Die Gelofte wat ’n groep Voortrekkers in 1838 kort vóór die Slag van Bloedrivier onder leiding van hoofkommandant A.W.J. (Andries) Pretorius afgelê het, word vandag nog – 183 jaar later – herdenk. Volgens Alana Bailey het die herdenking van die Gelofte aanleiding gegee tot die oudste Afrikanerfees. In ’n meestersgraadstudie (2002) oor die herdenking van die Gelofte het Bailey verskeie interessante feite hieroor opgediep. Hier is tien treffende feite oor die Gelofte uit dié studie:*
- ’n Gelofte kan beskryf word as “’n verbintenis van die siel”, oftewel ’n “plegtige belofte aan God” waarin die persoon of groep wat die gelofte aflê hom onder aanroeping van God “plegtig verbind om iets te doen of na te laat”. Indien God beskik wat in die gelofte gevra word, is dit blote genade en nie omdat daar ’n verpligting op Hom rus nie.
- Die oorsprong van die Voortrekkers se 1838-Gelofte kan gevind word in die geskifte van die Nederlandse Protestant, teoloog en skrywer Wilhelmus á Brakel (1635-1711). Hy het ’n gelofte beskryf as ’n verbintenis met God om ’n goeie saak wat binne die vermoë van die aflegger is, uit vrye wil te doen of toe te laat.
- Die idee vir die aflegging van die Gelofte het na alle waarskynlikheid van beide Sarel Cilliers en Andries Pretorius gekom.
- Die Voortrekkerkommando wat die Gelofte afgelê het, het daarin plegtig beloof dat indien die Here die gebed sou verhoor, hulle die dag jaarliks as dankdag aan God sou wy, ’n kerk tot Sy eer sou oprig en die geskiedenis van die gebeure aan hul nageslag sou oordra.
- Die oorspronklike Gelofte van 1838 is óf nêrens woordeliks aangeteken nie óf dit het nie in die oorspronklike vorm op skrif bewaar gebly nie. Die oudste weergawe is dié van Jan Bantjes wat in sy dagverhaal opgeteken is.
- Die eerste herdenking van die Gelofte het direk na afloop van die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 plaasgevind toe ’n dankdiens in die laer gehou is.
- Daar is reeds in Mei 1839 met die insameling van fondse vir die oprigting van ’n kerk begin. Die kerk is uiteindelik teen die middel van 1841 in Pietermaritzburg voltooi en ingewy.
- Hoewel die Gelofte in die eerste sowat 70 jaar ná die Slag van Bloedrivier op verskillende maniere en onder verskeie benamings herdenk is, is dit eers in 1910 amptelik in die Unie van Suid-Afrika as Dingaansdag gevier.
- Daar was verskeie besware teen die benaming “Dingaansdag”, en dit is in 1952 verander na “Geloftedag”. Die benaming “Geloftedag” vir die nasionale vakansiedag is in 1995 deur die Suid-Afrikaanse regering verander en staan sedertdien as Versoeningsdag bekend.