Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Nelieta van der Merwe, wat in Argentinië woon.
Hallo Nelieta, dit is baie lekker om met jou te gesels!
Van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het jy besluit om in Argentinië te gaan woon?
Ek kom oorspronklik van Vanderbijlpark, maar het vir baie jare in die Johannesburg-omgewing gewoon en gewerk. In Desember 2007 het ek weer getrou, en my man het toe reeds nege jaar lank in Argentinië gebly.
My tyd in die korporatiewe wêreld het my laat besef hoe SEB die toekoms sou beïnvloed, en dit het my laat dink aan ’n ander pad – om ’n gastehuis te bou en self te bestuur. Argentinië het destyds na ’n goeie keuse gelyk: die klimaat is soortgelyk aan Suid-Afrika s’n en dit het veilig gevoel.
Ek het nie Suid-Afrika verlaat omdat ek die land haat nie. Inteendeel, dit was ’n strategiese besluit – ’n kans op ’n nuwe begin en om ’n toekoms in ’n ander land te bou, dalk selfs vir my kinders sou hulle eendag besluit om hierheen te kom.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ek is die trotse ma van twee pragtige dogters en ook ouma van twee kleinkinders. Hulle woon almal nog in Suid-Afrika, en ek mis hulle baie. Hier in Argentinië het ons geen familie nie – dit is net ek en my man. Hy het nie kinders nie, en saam het ons ook nie.
Ons is wel peetouers van twee seuns wat ’n groot deel van ons lewe hier verryk. Een woon sommer om die hoek van ons, en die ander een in Buenos Aires.
Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar?
Ons besit en bestuur ’n klein gastehuis, Posada Tinktinkie, in Santa Rosa de Calamuchita, Córdoba. Ons woon in ’n toeristedorpie waar langnaweke en vakansieseisoene altyd besig is, maar die res van die jaar bring stilte en rus – ’n kans om asem te haal en tyd vir onsself te hê.
Ses jaar gelede het ek begin om digitale klere vir die videospeletjiemark te ontwerp. Wat as ’n stokperdjie begin het, het intussen gegroei tot ’n voltydse werk. Ek besit ’n aanlyn winkel by Daz Studio in Amerika, waar ek onder die naam “Nelmi” werk. My man fokus meer op die bestuur van die gastehuis, terwyl ek my tyd toewy aan digitale ontwerp.
Ons lewe is dus ’n balans tussen die gasvryheid van die Posada en die kreatiewe wêreld van ontwerp – twee wêrelde wat mekaar mooi aanvul.
Die lewe hier is rustig en eenvoudig. My dag begin gewoonlik om agtuur in die oggend. Teen middagete maak ek tyd vir die gimnasium, en soms ook vir ’n siësta – iets wat in Argentinië amper heilig is. Daarna werk ek weer tot seweuur in die aand.
Ons reis nie baie binne Argentinië nie, maar ek gaan twee keer per jaar terug Suid-Afrika toe. Verlede jaar het ek vir drie maande daar gebly, die Kaap verken en selfs Zanzibar besoek. Hierdie reise hou my verbind met my wortels.
Het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?
Toe ek Spaans begin leer het, was dit ’n groot uitdaging. Ek maak nog steeds foute, maar dit pla niemand nie – inteendeel, dit sorg dikwels vir lag en ligte oomblikke.
Wat my van die begin af opgeval het, is hoe vriendelik mense hier is. Tog vat dit tyd om diep vriendskappe te bou met mense wat dieselfde belangstellings deel en met wie jy oor dieper dinge kan praat.
Ek het maklik in die gemeenskap ingeskakel, maar het nie sterk bande gevorm met uitlanders wat net tydelik hier woon nie. Ons vriendekring is klein, maar baie heg – die soort mense wat jy in die middel van die nag kan bel en weet hulle sal opdaag om te help.
Wat was die vreemdste om aan gewoond te raak?
Die taal was beslis my grootste uitdaging. Daarna moes ek gewoond raak aan die siësta-kultuur, waar winkels tussen een en vyf sluit sodat mense kan rus.
Die laat etes, die laat slaap en die stadiger ritme van die dorpie het my gewys dat die lewe hier anders vloei. Maar die grootste toets vir jou geduld is die ekonomie. Elke paar jaar voel dit asof alles weer van vooraf begin en niks lank stabiel bly nie. Met tyd leer jy egter om aan te pas en saam met die veranderinge te leef.
Watter interessanthede van Argentinië het jou verras?
In Suid-Afrika is ons gewoond daaraan dat een winkel alles verkoop. Hier werk dit anders: die slagter verkoop net vleis, die groentewinkel net groente en die apteek net medisyne.
Nog iets wat my opgeval het, is hoe sterk Suid-Afrikaners se entrepreneursgees eintlik is. Ons is gewoond daaraan om planne te maak, ekstra geld te verdien en kreatiewe oplossings te vind. Hier doen mense dinge op hulle eie manier – of dit nou logies voel of nie. Dit het my geleer om meer geduldig te wees en te aanvaar dat daar meer as een manier is om deur die lewe te beweeg.
Watter lesse het julle geleer sedert julle verhuis het?
Ek is nou al agtien jaar in Argentinië, en die ervaring het my verander. Ek moes leer afskaal en met minder klaarkom. Ek het besef geen werk is ooit benede jou nie – jy doen wat nodig is.
Ek waardeer nou die klein dinge: die natuur, die stilte, die voëls se gesing en die geruis van die rivier. Ons leef sonder skuld, koop net wat ons nodig het en spaar vir wat ons nie onmiddellik kan bekostig nie.
Ek het ook geleer dat dit nie die duur borde of die perfekte huis is wat samesyn spesiaal maak nie, maar die mense om die tafel.
Hier het ek meer in voeling met my eie emosies geraak – om eerlik te sê wanneer ek Suid-Afrika mis of wanneer die gemis swaar raak. Argentinië het my geleer om te buig sonder om te breek, eenvoud te omhels en myself telkens weer te herontdek.
Praat julle nog Afrikaans?
My man praat nie Afrikaans nie, maar ek praat steeds Afrikaans met my familie en vriende. In ons huis vloei vier tale saam. Soms spring ons van een taal na ’n ander sonder om dit eers te besef. Dit gee kleur en karakter aan ons daaglikse lewe.
Wat is jou gunstelingherinnering van Suid-Afrika?
Wimpy is vir my beslis nommer een! Wanneer ek land, is dit die eerste plek waarheen ek gaan – vir ’n Wimpy-koffie en ’n “Cheese Griller”-ontbyt wat my onmiddellik terugneem na my kinderdae.
Suid-Afrika het baie verander, en elke keer as ek teruggaan voel ek tegelyk tuis én vreemd. Daar is steeds die bekende geure, mense en landskappe wat my laat voel ek behoort daar. Maar daar is ook oomblikke waar ek soos ’n buitestander voel.
Wat ek altyd waardeer, is Suid-Afrikaners se vriendelikheid – daardie spontane geselsies en warmte wat moeilik elders gevind word. Dit herinner my dat tuiskoms nie net ’n plek is nie, maar ook ’n gevoel.
Is daar Suid-Afrikaanse winkels of produkte naby julle beskikbaar?
Hier by ons is daar ongelukkig niks wat regtig Suid-Afrikaans is nie. Elke keer as ek teruggaan, bring ek rooibostee, biltong, pakkies souse, koffie, NikNaks en natuurlik klere saam terug.
Ek geniet dit veral om klere in Suid-Afrika te koop – jy kan eenvoudig instap en iets kry wat pas, sonder al die gesukkel wat ek soms hier ervaar.
Wat sal jy jou emigrasiehoofstuk noem?
Tussen twee huise.
Wat sou jy sê is die grootste verandering in jouself sedert julle geëmigreer het?
Die grootste verandering is dat ek my lewe nou as deel van ’n groter plan sien. Ek glo vas God het my pad uitgestippel en dat ek hierheen gekom het met ’n doel.
Ek sou graag nader aan my kinders en kleinkinders wou wees, maar ek verstaan ook dat almal hul eie pad stap – en dat ek self oor die jare verander het.
Hierdie reis het my ’n nuwe identiteit gegee: nie net as Suid-Afrikaner nie, maar as iemand wat tussen twee wêrelde leef en in beide tuis kan wees. Dit het my innerlike krag geleer en my gewys dat ek presies is waar ek moet wees.

Is daar enigiets anders wat julle graag wil deel?
As ek terugkyk, sou ek sekere dinge anders gedoen het – meer geduldig gewees het en die papierwerk beter hanteer het. Dit sou my baie frustrasie gespaar het.
Maar sou ek dit weer doen? Beslis.
Ek kyk terug en sê: Ek het dit gedoen. Ek was soms bang, maar ek was dapper. Ek het gegroei, verander en ontdek dat ek baie sterker is as wat ek ooit gedink het.
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Adelaide
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels





























