Van Op vlerke: Diere se avonture en ’n kwaai olifant op die pad na die Mingerhoutdam

05/08/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Van Op vlerke: Diere se avonture en ’n kwaai olifant op die pad na die Mingerhoutdam

André Christof

Ons gaan een jaar aan die begin van Mei vir ’n paar nagte se oorslaap by Orpenhek die Krugerwildtuin binne, ons is vir twee nagte in Letaba-ruskamp en twee in Pretoriuskop bespreek.

Die oggend van ons huweliksherdenking, Saterdag 5 Mei, maak Kate vir ons vroegoggend in Letabakamp, voor ons die pad vat om wild te gaan besigtig, eers ’n heerlike ontbyt. Na sy opgeskep het, sit en smul ons op die stoep, geniet dit saam met ’n koppie koffie.

’n Wolk van geure tref jou, dit hang soos ‘n sliert mis in die lug. Ons beloer die voëltjies in die skaduryke bome voor die rondawel tussen die happe deur, die brosgebraaide spekkies kraak so.

’n Paar gewone trosvybome met die gelerige stamme staan daar op die grasperk tussen die haak-en-steek met die plat krone, een gewone trosvy het so ’n ýslike dik stam met reuse stutwortels.

Die uitgestrekte rivier lê anderkant die omheining, die water vloei om ’n draai in ’n breë strook voor die oorkantse oewer na regs verby.

Nie ver van ons af nie, naby twee Natalse fisante wat op die grasperk wei, maak ’n boomeekhorinkie aan die agterkant van ’n haak-en-steek se stam versigtig, voetjie vir voetjie, haar verskyning. Later spring dit op die geplaveide voetpaadjie duskant die omheining waar dit al teen die kant af snuffel terwyl dit die stertjie wip.

Kek kék-kék-kék, kek kék-kék-kék, krys die mannetjie fisant so ’n slag waar dit tot op die rugleuning van ’n houtbank, wat naby die omheining staan, gevlieg het en nou van dáár die omgewing staan en bespied.

Drie bosbokooie kom bykans ongesiens, die een na die ander, regs van die restaurant se kant, rustig agter ’n rondawel uitgestap, ons beloer die voorste een waar dit voor ’n bedding aalwyne met sulke groot, dik, groen blare verby loop. Die buisagtige blomme aan die plante se lang dun stele is rooi en groei in digte bloeiwyses.

Een aalwyn stal so ’n kandelaar van geel buisblomme uit.

Pragtig is die ooi met die vaalgeel- tot kastaiingbruin pels, blougrys ore en nek, wit kolle op die flanke en strepe oor die rug.

Soos sy ’n oomblik daar weifel, die kop effe skuinsgedraai en met gespitste ore na die rondawels se kant kyk, sien ons die duidelike bleek vlek voor die oë, die enkele wit dwarsstreep oor die keel aan die basis van die nek, hier en daar wit kolletjies aan die kant van die kop en wit merkteken by die bek.

Dan sien ons sy het wit aan die bene en stertkwas, ook wit klossies hare aan die binnekante van die ore.

Trrrrrrr, trrrrrrr, trrrrrrr, hoor ons met reëlmaat die luide trillende roep van ’n mannetjie kuifkophoutkapper in die kamp.

Oooooop oooooop, oooooop oooooop, laat ’n spookvoël, wat maar ’n sku woudbewoner is en moeilik opgespoor word, nou en dan van hom hoor. Op ’n keer gewaar ons een waar dit skuins bokant die rondawel in die blaredak insekte jag.

Tit tit tit tit tiŕŕŕŕŕŕ-tit-tit-tit-tit-tit, tiŕŕŕŕŕŕ-tit-tit-tit-tit-tit, raas ’n klomp gewone tarentale uit die rigting van die rivier dat mens dit wie weet waar kan hoor.

Na ons die skottelgoed opgewas het, neem ons die kamerasak met toerusting en die klein koelhouer met twee botteltjies yswater in, sit dit in die kar en kies koers in die rigting van die brug oor die Letabarivier wat so sewe kilometer van die kamp af is.

Oudergewoonte het Kate agter in die kar geklim, daar waar sy hoër sit as voor, ’n beter uitsig het en natuurlik waar sy van al die interessanthede ’n video neem. Sy kan daar vryelik na enige kant beweeg.

So in die ry beloer ons ’n immergroen plant met vaalgroen blare en ’n skerp reuk soos katbos. Dit groei daar op plekke tussen die mopanies wat in herfskleure vlam, die blare afgeëts teen die donker stamme met hulle diep oorlangse groewe en takke. Ons verneem die plant staan in die wildtuin bekend as sebrasweetbos, maar word ook bitterbos, stink bitterbos, of stinkbossie genoem.

Ons het nie baie ver langs die rivier, regs van ons, opgery nie, toe gewaar ons ’n groot vlakvarkbeer in die veld, net links van die pad, seker een van die grootstes wat ons nóg teëgekom het. Hy het sulke groot vratte onder die oë aan die kop en kleiner vratte bokant die yslike slagtande wat bo die snoet omgekrul is, en ’n groot ronde pens. Die lang woeste maanhare is al so effe grys, ook die vel om die oë, wat die ene plooie is.

Kate probeer om van hom ’n video te neem, maar toe ek naby hom stilhou, vlieg die dier, waarvan die sig maar swak is, daar weg dat die stowwe so staan, draf, gaan staan dan met gespitste ore agter ’n struik en beloer ons met sulke kraalogies. Nou skakel ek die kar se enjin weer aan, ry vorentoe dat ons hom uit ’n ander hoek mooi kan sien, maar dan vlieg hy weer dáár weg en gaan staan effe dieper die veld in, wéér agter ’n struik.

’n Ent vorentoe hou ek naby ’n droë boom, waarin ’n paar duiwe sit, stil. Die een voël is onbekend aan ons, nou beloer ons dit deur die verkyker, ook raadpleeg Kate die voëlboek. Ons sien dit is ’n mannetjie namakwaduifie met die swart gesig en keel, wit borskant en lang gepunte stert.

Verder teen die rivier op sien ons nie veel nie, buiten vir kolganse wat op ’n plek langs die water doenig is en ’n enkele grootwitreier.

Later vertoef ons ’n wyle op die brug oor die Letabarivier. Ook dáár is als stil, dus draai ons aan die anderkant om en besluit om, soos ek reeds vroegoggend voorgestel het, die rit al langs die rivier op tot by die Mingerhoutdam te neem en van daar tot waar die grondpad naby Letaba by die Phalaborwahek-pad aansluit, te verken.

Al die jare wat ons die wildtuin besoek, was ons nog nooit op daardie stuk pad uit nie, maar vandag, met ons huweliksherdenking, glo ons dat ons, daar teen die groot Letaba op, nie teleurgestel sal word nie.

Pas na ons afgedraai het, gewaar ons nog ’n vlakvarkbeer links in die oop veld, dit kom rustig aangestap, steek nou en dan in die lang droë grasse vas om ons met gespitste ore te beloer, beweeg nader, steek vas, kyk, wikkel ’n oor.

Die dik roesbruin maanhare sliert oor die rug, ’n mens sien nie eens die binnekante van die gepunte ore nie, dit is oortrek van lang woeste hare wat daar uitpeul. Hy het verder baarde aan die kante van die kop, yslike vratte, donker sakke onder die oë.

Klein geel skoenlappertjies fladder die wêreld vol.

Ons volg vol afwagting die kronkelpaadjie, sien dikwels die rivier, poele, kuile, groot stukke water tussen die ruigtes en massiewe bome se stamme, wat op die oewer regs van ons staan, deur.

Nie veel verder nie, ry ons teen ’n baie skuins afdraande af en gaan hou onder in die droë N’wanedzirivier stil wat ’n ent regs om ’n draai by die Letabarivier aansluit. Weerskante van die rivierbedding sien ’n mens net die twee yslike, bykans regaf walle. Bome en struike groei daarteen uit, op plekke hang daar wortelstelsels af.

Ons beloer nog ’n koedoebul met drie rooibekrenostervoëltjies op die lyf en ’n waterbokkoei wat ’n hele ent uitmekaar in die klipperige rivierbedding aan die jong plantegroei staan en vreet, toe raak ons bewus van een van die wildtuin se safarivoertuie met ’n bokssleepwa aangehaak, wat ons van agter af benader.

Daar is geen passasiers in die voertuig nie.

Die bestuurder ry stadig links van ons verby, op ’n plek lyk dit maar moerasagtig.

“Ek sou dit nie dáárdeur waag nie,” beduie ek nog vir Kate.

“Wel, hy sit in ’n viertrekvoertuig en ken die omgewing, so hy sal verseker daar kan deur,” meen sy.

Die volgende oomblik gaan staan die voertuig, maar die wiele dráái, die koedoe skrik en kies koers terug na die veld, dus sit ons nou maar die rit voort, ’n ent vorentoe ry ek stadig in eerste rat teen die baie steil helling aan die anderkant uit.

So ’n kilometer verder sien ons ’n buffelbul wat in die veld op die voorlyf in die skaduwees lê, sy voorkant na ons gedraai, sy kop is agter die veelvuldige stamme van ’n mopaniestruik ingedruk. Ons kan net ’n stukkie van ’n horing sien. Dit moet seker ’n ouerige bul wees, want hy het al ’n paar velvoue en krapmerke oor die lyf. Hy moes reeds vir ’n tyd op sy regterkant gelê het, want droë blare, ’n paar kluite en roesbruin grond sit nog daar aan sy boud en agterbeen vas.

Aan die anderkant van die pad, tussen die ruigtes deur, gewaar ons ’n trop waterbokke in die uitgestrekte rivierbedding.

Ons oë vang net vir ’n oomblik, die onderkant van ’n berghaan wat laag oor die bome skuins bokant ons na die rivier se kant wegdraai. Opmerklik is sy rooi snawel en kort stert. Die onmiskenbare rooi pote wat na agter uitgestrek was, het vlugtig onder die lyf uitgekom.

’n Tyd later sit en beloer ons ’n trop rooibokke wat ons links van die pad gewaar. Nie lank nie, kom die safarivoertuig van vroeër, met sleepwa en al, haastig by ons verby.

’n Mens kan sien dit is Meimaand. ’n Rooibokram loop paarlustig agter van die ooie aan, elke nou en dan laat sak hy naby een sy kop, die nek is gestrek, die kop agteroor gelig, die horings is tot laag oor die skof laat sak, dan snuif hy die lug. ’n Paar maal stoot hy sy bek met so ’n tuit voor hom uit. Sodra hy te na aan ’n ooi kom, draf sy so ’n entjie weg. Hy laat hom egter nie afsit nie en volg haar meedoënloos soos hy met die horings laag oor die rug laat sak en met sy getuite bek bronstig bulk.

Van die ooie stap rond, hulle swaai die stertjies dat dié wit flits. Een hier regs van ons, gaan met die kop af, krap met ’n agterpoot teen die bek, dan aan die kant van die kop, daarna gaan staan en kyk sy weer oor die veld uit terwyl sy die ore wikkel en die stertjie swaai.

Heelparty van hulle lê op hulle voorlywe en kyk oor die veld uit, dié het ons met sulke groot ogies beloer toe ons daar kom stilhou het, elke nou en dan wikkel een die ore.

Verder op die pad uit kom ons dikwels bewyse van olifante se teenwoordigheid teë. Nou en dan sien ons ’n boom waarvan die bas gestroop is. Die flenters hang nog daar waar hulle doenig was af, hier en daar lê ’n groen takkie in die pad, op ’n plek koes ek so met die kar tussen sulke yslike bolle redelik vars mis deur.

Ons ry nog so rustig om ’n draai toe ons skielik ’n groot trop olifante gewaar wat ’n ent vorentoe, aan die rivier se kant, uitgestrek tussen die ruigtes en onder van die massiewe bome deur na links oor die pad terug in die veld in beweeg.

Die mikstertbyevangers het ’n fees, hulle trek saam met die trop, elke nou en dan gewaar ’n mens een wat oor die veld vlieg om hom ’n entjie verder op ’n volgende tak tuis te maak om vandaar te jag. Soos die bosreuse aanbeweeg en insekte in die grasse versteur, vlieg ’n byevanger haastig nader, waar dit oor die plek fladder om ’n vangs te maak.

Die olifante stroom oor die pad, groot en klein, hier en daar het ’n grote ’n tak in die bek.

Na meeste in die ruigtes aan die anderkant buite sig geraak het, kom van die agterstes nog van die rivier af aan. So in die loop tel ’n opgeskote olifant grond met die slurp op, gooi dit oor die rug.

Twee grotes steek by van die massiewe mopanies regs van die pad vas. Nou staan en skuur hulle eers hulle lywe teen die dik stamme, by die blad, agter die ore en oor die boude. Een met sulke yslike tande het in ’n stadium skoon skuins na die een kant toe teen die stam geleun, later omgedraai, toe kom die agterent aan die beurt, heen en weer skuur dit, nou en dan knak dit die knieë.

Toe die olifant daar klaar is, beweeg dit na die effe kleiner een, por dit aan, want nou het hulle al heelwat agter die trop geraak. Baie vies draai die ander koei weg van die boom waar sy doenig was, trap met die linkervoorpoot na die groter een af, dan skud sy haar kop dat die ore flap. Haar slurp maak sommer so ’n boog deur die lug, daarna stap hulle met sulke lang treë oor die pad.

Die volgende oomblik kom daar sommer nog ’n hele klomp opgeskote olifante te voorskyn wat agter hulle begin aandraf.

Na ons seker gemaak het dat almal vort is, sit ons die rit voort.

’n Ent verder kom ons sewe vlakvarke links in die veld teë, dit staan op die kniegies en skoffel met die snoete in die grond. Ses vlieg daar weg toe hulle ons gewaar, draf op ’n streep veld in, verdwyn in die ruigtes, maar dit lyk of die sewende een iets raakgeloop het, want dit skoffel skielik só erg dat die roesbruin stowwe staan. Die volgende oomblik begeef sy moed hom en daar laat spaander hy agter die ander aan, ’n mens sien net dun boudjies en die stertantenna wat regop staan.

Ons sit en gesels nog so om en by drie kilometer van die Mingerhoutdam af oor wat ons als reeds die oggend ervaar het, toe ’n safarivoertuig met toeriste op van voor af aankom. Ook hierdie voertuig sleep ’n bokssleepwa.

Ek gaan hou toe daar aan die kant van die pad stil, vlak duskant ’n digte mopaniestruik om plek te maak sodat die toergeselskap kan verbykom. Nou bekyk ek die voertuig soos dit stadig naderkom en sien die mense beduie woes na iets links van ons kar. Toe ek my kop draai, kyk ek in die massiewe tande van ’n olifant vas wat seker nie drie meter van ons af nie agter die struik staan en vreet.

Die volgende oomblik skree ’n vrou: “He’s coming!”

In daardie stadium was die kar se koppelaar reeds ingetrap en my linkerhand op die rathefboom. Dit skiet nog vir ’n breukdeel van ’n sekonde deur my gedagtes om vorentoe verby die olifant te jaag, maar die vrou se woorde hang nog in die lug. Volgende jaag die safarivoertuig verby ons en my moed begewe my. Ek druk die rathefboom in trurat en trap die petrolpedaal plat.

So spring ek en die olifant gelyk daar weg – ek ’n kortkop voor.

Die kar vang elke nou en dan die mopanies se takke, op ’n keer sien ek net herfskleure in die truspieël en voel hoe die regterkantse wiele van die kar deur die sagte grond langs die kant van die pad ploeg, die kar wil-wil gly, ek beloer die syspieël aan my kant en sien daar kom moeilikheid! Ek vat ’n kans en draai die stuurwiel skerp na links dat die stof so staan. ’n Mens hoor net klapgeluide soos die kant van die kar deur takke jaag. Dalk het ek ’n boom getref?

Genadiglik het ek met die draai van die stuurwiel reg geraai. Ons is terug in die pad, stadig besig om die wedloop te wen, maar die olifant kom!

Ek bly maar gedurig bewus van die bul, sien hom deur die voorruit langs die truspieël voor my verby soos hy storm, ook om ’n draai as hy weer die kar gewaar, met nuwe ywer die ore flap, die slurp swaai en ’n paar maal trompetter.

Ek vat ’n kans, stoot die agterent van die kar na regs tussen twee bome in en maak ’n driepuntdraai, skielik is die olifant sommer weer heelwat nader en tóé moes jy hom sien!

Na nog ’n draai in die pad – dit was nou al ’n paar honderd meter verder van waar ons aanvanklik weggespring het – sien ons die bul staan. Hy kyk ons net agterna.

Die rit was só rof op daardie kronkelpaadjie wat vir ’n ent sinkplaat was, met die kar wat heen en weer gaan en alles wat so skielik gebeur, dat Kate, wat agter in die kar sit, nie eens gepoog het om ’n video te neem nie.

Nou wonder ons hoe die kar aan die buitekant lyk. Is daar skrape en duike? Is die agterligte nog heel? Die twee syspieëls, sien ons, wys nou vorentoe. Ek hou stil en na ek die vensters afgedraai het, druk ek dit terug in posisie.

Toe ons sien die olifant het die aftog geblaas, wag ons ’n tydjie om hom ruimte te gee. Dalk beweeg hy terug na die bos. Toe draai ek weer terug, want ons wil darem nog by die dam uitkom.

Baie versigtig benader ons weer die plek waar hy verdwyn het. Nie lank nie, gewaar ons die bul waar hy ’n entjie weg in ’n oopte regs van die pad staan. Toe hy die kar hoor, vlieg hy om, begin in ons rigting draf, reg om te storm, maar dié keer is ons met gemak daar verby. Nou gaan staan en staar hy die kar vir oulaas agterna terwyl hy met die slurp op die grond blaas dat die roesbruin stowwe in wolke om hom staan.

Lees ook: Natuurhoekie 71: Die groot wildebeesmigrasie, ’n uiters gevaarlike onderneming – Deel 2

Deel op

Nuutste artikels