Uit en tuis: ’n e-pos uit Bonn, Duitsland

03/02/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Bonn, Duitsland

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Mitsi Weyers, wat tans in Bonn, Duitsland woon.

Hallo Mitsi, dit is heerlik om met jou te gesels!

My man was ’n predikant in die NG Kerk in Suid-Afrika, en ons het redelik rondgetrek – Cullinan, Stutterheim, Meyerton, Hopefield en uiteindelik Secunda. Hy het nog altyd ’n begeerte gehad vir ’n oorsese bediening en het oor die jare geleenthede ondersoek, veral toe die kinders ouer was.

Dit het daartoe gelei dat ons as gesin op 1 Maart 2014, toe ons twee seuns 16 en 18 jaar oud was, van Secunda na Nieu-Seeland verhuis het. My man is daar beroep na die St. Andrews Presbiteriaanse Kerk in Te Puke op die Noord-Eiland. Ons was baie gelukkig in Suid-Afrika, maar ons het albei ’n groot avontuurlus gehad.

Ek is in Mosselbaai gebore en my man, Mario, in Parow. Ons het mekaar op skool ontmoet in Bothasig in die Kaap en is getroud terwyl hy Teologie in Stellenbosch studeer het. Ons het twee seuns, Reinhardt (29) en Stefan (27).

Mario en ek is tans in Bonn, Duitsland met ’n vyfjaarwerkskontrak wat in 2027 eindig. Ná Covid het ons bietjie aan “eilandkoors” gely, en toe die geleentheid in Duitsland opduik, het ons dit met albei hande aangegryp.

Ons seuns is kort ná ons verhuising na Duitsland getroud. Die oudste woon steeds in Nieu-Seeland, en ons jongste en sy vrou het sowat ’n jaar gelede na Australië verhuis. Ons sien mekaar ongeveer twee keer per jaar. In Maart het ons almal in Suid-Afrika bymekaargekom, ’n besonderse oomblik, veral omdat die oupas en oumas toe vir die eerste keer hul skoondogters ontmoet het.

Ons woon tans in die sogenaamde “American Compound”, ’n woongebied met meer as 400 woonstelle wat ná die Tweede Wêreldoorlog deur Amerikaners bewoon is. Dit was destyds ’n mini-Amerika met winkels, restaurante en selfs ’n kerk. Vandag is dit ’n historiese area met ’n baie multikulturele gemeenskap. President Bill Clinton het in 1999 die sleutel van die gebou amptelik aan die Stad Bonn oorhandig as ’n teken van vriendskap, dieselfde jaar waarin Berlyn weer Duitsland se hoofstad geword het.

Die drie lande se werkskulture verskil wesenlik. Ek werk tans by die nasorgafdeling van ’n internasionale Engelse skool, en my man is predikant by die American Protestant Church, ’n internasionale Engelse gemeente in Bonn.

In Duitsland is Duits feitlik ’n vereiste, en dit kan moeilik wees om werk te kry sonder die taal. Die werkskultuur is in baie opsigte soortgelyk aan Suid-Afrika s’n, terwyl Nieu-Seeland baie meer ontspanne is, met ’n sterk fokus op werk-lewe-balans. Suid-Afrikaners word daar soms as té pligsgetrou en hardwerkend ervaar.

Duitsland is duur, met hoë belasting, asook verpligte TV-, kerk- en verplegingsbelasting. Staatsmedies is verpligtend, maar die diens is uitstekend. Dit maak egter nie finansieel sin vir my om voltyds te werk nie sodra ek meer as €600 per maand verdien, word my salaris by my man s’n gevoeg, wat hom in ’n hoër belastinggroep plaas, terwyl ek ook belasting en my eie mediese bydraes moet betaal. Ek het dus tans ’n sogenaamde “minijob”.

Die papierwerk is intens. Alles word steeds per pos hanteer. Toe ons ’n bankrekening oopgemaak het, het ons ons bankkaarte, PIN’s en aanlyn besonderhede elk in afsonderlike briewe ontvang. Aanvanklik was dit lekker om pos te kry; later het ons lootjies getrek oor wie dit moet gaan haal want as jy dit gaan haal, moet jy dit hanteer. Alles is ook in hoogdrawende Duits, en ’n vertaal-toep het ons beste vriend geword.

Nieu-Seeland, daarenteen, is byna volledig aanlyn. Ons kon ons hele lewe daar digitaal begin en administrasie maklik hanteer.

Toe ons Duitsland toe verhuis het, was ons effens selfversekerd ná ons NZ-ervaring. Maar as Nieu-Seeland soos ’n eerstejaar aan universiteit was, was Duitsland soos om direk vir ’n doktorsgraad in te skryf!

Ons het redelik maklik ingeskakel, veral omdat ons deel is van ’n kerkgemeenskap. Ons geniet draf en het gou by Parkrun betrokke geraak, wedlope begin hardloop en kultuur- en feesvieringe bygewoon. ’n Besoek aan die Geskiedenismuseum het ook ons perspektief op Duitsland verbreed, dis soveel meer as net die donker geskiedenis wat ons op skool geleer het.

Ons het ook heelwat Suid-Afrikaanse vriende ontmoet.

Ons mis ons familie baie. Taal was ook ’n groot uitdaging. Engels word gepraat, maar Duits word verkies. Al het ons taalkursusse gevolg, bly Duits ’n komplekse taal, elke selfstandige naamwoord het ’n geslag, sonder vaste reëls. Ons kan onsself red, maar ’n telefoongesprek is steeds ’n avontuur!

Sondae en vakansiedae is alles gesluit, wat goeie beplanning verg. Daar is ook streng reëls: ons mag nie tuis motors was, motors laat luier of enigiets op ons balkon uithang nie.

Die grootste toets? Om aan die regterkant van die pad te bestuur met die bestuurder aan die linkerkant van die motor. Dit was ’n werklike huwelikstoets! Maar openbare vervoer is duur, en ons wil Europa verken, so die vrees moes vinnig oorkom word.

Sneeu bly vir my magies. Duitsland se kultuurfeeste is eindeloos, en tradisies, veral dié uit die Katolieke Kerk, speel ’n groot rol. Karnaval, die sogenaamde “Vyfde Seisoen”, is ’n belewenis op sy eie.

Ek was ook verbaas om te besef hoe anders die sterrehemel in die Noordelike Halfrond lyk. En Kersfees? Jy sing “Stille Nag” eers op 24 Desember, haal jou regte boom daardie dag uit en breek dit af op 6 Januarie, epifanie.

Ons het geleer dat immigrasie grootliks afhang van jou ingesteldheid. Ons het doelbewus probeer inskakel, mense ontmoet en nie ’n mini-Suid-Afrika geskep nie, al bly ons trots Afrikaans. Ons keer jaarliks terug om familie te sien.

Ons het ook geleer hoe min ’n mens eintlik nodig het. In Nieu-Seeland is status byna irrelevant; lewenskwaliteit tel meer. Duitsland plaas weer meer klem op status, selfs jou motor speel ’n rol.

Dit bly baie belangrik. Ons braai, kyk rugby en praat Afrikaans by die huis. Al is ons burgers van Suid-Afrika en Nieu-Seeland, ondersteun ons steeds nie die All Blacks nie! In Duitsland ondersteun ons hele kerk basies die Springbokke, bloot omdat ons ons liefde vir sport uitleef.

In Nieu-Seeland is daar volop Suid-Afrikaanse winkels. In Duitsland is dit beperk, een aanlyn winkel en ’n groter winkel in Nederland. Ons moes kreatief raak, maar kry darem Rooibostee en selfs Suid-Afrikaanse wyn. Amazon het ook ons lewens aansienlik vergemaklik.

Alles. Om met net tasse te verhuis vee amper jou geskiedenis uit. Met Duitsland het ons afgeskaal, maar meeste besittings laat kom. Bekendheid maak ’n groot verskil wanneer alles anders vreemd voel.

Ek is meer oop, verdraagsaam en bewus van ander kulture. Ek dink buite die boks en besef die lewe is wat jy daarvan maak. Hou vas aan jou wortels, maar laat ruimte vir groei. Ons is almal net mense wat aanvaar wil word.

Dit is wat jy daarvan maak. Moenie agterdeure oop los nie, gee jouself ten volle. Jou huwelik en gesin moet sterk wees. Skakel vroeg in, ontdek jou nuwe land en leef. Hierdie pad is uitdagend, maar ongelooflik verrykend.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels