Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Marion Erskine, ’n bekende Afrikaanse skrywer, wat al 24 jaar oorsee woon en homself gevestig het in lande soos die VSA, Taiwan, die Verenigde Arabiese Emirate en Egipte. Hy het hom in 2023 in Nantes, Frankryk gevestig. Marion is in Suid-Afrika bekend vir sy voorgeskrewe jeugboeke en radiodramas, en as die stigter van die Lekkerleesboekrak op Facebook met meer as 12 500 boekwurms.
Hallo Marion, dit is baie lekker om met jou te gesels!
1. Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om in Frankryk te gaan woon?
Ek is gebore in Randfontein, maar het grootgeword in die klein myndorpie Westonaria aan die Wes-Rand. Ek was ’n arm onderwyser en het in 2002 besluit om groener weivelde oorsee te gaan soek. Ná 22 jaar se rondswerf en bitter harde werk, het ek besluit om die tweede helfte van my lewe rustiger aan te pak en uit die mal gejaag te kom. Ek was nog altyd gaande oor Frankryk en die mense hier. Nantes is in die weste van Frankryk en herinner my in ’n mate aan studentestede van vroeër, soos Stellenbosch en Potchefstroom – baie jongmense en ’n rustiger atmosfeer. Net wat die siel nodig het.
2. Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan of te reis?
Ek doen eintlik ’n bietjie van alles. Voor ek hierheen verhuis het, was ek ’n leierskapontwikkelingspesialis by ’n kernkragstasie in Abu Dhabi. Ek het ook van hier af saam met Rhodes Universiteit gewerk. Julle het seker al baie stereotipes oor die Franse gehoor, maar een wat wel waar is, is dat hulle nie eintlik Engels praat nie – nie eens die jongmense nie. Die taal is dus my grootste hekkie. Só erg dat ek hierdie jaar my lewe op ys gesit het om voltyds Frans te leer.
My tipiese dag lyk nou só: Ek staan vroeg op en gaan leer Frans van vroegoggend af. Teen sesuur keer ek terug huis toe, maak kos en werk dan aan my boekprojekte in Suid-Afrika, terwyl ek ook huiswerk doen. Ek is die oudste student in die klas – ongeveer 30 jaar ouer as meeste van my klasmaats – en dit maak ’n mens vinnig nederig. Maar ek weet dit is nodig om die moeilike taal behoorlik onder die knie te kry.
Die lekker ding van Europa is dat jy maklik kan reis. Ek betaal soms R500 om gou Italië of Spanje toe te vlieg. Ek sal dit vir niks in die wêreld verruil nie.
3. Wat was die grootste aanpassing vir jou en het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?
Weereens die taalkwessie. Ek is ’n ekstrovert en hou daarvan om te gesels, maar my Franse woordeskat kan nog nie altyd byhou by wat ek wil sê nie. Ek het al ’n paar vriende hier gemaak, maar wil beslis nog meer mense leer ken. Die Franse is fassinerend, en hoe meer ek van hulle leer, hoe meer hou ek van hulle.
4. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak?
Die uitdrukkings en idiome in Frans is heeltemal anders as in Afrikaans. Alhoewel Afrikaans sy eie stel idiome het, stem baie van ons sêgoed ooreen met Engels. Hier is dit totaal anders. In die begin het mense my byvoorbeeld gevra of ek my “geluk gevind het”. Ek was heeltemal deurmekaar, want ek het nie geweet wat hulle bedoel nie. Later het ek besef dit beteken eenvoudig: “Het jy gekry wat jy gesoek het?” – selfs iets soos tandepasta in ’n winkel. By ’n hotel sal hulle vra: “Ça a été?” – letterlik “Dit was?” – en jy antwoord: “Dit wás, dankie!” wat beteken alles was reg: geen kakkerlakke in die badkamer nie en die stort het gewerk!
5. Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie?
Die ongelooflike verskeidenheid kase. Ek was nog altyd lief vir kaas en het gedink niemand doen dit soos die Nederlanders nie. Maar Frankryk het soveel soorte kaas dat ek nie dink ek sal dit alles in een leeftyd kan proe nie. Een van hulle presidente, Charles de Gaulle, het immers gesê: “Hoe kan jy ’n land regeer wat 246 verskillende soorte kaas het?”
6. Watter lesse het jy geleer sedert jy verhuis het – oor jouself, oor aanpassing of oor jou nuwe omgewing?
Ek sê altyd groei gebeur wanneer jy uit jou gemaksone klim. Jy leer goeie – en soms minder goeie – dinge oor jouself, en wat dit van jou verg om sterk te staan. Ek het geleer ek is sterker as wat ek dink. Ek het geleer om te doen eerder as om net te droom. Ek glo vas ek is ’n beter weergawe van myself omdat ek daardie sprong van geloof geneem het.
7. Wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?
Alles. Ek praat amper nooit meer Afrikaans nie – ek lees wel. Verlede jaar het ek die eer gehad om ’n Koker-toekenning by die Afrikaanse Taalraad te ontvang, juis omdat ek, al sit ek so ver oorsee, steeds moeite doen met Afrikaans en my kultuur. Ek werk tans aan ’n groot leesprojek om kinders tussen nege en twaalf weer aan die lees te kry. Ek is trots Afrikaans en probeer oral waar ek gaan ’n positiewe beeld van Suid-Afrika uitdra.

8. Wat is jou gunstelingherinnering van Suid-Afrika?
Die reuk van boereworsrolle buite ’n supermark op ’n Saterdagoggend. Ek mis dit verskriklik. Vleis is baie duur in Europa en nie iets wat mens elke dag eet nie. Ek soek nog na ’n plek waar ek iets soortgelyks aan boerewors kan kry.
9. Is daar Suid-Afrikaanse winkels of produkte naby julle beskikbaar of moet julle kreatief raak om steeds daardie bekende smake te geniet?
Toe ek in die Emirate gebly het, kon ons Suid-Afrikaanse produkte sommer van die rak af koop – vetkoek, Creme Soda, alles. Hier, ver van Parys af, is dit ongelukkig nie die geval nie. Wanneer ek Suid-Afrika toe gaan, bring ek genoeg Mrs Ball’s saam om my ’n rukkie te hou. Ek maak gereeld bobotie en braai wanneer die weer dit toelaat. Die Franse dink my braaibroodjies is die beste ding sedert die croissant.
Ons het nie Afrikaanse diensverskaffers hier nie. Ek dink Nataniël se boetie is die enigste ander Suid-Afrikaner in my area, en ek het hom nog nooit raakgeloop nie.
10. Wat sal jy jou emigrasiehoofstuk noem?
Projek ELKOKWEKI – Een lewe. Kom ons kyk wat ek kan inpas. Ek leef voluit. Teen April 2026 het ek al met ’n Suid-Afrikaanse “groen mamba”-paspoort in 113 lande spore getrap.
11. Wat sou jy sê is die grootste verandering in jouself sedert jy geëmigreer het?
Ek het geleer om nooit te stagneer nie. Sedert daardie eerste vlug het ek nie ’n dag gehad waar ek niks geleer het nie – of dit nou ’n nuwe taal soos Chinees of Frans is, ’n nuwe vaardigheid, of selfs hoe om ’n behoorlike bœuf bourguignon te maak. Ek het ook besef hoe maklik ons aannames maak oor ander mense omdat ons ons ore uitleen vir ander se stories. Ek wou self gaan kyk – en het besef ons het baie meer gemeen met die wêreld as wat ons dink.

12. Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel – iets wat jy wens jy geweet het voor jy vertrek het, of raad vir ander wat oorweeg om dieselfde pad te stap?
Doen jou navorsing. Moenie alles glo wat jy hoor of lees nie. Maak kontak met mense aan die ander kant. Die gras is nie net groener aan een kant nie – elke plek het sy voordele en nadele. Jy gaan altyd iets moet prysgee om iets anders by te kry. En as jy nie bereid is om elke faset van jouself – die mooi en die lelike – raak te sien nie, moet jy dalk weer dink. So ’n groot skuif verander ’n mens. Dit los niemand onveranderd nie.
























