Taalheldin 12 – Elize Botha

21/01/2026
| Deur Alana Bailey
Taalheldin 12 – Elize Botha

Deur Alana Bailey

In 2025 het ons verskeie helde wat Afrikaans help skep en ontwikkel het, gevier. Wanneer ’n mens aan sulke baanbrekers dink, is dit gewoonlik die name van skrywers en digters wat eerste by jou opkom. Afgesien van ons onderwysers op skool, is hulle immers die mense wat ons van jongs af aan Afrikaans voorstel en ons van die skoonheid daarvan bewus maak.

Minder sigbare mense wat ’n ewe belangrike rol speel, is die akademici wat volgende geslagte onderwysers en skrywers help vorm en mense leer om krities oor ons taal te dink.

Iemand wat hierdie rol uitnemend vertolk het, was prof. Elize Botha. Sy is op 19 November 1930 as Elizabeth Lindes in Krugersdorp gebore. Sy het haar eerste jare op Koesterfontein naby Magaliesburg deurgebring, waar haar pa die hoof van ’n tweemanskool was. Haar jeugherinneringe was van grootword in ’n huis gevul met boeke. Sy het kleintyd agter in die skooltjie se een klas gaan sit en gevolglik baie vroeg leer lees. Hierdie liefde vir lees en leer het die patroon bepaal waarvolgens haar lewe verloop het.

Toe Elize met haar hoërskoolopleiding moes begin, het die gesin hulle in Krugersdorp-Noord gevestig. Sy het in 1947 aan Hoërskool Monument gematrikuleer met onderskeidings in Afrikaans, Engels, Duits, Natuur- en Skeikunde en Wiskunde. Sy het daarna ’n BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch met Afrikaans-Nederlands en Engels as hoofvakke behaal, gevolg deur ’n MA-graad in Afrikaans. Met studiehulp van die universiteit het sy na Amsterdam gegaan en daar in 1955 onder leiding van N.P. van Wyk Louw ’n doktorsgraad met lof aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam behaal.

Na haar terugkeer na Suid-Afrika is sy in 1956 met Johan Botha getroud. Hy was later ’n professor in ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria. Hulle het twee dogters (Liesbeth en Maria), en ’n seun (Frederik) gehad.

Een van die biografieë oor Elize Botha, beskryf haar as ’n “vrou van eerstes”.

In haar lang en roemryke loopbaan was sy onder meer verbonde aan die Universiteite van die Witwatersrand, Pretoria en Suid-Afrika se Afrikaanse Departemente. Vanaf 1 Oktober 1982 tot met haar aftrede in 1995 was sy werksaam as hoogleraar aan laasgenoemde. Op grond van haar liefde vir Afrikaanse letterkunde, was sy sedert 1967 lid van die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Later het sy as voorsitter van die Akademie gedien. Sy het ook leiersposisies in die Afrikaanse Letterkundevereniging, Stigting vir Afrikaans, Afrikaanse Skrywerskring, Stigting vir die Skeppende Kunste, die Raad van TRUK, en vele meer beklee. Sy het gereeld aan radioprogramme deelgeneem en was redakteur van die Tydskrif vir Letterkunde.

Een van die biografieë oor haar, beskryf haar as ’n “vrou van eerstes”. Sy was byvoorbeeld die eerste vroulike ondervoorsitter en – soos reeds genoem – later voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook die eerste vrou wat tot die direksie van Nasionale Pers verkies is. Sy word waarskynlik die beste onthou as die eerste vroulike kanselier van die Universiteit van Stellenbosch.

Deur die jare het sy verskeie eerbewyse en toekennings as erkenning vir haar diens aan Afrikaans en die akademiese wêreld ontvang. In ’n onderhoud van 1990 wat in Sarie verskyn het, het sy verklaar: “Vir my is die heel grootste feit van my lewe dat ek alles waarmee ek bedrywig is, kan herlei tot my liefde vir lees. My verbondenheid met die Afrikaanse boek kom van kindsbeen af. Ek was lief vir lees! En, ek was lief om oor boeke te praat. En daaroor te skryf”.

Haar indrukwekkende publikasielys getuig van hierdie liefde: daar is verskeie publikasies waarvan sy die alleenouteur was, of ’n mede-skrywer, bydraer, redakteur of samesteller. Dan ook tientalle artikels en referate wat nasionaal en internasionaal gelewer is.

Tot in haar laaste publikasie het sy voorspraak gemaak daarvoor dat mense letterkunde as gawe moet waardeer en respekteer. “Die mens leer homself en sy ewemens deur die literatuur, die verhaal, ken en verstaan” het sy in ’n onderhoud wat in November 1998 in die Nuwe Voorligter verskyn het, verduidelik.

Studente wat die voorreg gehad het om by haar klas te loop, is wandelende getuigskrifte vir haar liefde vir haar taal. In huldeblyke het verskeie getuig van die invloed wat sy op hulle loopbane en lewensuitkyk gehad het. Hulle vertel van herinneringe aan haar diep stem wat op ’n keer selfs met die klank van tjello vergelyk is!

Voormalige kollegas getuig van haar humorsin en wysheid, asook dat sy ten spyte van die onstuimige tye wat beleef is in die land en die instellings waar sy werksaam was, nooit sinies of negatief geraak nie. Een van hulle, Henning Pieterse, het vertel van haar gereelde waarskuwings dat ’n mens nie “jou tyd moet vermors met polities-ideologiese eendagsvlieë nie”.

Oor Afrikaans, het sy onder meer gesê: “Ek wil dié enkele toekomsdroom koester dat Afrikaans vir alle moontlike mense bekend en bemind sal word. As jy dit kan droom, kan jy dit doen. Daar is net een ding in die lewe wat vanself kom, en dit is verwaarlosing” (Beeld, 25 Junie 1988).

Elize Botha is op 16 November 2007 in Pretoria aan kanker oorlede.

Deel op

Nuutste artikels