Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met ’n anonieme Suid-Afrikaner wat al 20 jaar in die Verenigde Koninkryk woon.
Hallo, dit is heerlik om met jou te gesels!
Van waar in Suid-Afrika is jy oorspronklik, en hoekom het julle besluit om na die Verenigde Koninkryk te emigreer?
Ek is gebore in Vishoek in die Kaap, het oral gebly – selfs in Botswana – en laaste in Bougainvillea Estate, Montana, Pretoria. Ek is ’n boer en sakeman. Die rede vir ons emigrasie was veiligheid, die toekoms van ons kinders en kleinkinders, asook die algemene agteruitgang in Suid-Afrika wat ’n groot bekommernis vir ons geword het. As besigheidsmense was SEB wat ons direk begin raak het, die laaste strooi.
Jy woon al vir 20 jaar in die Verenigde Koninkryk. Vertel ons hoe jy die emigrasieproses ervaar het. Was dit ’n groot aanpassing?
Om in 2006 uit Suid-Afrika te emigreer was relatief maklik; om in die VK te immigreer was egter moeiliker en het teen ’n prys gekom . ’n Aanpassing was dit beslis, redelik moeilik, maar alles het sy prys, nè. Gelukkig was die ondersteuning van Breytenbachs (Afrikaners in Londen) ’n groot hulp om ons onder die destydse Highly Skilled Migrant Programme die land in te kry.
Ons het Australië, Dubai, Spanje en ander lande besoek en oorweeg, maar die taal- en tydsverskil, terwyl ons steeds besigheidsbelange in Suid-Afrika gehad het, het die skaal uiteindelik na die VK laat swaai. Ons dogter het reeds in die VK skoolgehou, en ons seun en sy gesin het saam met ons oorgekom. Anders sou ons dit waarskynlik nie gemaak het nie.
Vertel ons watter werk jy doen en hoe die werkskultuur in die Verenigde Koninkryk verskil van dié in Suid-Afrika.
Ek is ’n sakeman. Dit was baie moeiliker om hier ’n nis te kry as in Suid-Afrika. Ná ongeveer vyf jaar en ’n paar miljoen rand later het dinge gelukkig begin draai. ’n Besigheid of twee later bedryf ons tans die grootste besigheid van sy soort in Suidwes-Engeland, wat ons self van die grond af opgebou het.
Om ’n bestaande, winsgewende besigheid hier te koop is byna onmoontlik. As jy die somme maak, is daar eintlik nie veel wins nie, jy koop in wese net ’n werk vir jouself. My werksomgewing, as ’n mens dit so kan noem, is baie vergemaklik omdat alles hier werk en gebeur sonder gesukkel. Die infrastruktuur is uitstekend.
Wat werknemers betref: ’n Arbeider is hier op ’n heel ander vlak as in Suid-Afrika, maar dit gaan gepaard met ’n minimum loon van ongeveer R45 000 per maand.
Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?
Die leefwyse is gemaklik en jy hoef nie oor jou skouer te kyk nie. Lewenskoste was aanvanklik hoog toe ons rand na pond moes omskakel (destyds 11:1), maar toe ons in pond begin verdien het, het dinge meer in balans gekom. Behuising is natuurlik die duurste item –buite verhouding, sou ek sê.
Aanvanklik was Suid-Afrika baie goedkoper wanneer ons gaan kuier het, maar dié verskil het mettertyd gekrimp. Die laaste keer was dit eintlik net boerekos se stapelvoedsel – vleis en drank – wat noemenswaardig goedkoper was. Vrugte en groente is soms van beter gehalte, maar nie veel goedkoper nie.
Wat behuising betref: Sodra jy vir ’n verband kwalifiseer, begin dinge meer sin maak. Al kos ’n huis dalk vier keer soveel, is die verbandrente minder as ’n kwart van wat dit in Suid-Afrika is. Ons betaal tans byvoorbeeld 0,8% rente.
Die NHS (staatsgesondheidsorg) is puik, op dieselfde vlak as privaathospitaalsorg in Suid-Afrika. Al is dit “gratis”, betaal jy saam met belasting ’n maandelikse premie, genaamd National Insurance (tans 8%), wat ook jou pensioenbydrae insluit.

Het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?
Vriende maak en inskakel was vir ons as ouer mense iets waarin ons nooit regtig geslaag het nie. Buiten die taal, deel hierdie mense nie noodwendig ons belangstellings of sin vir humor nie. Daar is baie Suid-Afrikaners, maar nie noodwendig Afrikaners nie, mense wat dikwels op grond van herkoms makliker toegang kry tot die land en hoofsaaklik uit Johannesburg en Natal kom. Suid-Afrikaners word egter steeds hoog aangeslaan vir hul werksetiek.
Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak?
Beslis die weer. Ek het al baie gesê: Ek gee nie om vir winter nie, solank dit net af en toe somer wil word. Gelukkig is die huise se verhitting uitstekend, ons s’n staan konstant op 24°C, so ons leef kaalvoet in ’n kortbroek en hemp. Geboue en winkels is ook goed verhit; dis eintlik net die entjie tussen die kar en die deur wat guur is.
Wat was die grootste aanpassing vir jou?
Om alles self te doen. Ons het darem die luuksheid van ’n skoonmaker vir vyf ure per week, wat aansienlik meer kos as ’n voltydse bediende in Suid-Afrika. Covid was natuurlik ’n nagmerrie: ’n Mens kon nêrens gaan nie, en ek moes self stofsuig. As jy dink dis niks, onthou asseblief ek is al diep in my 70’s.
Kry jy kans om te reis?
Ja, baie. Aanvanklik jaarliks Suid-Afrika toe vir besigheid. Ons het tot 2024 eiendom in Dubai gehad en gereeld daarheen gereis. My seun was in Indonesië, en my dogter en haar gesin werk die laaste tien jaar in Indië – ons reis jaarliks soontoe. Verder het ons Ierland, Georgië, Nederland, Duitsland en België besoek, en as ons son soek, gaan ons gereeld Spanje toe.
Ons woon in die suidweste van Engeland, ongeveer 350 km van Londen af, so ons het ook al Skotland en omliggende streke besoek.
Watter lesse het julle as gesin geleer sedert julle verhuis het?
Ons het ’n hegter familie geword en geleer dat ’n mens jou eie geluk maak, waar jy ook al is. As die wil daar is, kan ’n mens enige plek aanpas. En dat die lewe nie net gaan oor blink wees en “keeping up with the Joneses” nie.
Wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?
Ongelooflik baie. Ek is ’n groot patriot en beleef elke terugslag in Suid-Afrika saam, maar ook elke vreugde – veral as die Springbokke speel. Ek weier om vir my kleinkinders, wat oral in die wêreld is en al ietwat verengels het, boodskappe in Engels te stuur. Ongelukkig kan ek niks doen aan hoe hulle antwoord nie.
Ná my dagstukkie lees ek elke oggend die Suid-Afrikaanse nuus – Netwerk24 en Die Burger. Al is goeie nuus skaars, hoop ek steeds dat dinge só sal draai dat ek my familie eendag weer Suid-Afrika toe kan terugvat. Ongelukkig lyk dit al hoe minder waarskynlik. Inteendeel, ek bekommer my toenemend oor my kinders en kleinkinders wat nog daar is. Terwyl ek hierdie skryf, het ek die nuus ontvang dat my dogter en haar man deur vier aanvallers met pangas en messe in ’n gastehuiskamer aangeval en beroof is.

Is daar Suid-Afrikaanse winkels of produkte naby julle beskikbaar?
Ja, alles is beskikbaar – teen ’n prys. Baie produkte is sommer op supermarkrakke. Ons maak enige boerekos en eet heerlik. Aflewering is ongelooflik betroubaar; ons kom selde in ’n winkel. Suid-Afrikaanse winkels lewer ook binne 24 uur af. Ons kry selfs kameeldoring-, mopani- en sekelboshout afgelewer.
Het julle professionele diensverskaffers gevind wat Afrikaans kan praat?
Behalwe Breytenbachs Immigration Consultants, nog nie waar ons woon nie.
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?
Kerk, vriende, die weer, ruimte en vriendelike mense.
Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?
Sonskyn. En ons ander kinders. My broer, my susters, familie en sommer ’n vriend of twee.

Wat sou jy sê is die grootste verandering in jouself sedert jy geëmigreer het?
Ek is waarskynlik meer rustig en gemaklik, om nie agter slot en grendel en hoë heinings te leef nie, en om rustig te slaap.
Is daar enigiets anders wat jy wil deel, of raad vir ander wat dieselfde pad oorweeg?
Aan enigiemand wat emigrasie oorweeg: Jy moet 101% seker wees dis wat jy wil doen. Dis ’n eenrigtingstraat. As jy dink jy gaan dit probeer en sommer weer teruggaan as dit nie werk nie, moet jy dit dalk liewer nie doen nie. Doen deeglike navorsing en maak seker jy het werk of ’n haalbare plan, anders lê swaarkry vir jou voor.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Nieu-Seeland
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels



















