Afrikaans is Lekker-toer skop af in Australië en Nieu-Seeland
Deur Marthinus Koekemoer
Laat weet sommer dadelik jou familie en vriende in Australië en Nieu-Seeland – Appel, Bernice West en Elvis Blue is op pad om die wêreld “daar doer onder” aan die brand te sing. Die 2026 Afrikaans is Lekker-musiektoer skop Vrydag in Christchurch, Nieu-Seeland, af waarna dié sterre ook in Auckland en vier stede in Australië gaan musiek maak voor die laaste konsert op 23 Augustus in Perth gehou sal word.
Die Afrikaans is Lekker-toer, waarvan AfriForum Wêreldwyd die hoofborg is, is meer as bloot konserte, dit is ’n plek waar Afrikaners nuwe vriende kan maak, terwyl hulle hul kultuur in die buiteland uitleef. Volgens Sue-Ann de Wet, hoof van Diaspora by AfriForum Wêreldwyd, wys die volgehoue gewildheid van dié konserte ook hoe sterk Afrikaners se behoefte aan verbondenheid in die buiteland is.
“Mense woon die konserte by om na lekker Afrikaanse musiek te luister, maar dit is ook ’n geleentheid om weer tussen Afrikaanssprekendes te wees, bekende gesigte te sien, nuwe vriende te maak en vir ’n aand weer daardie besondere gevoel van tuiswees te ervaar.”
Volgens Arno Nel, eienaar van SA Events en organiseerder van die musiektoer, is Afrikaans is Lekker ’n jaarlikse hoogtepunt vir Afrikaners in die buiteland.
“Afrikaans is lekker is vir baie mense ’n jaarlikse hoogtepunt waar families en vriende bymekaarkom en nuwe vriendskappe ontstaan. Dit is ongelooflik om te sien hoe die Afrikaanse gemeenskap hierdie geleenthede hul eie gemaak het,” verduidelik Nel.
Konsertgangers kan uitsien na die energie van Appel, West se vars klank en Blue se diep storievertelling. Wie ook al jou gunsteling is uit die drie, maak gereed om heerlik saam te sing, te dans en saam te kuier op die maat van bekende treffers wat verseker die nostalgie gaan laat opvlam.

Toerdatums
- 14 Augustus – Christchurch
- 15 Augustus – Auckland
- 16 Augustus – Melbourne
- 21 Augustus – Sydney
- 22 Augustus – Brisbane
- 23 Augustus – Perth
“Al woon Afrikaners duisende kilometers van Suid-Afrika af, bly Afrikaans en die gemeenskap vir baie ’n belangrike anker. Sulke geleenthede versterk bestaande vriendskappe, skep nuwe netwerke en herinner ons daaraan dat ons taal en kultuur iets is wat mense steeds met trots saam wil vier,” sluit De Wet af.
Kaartjies vir al die konserte is beskikbaar by www.southafricanevents.com/events.
Deel op
Nuutste artikels



















