Deur Karen Erasmus
In ’n vreemde land kan dit voel of ek in Engels kan verdrink.
Soms onderdruk dit my gedagtes.
Maar in my binnekamer is waar my Afrikaans lê.
Veilig.
Ongerep.
My eie gedagtes in my moedertaal.
My gebede in my moedertaal.
Onberispelik.
Geen ander taal kan “lekker” lekker beskryf nie.
Hoe verduidelik jy beeldskoon in Engels.
Of tittewyt?
Hoe mooi is die woord pluimpie? Of spookasem.
Daar is geen manier wat ek vir ’n brak voertsek kan sê in Engels nie. Hulle luister net nie dieselfde nie.
Die geraas om ons is in Engels, maar die stilte binne ons is Afrikaans.
As ons voordeur toe gaan is dit braaibroodjies, mieliepap, pampoenkoekies, braaivleis en melktert.
Ons leer ons kinders nog gesegdes soos tande tel, laat die aap uit die mou, dis ’n feit soos ’n koei en dis neusie verby.
In ’n vreemde land… bly ons toegewy aan ons taal, kultuur en erfenis. Aspris. Ons kies dit. Elke dag.
Ons het baie dinge prys gegee om te immigreer, maar nie Afrikaans nie. Dit sit soos ’n knapsekêrel op ons hart.
Afrikaans is nie net in ons bloed nie, dis ons asem. Ons menswees.
Tot die lengte van dae.
Liefde uit Nieu-Seeland
Karen Erasmus

Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.