Wat elke Suid-Afrikaner oorsee van Binnelandse Sake moet weet – praktiese raad vir Suid-Afrikaners in die buiteland
Deur Sue-Ann de Wet
Vir baie Suid-Afrikaners in die buiteland is ’n besoek aan Binnelandse Sake iets wat hulle hoop om so lank as moontlik uit te stel. Tog bly jou Suid-Afrikaanse dokumente belangrik, of jy nou in Australië, Kanada, die VK, Nederland of Nieu-Seeland woon.
’n Paspoort wat verval het, ’n verlore huweliksertifikaat of die registrasie van ’n kind wat in die buiteland gebore is, kan vinnig ’n ingewikkelde proses word as jy nie weet waar om te begin nie.
Die goeie nuus is dat die Departement van Binnelandse Sake die afgelope paar jaar verskeie digitale verbeterings aangebring het wat sommige prosesse makliker maak. Tog is daar steeds uitdagings en wagtye waarvan Suid-Afrikaners oorsee bewus moet wees.
1. Moenie wag totdat jou paspoort verval nie
Een van die grootste foute wat emigrante maak, is om te wag totdat hul paspoort reeds verval het voordat hulle vir ’n nuwe een begin aansoek doen. In sommige lande kan wagtye langer wees as wat ’n mens verwag. Daarbenewens vereis sekere visum- en reisprosesse dat jou paspoort nog minstens ses maande geldig moet wees.
Dit is wys om na die vereistes en wagtye in jou land van verblyf te kyk reeds 12 maande voordat jou paspoort gaan verval.
2. Hou jou burgerlike dokumente veilig
Sekere dokumente kan jare later onverwags benodig word:
- geboortesertifikate
- huweliksertifikate
- egskeidingsbevele
- doodsertifikate
- naamsveranderingsdokumente.
Baie Suid-Afrikaners ontdek eers tydens burgerskap-, pensioen-, belasting- of erfprosesse dat hulle nie meer toegang tot hierdie dokumente het nie. Hou elektroniese afskrifte op ’n veilige aanlynplatform en bewaar die oorspronklike dokumente op ’n veilige plek.
3. Kinders wat in die buiteland gebore word
Wanneer ’n Suid-Afrikaanse kind in die buiteland gebore word, is dit belangrik om vroegtydig uit te vind hoe die geboorte by die Suid-Afrikaanse owerhede geregistreer moet word. Vereistes kan verskil afhangende van die land waarin die kind gebore is en die status van die ouers.
Dit is dus raadsaam om die naaste Suid-Afrikaanse ambassade of konsulaat so vroeg moontlik te kontak om onnodige vertragings te voorkom.
4. Die nuwe digitale rigting van Binnelandse Sake
Die Departement van Binnelandse Sake is tans besig met ’n groter digitale transformasie. Die doel is om weg te doen met papier gebaseerde prosesse na ’n geïntegreerde, digitale identiteitstelsel. In die toekoms behoort meer dienste elektronies beskikbaar te wees, wat wagtye en administrasie-uitdagings kan verminder.
Hoewel baie van hierdie veranderinge nog stelselmatig in werking gestel word, is dit ’n goeie idee om die departement se amptelike aankondigings dop te hou, aangesien dit uiteindelik ook Suid-Afrikaners in die buiteland kan bevoordeel.
5. Verstaan die rol van ambassades en konsulate
Baie mense aanvaar dat ’n ambassade alle Binnelandse Sake-dienste kan verrig. In werklikheid verskil dienste van land tot land. Sommige ambassades kan paspoortaansoeke verwerk, terwyl ander slegs sekere dokumente kan hanteer en aansoeke na Suid-Afrika moet deurstuur.
Maak seker presies watter dienste jou naaste Suid-Afrikaanse ambassade of konsulaat bied voordat jy reis of dokumente indien.
6. Beplan vir wagtye
Selfs met nuwe tegnologie bly wagtye soms onvermydelik.
Begin die proses eerder vroeër as later indien jy
- wil reis,
- ’n visum moet hernu,
- burgerskap in ’n ander land aanvra of
- dokumente vir ’n erfproses benodig.
Baie van die spanning wat Suid-Afrikaners ervaar, ontstaan nie omdat die proses onmoontlik is nie, maar omdat daar te min tyd is wanneer die dokument uiteindelik benodig word.
7. Maak seker jou besonderhede stem ooreen
Een van die algemeenste redes vir vertragings is wanneer name, vanne, geboortedatums of identiteitsnommers nie op die verskillende dokumente ooreenstem nie.
Dit kom dikwels voor wanneer
- huwelike geregistreer word,
- vanne verander,
- dubbele burgerskap ter sprake is of
- ou dokumente gebruik word.
Dit is die moeite werd om van tyd tot tyd jou belangrike dokumente te vergelyk en seker te maak dat alle besonderhede orals ooreenstem.
8. Bly op hoogte van veranderinge
Binnelandse Sake se prosesse verander gereeld. Wat vyf jaar gelede gegeld het, is nie noodwendig vandag steeds van toepassing nie. Daarom is dit belangrik om
- die amptelike Binnelandse Sake-kanale te volg,
- jou naaste Suid-Afrikaanse ambassade of konsulaat se webtuiste gereeld te besoek en
- betroubare diasporaplatforms dop te hou wat praktiese inligting vir Suid-Afrikaners in die buiteland deel.
’n Laaste gedagte
Vir baie emigrante is Binnelandse Sake ’n plek waaraan hulle net dink wanneer daar ’n probleem ontstaan. Maar ’n geldige paspoort, korrekte dokumentasie en tydige beplanning kan baie stres voorkom.
Al woon jy duisende kilometers van Suid-Afrika af, bly jou Suid-Afrikaanse dokumente deel van jou (administratiewe) identiteit. Hoe beter jy dit bestuur, hoe minder verrassings wag op jou wanneer jy dit eendag dringend nodig kry.



















