “wat as”-opsie nie. Jy kan nie sommer net gou jou ma bel nie. Jy is verantwoordelik vir jou eie geluk, en daar is nie feetjies of reënboë wat jou net so gelukkig gaan maak nie. Jy moet dit self bou.
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel, iets wat jy wens jy geweet het voor julle vertrek het, of raad vir ander wat oorweeg om dieselfde pad te stap?
Doen deeglike navorsing voordat jy op ’n vliegtuig klim. Daar gaan dae wees wanneer jy wonder hoekom jy dit gedoen het, maar daar gaan ook dae wees wanneer jy wéét hoekom jy dit gedoen het.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Duitsland
























