Boerebande 19 – Standbeeld van President Steyn in Deventer, Nederland
Deur Alana Bailey
Marthinus Theunis Steyn (1857–1916) was die laaste president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat. Hy is al beskryf as die “Afrikaner van die Afrikaners” en “siel van die Vryheidstryd”.
Hierdie besondere man is op 2 Oktober 1857 in die distrik Winburg as die vierde van elf kinders gebore. Ná sy skoolopleiding aan Grey Kollege in Bloemfontein het hy aanvanklik help boer op sy pa se plaas, maar in 1877 na Nederland vertrek om daar verder te studeer.
’n Fassinerende stukkie geskiedenis omtrent hierdie seereis na Europa, is dat president Paul Kruger, as lid van die eerste afvaardiging van die gewese Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), op dieselfde skip was. Tydens dié ontmoeting was Kruger reeds in sy vyftigerjare en Steyn ’n jongman van 19. Dink net as ’n mens ’n vlieg teen die muur kon wees om te hoor waaroor dié twee tydens die reis gesels het!
In Nederland aangekom, het Steyn en sy vriend, Harry Vels, met behulp van twee dosente van die gimnasium in Deventer vir die toelatingseksamen van die Universiteit van Leiden voorberei. Eers het Steyn en Vels by tantes van Vels in die dorpie Twello gewoon, maar ná hulle voorbereidende studies begin het, het hulle kamers by ’n kruidenier in Deventer gehuur. In 1879 het hulle egter besluit om na Engeland te gaan, waar Steyn sy regstudies aan die Inner Temple in Londen voltooi het.
In Desember 1883 het hy as gekwalifiseerde regsgeleerde na die Vrystaat teruggekeer. Hy het vinnig opgang in die regswese gemaak. Aan die begin van 1889 is hy as staatsprokureur van die Vrystaat aangestel en in 1892 as hoofregter. In Maart 1896 is hy as president van die republiek ingehuldig.
Steyn het samewerking met alle moontlike vennote voorgestaan, maar was intens bewus van sy Afrikaner-identiteit en passievol oor sy mense en taal. Voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog op 11 Oktober 1899, het hy sy bes probeer om militêre konflik te voorkom, maar ná die oorlogverklaring sterk standpunt teen oorgawe ingeneem. Teen die einde van die stryd was hy ’n baie siek man. Op 30 Mei 1902 het hy noodgedwonge die amp as president neergelê. In hierdie stadium was hy feitlik heeltemal verlam, maar steeds in die kamp by Vereeniging saam met sy manne.
In Julie 1902 het Steyn en sy vrou na Europa vertrek om behandeling vir sy siekte te kry. Die Boere se moedige teenstand teen Brittanje het Nederlanders se verbeelding aangegryp. Hy is deurgaans daar as held ontvang. Van die Nederlandse ondersteuners het ook tydens die Anglo-Boereoorlog as vrywilligers aan die kant van die Boere geveg. Een van hulle was J.C. Kakebeeke, ’n inwoner van Deventer. Hy het Steyn op kommando ontmoet en die president het so ’n diep indruk op hom gemaak dat hy voorspraak gemaak het daarvoor dat ’n standbeeld van Steyn in Deventer opgerig moes word.
Kakebeeke en ’n studentevriend van Steyn, dr. Houck, het die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging (NZAV) met die voorstel genader en later ook dr. H.P.N. Muller, ’n oudkonsul-generaal van die OVS. ’n Kommissie is onder die voorsitterskap van Muller gestig om die oprigting van die standbeeld te hanteer. Beeldhouers kon hulle voorstelle vir die beeld voorlê en die kommissie het besluit op die voorstel van die kunstenaar Toon Dupuis. Van sy bekende werke het toe reeds beelde van die skilder Rembrandt en die broers Cornelis en Johan de Witt (politieke leiers van die 17de eeu) ingesluit.
Dupuis het besluit om Steyn uit te beeld asof hy in die veld staan, besig om sy burgers te bemoedig. Die beeld toon ’n staande Steyn met sy bandelier om sy lyf, sy hand op die Bybel en rotsblokke onder sy voete. Die stadsraad van Deventer het grond naby die treinstasie beskikbaar gestel waar dit opgerig is.
Die standbeeld is amptelik op 6 Julie 1922 deur Steyn se dogter Gladys Steyn onthul. Ná die luisterryke seremonie by die standbeeld, is die verrigtinge in die nabygeleë St. Lebuïnuskerk voortgesit. Onder meer is ’n telegram van genl. J.B.M. Hertzog voorgelees en die Vrystaatse en Transvaalse volksliedere gesing. ’n Onthaal het gevolg in ’n saal wat met die Vrystaatse vlag versier is. Die hoop is uitgespreek dat die beeld nie net Steyn se rol en nalatenskap sou huldig nie, maar ook bande tussen Nederland en Suid-Afrika sou versterk.
Interessant genoeg was dit die eerste standbeeld wat vir Steyn opgerig is. Dit kan steeds op dieselfde plek in Rijsterborgherpark in Deventer gesien word. Daarby is ’n inligtingsbord met die woorde: “Geen offer heeft hij geschuwd voor zijn volk, voor de trouw aan ‘s lands woord voor onafhankelijkheid, recht en taal. Hij was een eer aan onze staat.”
In die apartheidjare is die standbeeld dikwels met verf gevandaliseer en op ’n keer is daar skynbaar selfs ’n brand daarby gestig, maar dit is telkens weer herstel. Weens Black Lives Matter-betogings en die anti-kolonialismedebatte is die standbeeld teen 2020 weer in kontroversie gehul. Daar was voorstelle dat dit verwyder moes word, of dat meer konteks daaraan gegee moes word met nog ’n inligtingsbord, of deur ’n kontrasterende beeld daarby op te rig.
Die publiek se insette is gevra en 60 voorstelle is uiteindelik ontvang. Van die kunstenaars se voorleggings is op baniere gedruk en tydelik by die beeld uitgestal. Plakkate wat hierby aansluit is ook elders in Deventer opgeplak. Uiteindelik is drie kunstenaars genooi om hul idees in meer besonderhede te ontwikkel. Hulle het ook ’n openbare gesprek hieroor gevoer, waarvan ’n opname aanlyn beskikbaar is.
Sover vasgestel kon word, het die hele kwessie hierna stoom verloor. Die gevoel was dat die besluit op een opsie die rykdom van ander opsies sou kelder. Daar was verder sprake van ’n vervolgprojek, maar of dit gebeur het, is onduidelik.
In 2025 het ouer Nederlanders in reaksie op ’n foto van die standbeeld op ’n Fecebookgroep “Herinner je Deventer” aangedui dat dit ’n geliefde deel van hulle stadsbeeld is. Dit is waar verliefdes ontmoet en waar die krokusse in die lente mooi blom. Nou staan die president ’n eeu later steeds fier en tuur uit oor ’n wêreld wat maar net so vol strominge en onsekerheid is as destyds toe dit opgerig is.
Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels



















