Deur Ilze Nieuwoudt
Die volgende skets verskyn in die geliefde skrywer J.C. Steyn se laaste boek, So is onse mense, wat binnekort amptelik by AfriForum Uitgewers bekendgestel word. Dié boek is beskikbaar teen slegs R290 in die uitgewer se aanlyn winkel.
Dit klink dalk na ’n wolhaarstorie: Die Britse koningsgesin loop deur die wingerde op ’n Bolandse plaas en gaan drink tee by die Van der Merwes.
Tog het dit werklik gebeur tydens die besoek van die Britse koningsgesin aan Suid-Afrika in 1947. Die skryfster M.E.R. vertel in 1951 daarvan aan haar dogter, Anna, nadat sy die storie van een van die betrokkenes gehoor het.
Die besoek was destyds nogal omstrede. Baie Afrikanernasionaliste het hul neus bietjie daarvoor opgetrek en Die Transvaler, met dr. H.F. Verwoerd as redakteur, het nie berigte daaroor geplaas nie.
By ons plaasskool het die onderwyseres in opdrag van die onderwysdepartement medaljes met die afbeelding van koning George VI aan elke leerling uitgedeel. My ma was vies toe sy die ding by my kry en het gedreig om dit in die kleinhuisie se gat te gooi – wat sy darem nie gedoen het nie! (Puttoilette was destyds nog algemeen, ook by die skool.)
Ook die gesin Van der Merwe was Nasionaliste en het maar eenkant gebly terwyl alles gereed gemaak is vir die koninklike verblyf op die plaas.
Die koningsgesin het met ’n spesiale trein gery en sou een nag op ’n sekere plek op ’n sylyn stop. Die nag en die volgende oggend sou hulle in die stilte van die plaas kon herstel van al die huldebetuigings en ander gedoentes wat met so ’n besoek gepaardgaan.
Die koning en sy mense het die nag in die trein geslaap. Vroeg die volgende môre het die koning, sy vrou en een van die dogters deur die wingerde na die plaashuis gestap.
Die Van der Merwes het hulle binnegenooi, tee gemaak en droë beskuit daarby bedien, want dit was die enigste lekkerny wat hulle op daardie oomblik gehad het. Hulle het glo lekker sit en gesels.
Naderhand is hulle terug trein toe en het die Van der Merwes uitgenooi om die middag oor te kom. Die middag het hulle getekende portrette van die koningsgesin ontvang.
Maar sulke Suid-Afrikaanse uitgedroogde beskuit, én natuurlik nat beskuit, ís heerlik. Dat dit as koningskos kon dien, is glad nie vreemd nie.
Ek kan nie help om te dink aan ’n episode in M.E.R. se lewe toe sy en haar dogter ook beskuit aan hoë besoekers aangebied het nie. Dit was in 1963 en die eerste minister, die einste dr. Verwoerd, en sy vrou, Betsie, het ’n besoek aan M.E.R. se tuisdorp, Swellendam, gebring. Daar sou hy ’n vergadering toespreek.
M.E.R. en Verwoerd het mekaar al lank geken deur hul albei se betrokkenheid by die opheffingswerk onder die armblankes. Oor die latere politiek het sy met hom verskil en in die hof getuig teen die verskuiwing van bruin mense uit ’n buurt van Swellendam.
Maar die politieke verskil het nie hul vriendskap bederf nie. Die Nasionale Party het ’n vergadering gereël en het toegelaat dat die Verwoerds twintig minute by M.E.R.-hulle kuier.
Hulle is toegelaat om die hoë gaste te onthaal – met daardie koningskos: tee en beskuit!
So is onse mense is prof. J.C. Steyn se laaste boek. Steyn is in September 2021 oorlede, kort voordat die finale afrondingswerk aan dié boek gedoen kon word. Die boek bevat onder meer nagenoeg ’n dosyn kort sketse wat Steyn se kenmerkende fyn benadering tot interessanthede uit die verlede ten toon stel. Besoek AfriForum Uitgewers se aanlyn winkel vir meer inligting.