Taalheld 13 – Koos du Plessis

19/02/2026
| Deur Alana Bailey
Taalheld 13 – Koos du Plessis

Deur Alana Bailey

Die sewentigerjare van die vorige eeu het groot veranderinge in die land meegebring. Onder meer kon ons vir die eerste keer televisie kyk. Afrikaanse reekse het groot kykersgetalle gelok. Een daarvan was Phoenix en Kie, met ’n treffende temalied, Kinders van die wind. Dit is gesing deur ’n feitlik onbekende sangeres, Laurika Rauch. Die lied was die werk van ’n ewe onbekende digter en komponis, Koos du Plessis. Dit het vinnig op die treffersparade opgang gemaak en skielik was Laurika en Koos huishoudelike name en gunstelinge. Vir Laurika was dit die begin van ’n loopbaan wat oor vyf dekades sou strek, tot met haar amptelike uittrede wat sy enkele weke gelede aangekondig het. Koos se loopbaan is helaas deur sy voortydige dood in 1984 kortgeknip, maar in die woorde van joernalis Gert Coetzee word hy onthou as “troebadoer, digter, storiemaker, Godsoeker, poëtiese reisiger, filosoof, koerantman, mensbewuste, gewaardeerde kollega en vriend en gesinsman by uitnemendheid”.

Jacobus Johannes du Plessis, ook bekend as Koos Doep, is op 10 Mei 1945 in die omgewing van Rustenburg gebore waar sy ouers geboer het. Toe hulle hulle plaas verloor, het die gesin na Springs verhuis. Dit is hierdie jeugjare aan die Oosrand wat hy so treffend in sy lied, Molberge, in herinnering geroep het. Hy het aan die Hoër Seunskool Hugenote gematrikuleer, en daarna ’n onderwysdiploma aan die destydse Normaalkollege Pretoria behaal. Later sou hy ook ’n BA-graad met Afrikaans as hoofvak aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en ’n BA Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand.

In 1967 het hy, soos soveel van ons groot Afrikaanse digters en skrywers, sy loopbaan as joernalis begin – eers by die koerant Die Vaderland in Johannesburg en toe by Die Nataller. Vanaf 1972 was hy weer by Die Vaderland werksaam. Aan die einde van daardie jaar is hy by Oggendblad in Pretoria aangestel, waar hy ’n dekade lank as subredakteur, hoofsubredakteur en nuusredakteur gewerk het.

In dié tyd het sy musiekloopbaan op dreef gekom. Al het hy geen formele musiekopleiding gehad nie, was Koos van jongs af lief vir musiek. Hy het onder meer naas kitaar en klavier, sy ouma se traporreltjie gespeel. Kinders van die wind het hy al in 1968 geskryf. Platemaatskappye wou egter aanvanklik nie sy musiek opneem nie, omdat dit volgens hulle nie kommersieel genoeg was nie. Die gebruik daarvan, asook Die somer is verby, Skielik is jy vry en Sprokie vir ’n stadskind in Phoenix en kie was deurslaggewend – die publiek het die platemaatskappye verkeerd bewys.

Koos het homself ook daarna as sanger gevestig. Sy eerste langspeelplaat, Skadu’s teen die muur, is in 1980 uitgereik. Die volgende jaar het sy tweede album, As almal ver is, die lig gesien en in 1982 die laaste album wat in sy leeftyd sou verskyn, naamlik Herbergier.

In 1981 het ’n bundel met lirieke, wysies en akkoorde, ook getiteld Kinders van die wind verskyn, gevolg deur twee digbundels, Om jou verlaas te groet en Skink nog ’n uur in my glas: nagelate verse in 1985, en ’n versamelbundel, Erfdeel, in 2004.

Koos is in 1969 met Mornay getroud en drie dogters, Irma, Karla en Karien is uit die huwelik gebore. Hy het ’n liedjie aan elkeen van hierdie vier vroue in sy lewe opgedra. Op 15 Januarie 1984 is Koos, terwyl hy onderweg was om aan sy vierde album te werk, in ’n motorongeluk oorlede.

Ná sy dood het sy werk selfs nog meer gewildheid bereik en neem kunstenaars nog gereeld van sy liedjies op, of sluit dit in programme in. Van die liedjies is ook onder meer in Frans en Nederlands vertaal en opgeneem. Vele eerbewyse is al aan hom toegeken, insluitend ’n oorkonde van die ATKV in 1983 en ’n erkenning vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek wat in 2004 tydens Huisgenoot Skouspel postuum aan hom opgedra is.

Hoewel hy verklaar het dat hy eintlik maar vir homself skryf, gryp sy musiek en gedigte gehore aan omdat dit oor onderwerpe handel waarmee ons almal een of ander tyd te make kry – van verlange na ons jeugjare en ou vriende, tot komvandaanplekke versus verre horisonne, verstedeliking, eensaamheid, depressie en alkoholisme. Daarteenoor getuig Gebed en Somerkersfees van geloof en hoop, en wie kan na Nes ek wil luister sonder om te glimlag?

Skrywer Hennie Aucamp het in die inleiding van die bundel Kinders van die wind verklaar: “Wie só vertel, skep ’n eie stilte selfs binne ’n storm”. Joernalis Ilza Roggeband se mening in ’n Huisgenoot-artikel van 2004 was: “Daar was net een Koos du Plessis. Hy was, en is, seker die beste liedjieskrywer wat nóg die gul klanke van Afrikaans met musiek laat saamvloei het”. Koos Kombuis het daardie unieke bekoring van sy werk raak opgesom toe hy in dieselfde artikel genoem het dat Koos altyd ’n hunkering na die verlede gehad het, maar eintlik met sy skeppings sy tyd vooruit was.

Al kom sy werk soms somber en melankonies voor, is daar tog heerlike spot en ironie daarin te vinde. Sy familie en vriende vertel dat hy ’n terggees met ’n heerlike sin vir humor was. Oor homself het hy gesê: “Ek is ’n doodgewone ou, ek het niks om oor myself te sê nie. My liedjies praat van my”. Dit doen hulle inderdaad en sal steeds praat lank nadat ons ook in die skadu’s teen die muur weggesmelt het.

Deel op

Nuutste artikels