Afrikaans se Europese bande gevier – ’n Grieks-Afrikaanse woordelys sien die lig
Deur Alana Bailey
Die Afrikaanse Taalmonument vier ons taal se herkoms uit drie kontinente – Afrika, Europa en Asië. Meer spesifiek is daar ’n suil van 13.5 meter wat die Europese bydrae herdenk en onder meer na die rol van Nederlands, Duits, Engels en Portugees in dié verband verwys. Die onlangse verskyning van die publikasie, Grieks-Afrikaanse woordelys, herinner ons egter aan die dieper klassieke wortels van Afrikaans – wortels wat vandag nog in moderne Grieks gevind kan word.
Antonis Mandritis is in 2021 as hoë kommissaris van Siprus in Suider-Afrika aangestel. Die groot hoeveelheid Afrikaanse woorde wat ’n merkwaardige ooreenkoms met Grieks toon, het hom dadelik aangegryp en hy het dit begin aanteken. Met behulp van Dirk Taljard, wat jare lank as onderwyser aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria verbonde was, het hy mettertyd ’n gespesialiseerde woordelys saamgestel. Met inligting afkomstig uit woordeboeke soos die WAT, HAT en EWA, gekontroleer deur VivA en met ondersteuning van die FAK, is die lys gefinaliseer en virtueel gepubliseer. Dit kan afgelaai word by https://apps.apple.com/za/app/viva-woordeboekapp/id6471499921 of van VivA se Woordeboektoep. ’n Klein oplaag is ook gedruk.
Die lys is alfabeties volgens die Afrikaanse woorde georden. Die Engelse weergawe van elke woord verskyn daaronder en dan die Griekse woord. Die etimologiese oorsprong van die woorde word ook ondersoek en aangedui.
Van die woorde se Griekse herkoms is waarskynlik aan die meeste mense bekend, byvoorbeeld “akademie”, “demokrasie” en “filosofie”. Ander soos “horison”, “kaart”, “musiek” en “tier” mag verras.
Afrikaanse woorde word maklik as anglisismes afgemaak, sonder dat die herkoms daarvan nagespeur word om hulle veel ouer wortels in klassieke tale soos Grieks en Latyn te vind.
Die hoë kommissaris se waardering vir Afrikaans is prysenswaardig. In ’n tyd wat Afrikaanssprekendes ons taal so maklik afskryf as ’n klein taal wat sogenaamd sonder internasionale betekenis is, bewys sy werk die teenoorgestelde – dat dit ’n jong taal, maar gestandaardiseer is, met baie direkte bande met ander internasionale tale.
In die voorwoord brei hy ook uit oor die spore van Griekse kultuur wat in Suid-Afrika gevind word, onder meer in ons argitektuur, en oor die groot Griekse gemeenskap in Suid-Afrika.
Suid-Afrikaners wat in Griekeland of op Siprus gaan besoek aflê, tref soms inwoners daar aan wat Afrikaans kan praat. Nasate van die gemeenskap hier gaan vestig hulle weer daar en so bly die wisselwerking tussen die twee gemeenskappe en tale lewendig.
Het julle al so ’n ervaring beleef of woon julle in Griekeland of op Siprus? Laat weet ons gerus by AfriForum Wêreldwyd.
Deel op
Nuutste artikels



















