Natuurhoekie 81: Op vlerke: ’n Reusevisvanger, ’n bosruiter en ’n grootwitreier wat jag

15/07/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Natuurhoekie 81: Op vlerke: ’n Reusevisvanger, ’n bosruiter en ’n grootwitreier wat jag

Deur André Christof

Kom reis weer saam deur die Nasionale Krugerwildtuin met André en Katie van Op vlerke. André vertel van die ryke diere- en voëllewe by ’n brug oor die Letabarivier:

Een jaar, op pad van Phalaborwa-hek af na Mopani Ruskamp, gaan hou ons aan die duskant van die baie skuins wal op die laagwaterbrug oor die Letabarivier stil.

Die rivier lê breed uitgestrek, die water vloei vanuit die weste teen die kant af, wat doer, ’n hele ent weg, links van die brug in ’n paar strome verdeel, om yslike sandbanke gaan, waarna dit regs van die brug weer saamvloei en in Letaba Ruskamp se rigting voortsnel.

Anderkant die sandbanke sien mens op plekke in die rivierbedding lae plantegroei, polle geelbruin gras en rye spore soos diere van die oorkant af op die sagte sand na die water toe geloop het.

Nou bespied ons ’n massiewe gewone trosvyboom met die gelerige stam, deur vloedwaters meegesleur, wat daar by die samevloeiing in die vlak water lê. ’n Mens sien die reuse stutwortels met die groot oorlangse riwwe aan die basis, enkele dik takke wat nog nie vergaan het nie, opdrifsels wat daarin vasgevang is.

Die wind lê op die water, dit waai só sterk teen die vloeirigting dat dit hier en daar kompleet lyk of die water stroomop loop.

Nie ver van die trosvy af nie, lê ’n krokodil met sy kenmerkende lang driehoekige snoet, velpantser van horingagtige skilde oor die lyf en twee rye yslike stekels op die bokant van die stert wat na die punt toe in een ry saamsmelt. By ’n inham van ’n sandbank in die rustigheid van die vlak water, beskut teen die wind, lê en loer hy met sulke gemmer oë, sy bek wyd oop.

Nou gewaar ons sommer hier naby ons ’n reusevisvanger, wat van onderkant die brug af water toe duik. Hy is onmiskenbaar met sy lang, swaar snawel, opmerklike kuif, donker rug met wit spikkels en rooibruin bors. Hy sit op een van die brug se betonpilare vanwaar hy die water wat onderdeur die brug vloei, bespied. Sy vere waai in die wind.

Nou en dan duik hy. Ons kan nie die water sien nie, dis te na aan die wal. Per geleentheid keer hy met ’n vis, so ’n grote, terug na sy sitplek.

Daar versit hy die vis noukeurig, draai dit dwars in sy bek en slaan dit teen sy sitplek. Hy swaai sy kop na die een kant toe terug, gaan haal aan van oor sy rug, kom met ’n spoed vorentoe, dan slaan hy die vis met ’n sweepslag teen die pilaar. So verwerk hy nou die vis tot sag, daarna versit hy dit versigtig dat die kop na sy keelgat toe wys en begin die vis in sulke paaiemente in sy keel afwurg.

’n Hele ent stroomop, lê sewe waterbokkoeie op ’n sandbank regs van die stroom op hulle voorlywe. Een staan daar langs die water en kyk oor die rivierbedding uit. Die ram lê op sy voorlyf ’n hele ent na regs op ’n afsonderlike sandbank, sy rug na die koeie gekeer. Die water vloei rustig voor hom verby.

Nie ver van die brug af nie, kom vyf bulle al weiende in sulke kort groen grasse links langs die stroom aangestap, die een aan die voorpunt draai later weg, loop daar waar die water om ’n draai om klippe vloei, duskant ’n wolnekooievaar. Laasgenoemde beweeg stadig gebuk in die stroom op, al soekende na ’n groenigheid wat hy teen die kant van ’n sandbank langsaan bespeur het, sy kop omlaag.

Anderkant die wolnekooievaar gewaar ons ’n swartriethaan – ’n klein, pikswart voëltjie met ’n ronde lyfie, kort stert, sterk heldergeel snawel en rooi bene.

Nou en dan hoor ons so ’n lawaaierige borrelende, weet-eet-eet-eet, weet-eet-eet-eet- roep, waar die voëltjie om klippe vir insekte, skaaldiere, sade en plantmateriaal soek.

’n Entjie van die swartriethaan af loop ’n gewone bosruiter met sy stert wat so wip dat die hele lyfie swaai. Hy beweeg al langs die stroom wat nogal sterk vloei af op soek na kossies. Hy het ’n lang fyn snawel, opvallende wit wenkbroustreep, streperigheid oor die bors, donkerbruin rugkant met wil kolletjies en lang geel bene.

Op ’n keer gaan staan hy, bespied teen die kant af, toe beweeg hy al wipswaaiend na die rustigheid van die vlak water waar hy gebuk daar tussen rotse teen die kant om klippies verder soek en elke af en toe iets oppik.

Dit is ’n erg luidrugtige voëltjie. Elke nou en dan hoor ons sy hoë, effens dalende tjiff iff iff– roep.

Net anderkant hom jag ’n grootwitreier. Hy het ’n slanke swart snawel, swart bene en pote, lang S-vormige nek en oordadige pluime op sy agterkop. Sy lang nek is gestrek soos hy in die kniediep water rondloer. Later loop hy duskant ’n sandbank in die stroom af, draai regs voor ’n klomp rotse verby, volg die stroom, gewaar ’n vangs ’n ent vorentoe, draf haastig nader, pik, mis, en nou staan en bekyk hy die plek vir ’n wyle.

Dan loop hy na ’n stroom wat anderkant die rotse met so ’n draai in die rivier af kom en waar ’n smal strook snelvloeiende water tussen klippe deur in die stroom afjaag.

Die volgende oomblik trek hy weg, hardloop in die snelvloeiende water af, gee sulke lang treë agter die prooi aan, die pote hoog gelig, maak die vlerke oop, gee ’n sprong vorentoe, die pote skuins na agter bo die oppervlak uit, land en flap die regterkantse vlerk. Hy stuur so met dié vlerk, swenk links, klap die linkerkantse vlerk diep, vlieg regs om, pik, mis.

Nou draai hy hééltemal om, loop so ’n entjie in die stroom af, draai om, dan loop hy in die stroom op, soek, op ’n plek vlieg hy weer om, draf in die stroom af, dan gaan staan en beloer hy die water, draai om, stap weer in die stroom op, nie lank nie of hy vlieg weer om.

Later loop hy al soekende in die snelvloeiende strook water op. Nou en dan gaan staan en woel hy met die pote op die bodem, beloer die water, stap verder stroomop en raak om ’n draai anderkant ’n sandbank buite sig.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels