Deur Ernst Roets
AfriForum maak goeie vordering met sy veldtog om steun in die buiteland te werf.
In April vanjaar het die burgerregte-organisasie wéér ’n afvaardiging na die VSA gestuur om op te volg op die vordering wat verlede jaar gemaak is tydens ’n besoek deur myself en Kallie Kriel, uitvoerende hoof.
Die besoek in 2018 was veral belangrik om ’n sterk boodskap binne Suid-Afrika te stuur dat AfriForum van voorneme is om sy veldtog teen plaasmoorde en vir die beskerming van eiendomsreg regoor die wêreld uit te brei. In daardie opsig het ons goed geslaag.
Die onderhoud wat ons op Tucker Carlson Tonight (een van die gewildste TV-nuusprogramme in die VSA) gehad het, het baie gehelp. Ons het egter voor die uitsending van die program reeds geweet dat die besoek impak gemaak het toe pres. Cyril Ramaphosa tydens ons besoek ’n toespraak in die parlement gemaak het en ’n beroep op ons gedoen het om terug te keer na Suid-Afrika. Waarom is dit belangrik? Want dit wys vir ons dat ons veldtog ernstig opgeneem word en dat daar ’n besef by die regering is dat hulle dopgehou word – in so ’n mate dat dit vir die staatspresident belangrik genoeg is om in die parlement daaroor standpunt in te neem.
Dit beteken dat ons daarin geslaag het om die “magsbalans” (om die ANC se term te gebruik) in ons guns te beïnvloed. Die grootste toegewings wat die ANC en die regering tot op hede gemaak het wanneer dit by onteiening sonder vergoeding kom, was ook telkens wanneer die magsbalans teen hulle gedraai het – weer eens is bewys dat mooi vra selde ’n doeltreffende strategie is wanneer ’n mens met ’n bevrydingsbeweging te doen het.
Vanjaar se besoek aan die VSA was ’n groot deurbraak om ander redes. Die toer het taamlik blootstelling in Suid-Afrika gekry, maar dit was nie die doel daarmee nie. Die doel was – om die terminologie te gebruik wat ons dikwels op kantoor gebruik – om vreemdelinge in vriende te omskep en vriende in aktiviste. Ons kan met vrymoedigheid sê dat daar tans invloedryke persone in Washington, D.C. is wat vir AfriForum nie meer vreemdelinge of net vriende is nie – hulle het as ’t ware aktiviste vir ons saak geword.
Mariandra Heunis, ’n slagoffer wie se man Johann in 2016 vermoor is, het ons op die toer vergesel om haar storie te vertel. In Suid-Afrika hoor ons so gereeld sulke stories dat ’n mens amper gewoond geraak het daaraan. Vir Mariandra om in persoon daar te wees en haar storie met besluitnemers in Washington, D.C. te deel, het veral ’n baie sterk indruk by hulle gelaat van wat die krisis op Suid-Afrika se plase is. Ons het ook goeie blootstelling in die VSA gekry – meer as ooit. Nagenoeg 20 Amerikaanse radiostasies het onderhoude met ons gevoer. Ons het ook vyf verfilmde onderhoude gehad, naamlik op Fox News, die Israelse nuuskanaal i24 en die aanlyn nuusplatforms The Blaze, One America News Network en The Daily Caller.
Om die storie van Suid-Afrika met mense te deel is belangrik, maar dit help nie veel as dit nie opgevolg word met een of ander vorm van aksie nie. Daarom is ons langtermynstrategie om sterker vennootskappe in Washington, D.C. te bou en sterker standpunt uit Washington, D.C. te kry oor wat in Suid-Afrika aangaan. Dit is nie iets wat sommer oornag gebeur nie, maar wat die gevolg van goeie verhoudings, betroubare inligting en sinvolle optrede is.
Tydens ons laaste besoek het ons met die “State Department” (buitelandse sake) vergader, asook met die kantore van agt politici in die senaat en die huis van verteenwoordigers. Die meeste van dié met wie ons gepraat het, dien tans op een van die buitelandsesakekomitees. Ons glo ook dat die geleentheid vir ons bestaan om hierdie komitee oor te haal om standpunt in te neem, hoewel daar nog aanvoorwerk in hierdie verband gedoen moet word. Ons het ook die geleentheid gehad om ’n voorlegging te doen voor die invloedryke drukgroep Americans for Tax Reform (so invloedryk dat pres. George W. Bush weekliks verteenwoordigers gestuur het om hulle vergaderings by te woon), waar ons aanbieding sterk byklank gevind het.
’n Ander belangrike been van ons Amerikaanse skakeling is om met navorsingsinstellings te skakel – veral navorsingsinstellings wat op internasionale kwessies fokus en wat die regering adviseer. Ook hier het ons veral vordering gemaak.
’n Volgende fase in ons veldtog om groter impak in die VSA te maak is om mense in die VSA wat ons goedgesind is (dit sluit Afrikaners, Suid-Afrikaners en Amerikaanse vriende in) te oorreed om briewe vir hul verteenwoordigers te skryf en op dié wyse ook groter druk uit te oefen. Ons is van mening dat hierdie stap ook ’n groot rol sal speel om die krisis in Suid-Afrika onder die aandag van die Amerikaanse regering te bring. Indien jy kontakte in die VSA het of self daar is, skakel solank in by www.wereldwyd.co.za. Ons sal in die komende maande met hierdie veldtog begin.
Verwag ons van die Amerikaanse regering om ons probleme vir ons op te los? Definitief nie. Ons moet ons eie probleme oplos. Die geskiedenis het egter geleer dat internasionale steunwerwing ’n kardinale komponent van enige drukgroep wat politieke verandering wil hê, se strategie moet wees. En daar is geen beter plek waar ’n mens hierdie les kan leer nie deur juis te kyk na die rol wat die internasionale samelewing met betrekking tot Suid-Afrika gespeel het.