Uit en tuis: ’n Christen-reis in Nieu-Seeland

19/01/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n Christen-reis in Nieu-Seeland

Deur Shaniel Slater

As Suid-Afrikaner het dit altyd vir my gevoel asof ek as Christen gebore is. Dis maar wat jy doen: jy gaan Sondae kerk toe, want dis hoe ons grootgeword het. Ek het nooit regtig besef dat geloof ’n daaglikse keuse is nie, totdat ek in Nieu-Seeland beland het. Emigrasie het my geestelik uitgedaag en my geleer dat om jou pad saam met God te stap, beteken dat jy Hom elke dag moet kies.

Ek en my man, Eugene, het mekaar in 2014 in Nampo se biertuin ontmoet. Ek sê altyd ek is in Bloemfontein gemaak, gebore en amper gelos. Ek het my honneursgraad in Opvoedkundige Leierskap en Bestuur voltooi, terwyl Eugene as werktuigkundige by Volkswagen Bloemfontein gewerk het. Later het ons die geleentheid gekry om na Kathu in die Noord-Kaap te trek, waar ek by Hoërskool Kathu en later by Curro Kathu skoolgegee het.

Emigrasie was nooit regtig deel van ons gesprekke as paartjie nie. Ons het wel aanvanklik besluit om Australië toe te gaan. Alles was gereed, maar elke deur het voor ons toegeslaan. Vandag weet ek dit was die Here se hand. Hy het iets groter vir ons beplan.

Ons is in Oktober 2019 getroud. My skoonsuster het genoem dat, indien ons nie in Oktober kon trou nie, hulle dit nie sou kon bywoon nie, aangesien hulle Desember 2019 na Nieu-Seeland sou verhuis. Ek onthou hoe moedeloos ons gevoel het. Dit was asof almal se deure oopgegaan het, behalwe ons s’n, maar tog was ons so gelukkig saam en bly vir hulle.

Ons hoop was min, totdat my skoonsuster my van die Trade Me-toep vertel het, daardie “sketchy app” waar jy glo alles kan doen: werk soek, huise huur, selfs honde koop. Ek het skepties gelag, maar tog die toep afgelaai. ’n Paar weke later het Eugene ’n onderhoud oor Facebook Messenger gehad, ja, Facebook, en dinge het skielik begin gebeur.

Daardie Desember het ons nog ’n rustige Kersfees in Port Nolloth gevier. Die dag voor Kersfees het Eugene sy getekende kontrak ontvang. Twee weke voor Nieu-Seeland se eerste inperking het ons op ’n vliegtuig geklim, ons wat nog nooit internasionaal gevlieg het nie. Ek onthou nog die paar mense met gesigmaskers op OR Tambo. Ons het geen idee gehad wat voorlê nie.

Ons het in Nieu-Seeland aangekom waar my broer ons met ope arms ontvang het. Die vlugvoosheid was eg, maar ons was net dankbaar om veilig te wees. Min het ons geweet dat Nieu-Seeland binnekort ’n volle inperking sou aankondig, en dit selfs twee keer.

In Napier, ons eerste tuiste, het Eugene se werk vir drie maande ons akkommodasie betaal. Daarna moes ons op ons eie voete staan. Werk vir my as onderwyser tydens inperking was onmoontlik. Ons het besluit om na Auckland te trek waar daar meer geleenthede vir my sou wees. Eugene het ’n pos as dieselwerktuigkundige gekry en ek het ’n nuwe pad in opvoedkunde begin stap.

Ek het vir onderwysposisies aansoek gedoen, maar elke aansoek is begroet met: “Ons kan nie jou aansoek oorweeg nie, want jy het geen Nieu-Seelandse onderwyservaring nie.” Ek het gevoel ek moet weer van voor af begin. My Suid-Afrikaanse ervaring was nie genoeg nie. Ek is bestempel as ’n overseas trained beginner teacher. Vir ’n volle jaar het ek as dagsorgjuffrou gewerk. Dit was nederig, maar ek was dankbaar.

Ek het nooit opgegee nie. Elke Donderdag het ek die skool van my drome besoek om te observeer, te help en te leer. Ses maande en drie onderhoude later het ek ’n eenjaarkontrak gekry. Ek was in ekstase. Ná daardie jaar het ek ’n permanente posisie ontvang, en ek kon duidelik sien hoe die Here my stap vir stap gelei het.

In hierdie tyd het ons ook besluit om ons gesin te vergroot. Ek was swanger met ons eerste dogtertjie, en sy is gebore tydens die tweede inperking. Ek moet sê, Nieu-Seeland se gesondheidstelsel is ongelooflik. Jy kies self jou vroedvrou, sommer aanlyn, wat saam met jou stap van begin tot geboorte. Bloedtoetse, afsprake en bevalling word alles saam gedoen. Ses maande betaalde kraamverlof was ’n groot seën. Toe my dogter sewe maande oud was, was ek weer terug by die werk.

Ons het verskeie kerke besoek totdat ons ons tuiste gevind het by die Afrikaanse Doxa Deo, dieselfde kerk wat ek as kind geken het. Dit is daar waar ons geestelik begin groei het. Ek het besef hoe lewensveranderend dit is om jou geloof aktief uit te leef in ’n samelewing wat dit ondersteun, by my werk en binne ons kerkgemeenskap.

My grootste seën is die voorreg om ’n wêreld te skep waar ons kinders kan grootword in ’n land waar hulle vryheid beleef. Daar is soveel mense wat kies om nie die Here te volg nie, en dit is juis waar ons daaglikse herinnering en keuse lê om God bo alles te plaas.

Ons leef hier eenvoudig, maar vry. Sonder tralies, sonder vrees, in ’n land waar stelsels werk en mense mekaar vertrou. Man en vrou werk as ’n span vir ’n beter lewe. Vryheid bring egter ook verantwoordelikheid. Dit is jy en jou huis. Wat jy vuil maak, moet jy self skoonmaak. Niemand gaan agter jou aan loop om jou wasgoed, huis of strykwerk te doen nie.

Toe my skoonpa en sy vrou vroeër vanjaar kom kuier het, het ek hulle alles gewys: die kliniekbesoeke vir my jongste dogtertjie, doktersafsprake wat jy sommer dieselfde oggend kan maak (ek dink steeds dit was die Here met ’n sin vir humor), die feit dat jy nie vir ’n kind se besoek hoef te betaal nie, en dat voorskrifte outomaties na jou apteek gestuur word. Selfs die fietsritte, die stappies dagsorg toe en die vriendelike juffrouens wat met soveel passie hul werk doen, is deel van ons nuwe normaal.

Daar is soveel om voor dankbaar te wees. Die grootste van alles is die liefde wat my kinders vir Jesus het, iets wat ek weet ek nooit in Suid-Afrika op dieselfde manier sou kon bied nie. Hier infiltreer God jou hele lewe en jou hele wese.

Ons mis ons mense, ons familie en die grootouers wat die kinders nie gereeld sien nie. Daar is tye wat die hartseer diep sny. Sommige mense verstaan dit nie. Party sê selfs: “Jy wou mos trek.” Maar ek glo vas God het ons hier geplaas met ’n doel.

Daar is soveel Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland, en ek glo ons is almal hier vir iets groter as onsself. Ons is geplant aan die uiterste van die wêreld, want God gebruik sy mense oral vir Sy plan.

Ons klou aan God en kies Hom elke liewe dag. Hy is getrou, en Sy plan is altyd beter as ons eie.

Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.

Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.

Deel op

Nuutste artikels