Boerebande 18 – Amerika se Kaapse keiser …

10/06/2026
| Deur Alana Bailey
Boerebande 18 – Amerika se Kaapse keiser …

Deur Alana Bailey

Vandeesmaand se bydrae oor ’n stukkie plaaslike geskiedenis in die buiteland gaan nie oor ’n Afrikaner of ’n monument nie, maar oor ’n merkwaardige man met so ’n interessante lewensloop dat die feite vreemder as fiksie klink.

Hy was Joshua Abraham Norton, gebore in Deptford, Engeland in Februarie 1818. Twee jaar later het sy ouers as 1820-Setlaars na die Kaapkolonie geïmmigreer. Hulle het hulle in Algoabaai (Port Elizabeth/Gqeberha) gevestig en aanvanklik goed gevaar, maar mettertyd in finansiële nood beland. Joshua en sy pa het nie ’n goeie verhouding gehad nie. Skynbaar het dit alles tot gevolg gehad dat Joshua in 1845 na Amerika geïmmigreer het.

In Maart 1846 het hy in Boston aangekom. Volgens sy eie vertellinge later, het hy daarna tyd in Suid-Amerika deurgebring en uiteindelik in 1849 met $40 000 in San Francisco aangeland. Hier het hy die besigheid Joshua Norton & Company gevestig. Dit was met eiendomstransaksies en invoere gemoeid. Hy moes oor ’n uitsonderlike sakevernuf beskik het, want drie jaar later het sy neseier na bewering tot sowat $250 000 aangegroei. Hy het die stad se invloedrykste mense leer ken en die respek van die gemeenskap van San Francisco geniet. Spoedig het hy aan die vooraanstaande klubs behoort en in belangrike komitees gedien.

In 1852 het hy egter op grond van slegte advies ’n enorme verlies met die invoer van rys gemaak. Hy het sy geld twee jaar lank met regsaksies probeer terugkry, maar was nie suksesvol nie en het nog meer geld verloor. In 1856 is hy bankrot verklaar.

Hy moes nou in ’n beskeie losieshuis intrek. Sy pogings om tot plaaslike belastinggaarder of Amerikaanse Kongreslid verkies te word, het misluk. Dit lyk asof al hierdie terugslae hom in ’n ernstige depressie laat verval het wat die patroon van die res van sy lewe sou bepaal.

In Julie 1859 het hy teen betaling sy manifes in die koerant, die San Francisco Daily Evening Bulletin laat plaas. Dit was gerig aan die “burgers van die Unie” en het sy voorgestelde oplossings vir nasionale probleme bevat. Op 17 September 1859, het hy dit met hierdie proklamasie opgevolg:

At the peremptory request of a large majority of the citizens of these United States, I, Joshua Norton, formerly of Algoa Bay, Cape of Good Hope, and now for the last nine years and ten months past of San Francisco, California, declare and proclaim myself Emperor of these United States; and in virtue of the authority thereby in me vested do hereby order and direct the representatives of the different States of the Union to assemble in Musical Hall, of this city, on the 1st day of February next, then and there to make such alterations in the existing laws of the Union as may ameliorate the evils under which the country is laboring, and thereby cause confidence to exist, both at home and abroad, in our stability and integrity.

Norton I.,

Emperor of the United States.

Daarmee het “Keiser Norton die Eerste” se regeertyd van sowat twintig jaar begin – al was dit net in sy gedagtes. Sy oproepe dat die Kongres afgeskaf moet word en Amerika in ’n monargie met hom as keiser omgeskakel moet word, het uiteraard nie sukses behaal nie. Dit het hom egter nie van stryk gebring nie. Hy het lewenslank voorstelle gemaak oor beter regeringsmaatreëls om die burgers van Amerika meer voorspoedig te maak. Een van sy biograwe het verklaar: “Some say he’d gone mad; others say he’d gone wise.”

Sy gereelde verklarings in die koerante het altyd van goeie taalgebruik getuig. Sommige daarvan was merkwaardig sinvol en met van dié gedagtes was hy selfs sy tyd vooruit. Dit het oproepe teen korrupsie en die misbruik van belastinggeld ingesluit. Verder was hy ten gunste van vrouestemreg, minderheidsregte en gelyke behandeling vir alle rasse.

Hy het deurentyd sy kennis uitgebrei deur koerante te lees, biblioteke te ondersteun, of teaterproduksies, lesings en openbare sittings van plaaslike owerhede by te woon. Hy het ook graag skaak gespeel.

Tog het hy van die hand na die mond in sy klein losieshuiskamertjie geleef en is sy kos en huur dikwels deur welwillende vriende betaal. Dit het egter nie sy styl ingeperk nie – hy was altyd in ’n uniform geklee (soms dié van die Uniemagte, soms van die Konfederasie – waarskynlik klere wat as donasie geskenk is). Dit is by tye aangevul met reuse goue epoulette, ’n angelier in sy baadjie se knoopsgat, ’n swaard of wandelstok, en ’n bewerpelshoed met ’n volstruisveer op.

Hy het ook sy eie geldeenheid laat druk en San Francisco het sowaar dat dit vir dollars geruil kon word. Dit getuig van die stad en sy mense se liefde vir dié eksentrieke man. Hy het ’n soort toerisme-aantreklikheid geword en daar is selfs klein gipsbeeldjies van hom verkoop. Op ’n keer het ’n oorywerige geregsdienaar hom vir “waansinnige gedrag” gearresteer. Die media en publiek was woedend en het dadelik sy ontslag geëis. Dit het met ’n openbare verskoning van die polisiehoof geskied en daarna is hy getrou deur alle polisiemanne op straat gesalueer.

Van sy kant af was hy net so lief vir die stad se mense – hy sou onder meer die titel van “Koning / Koningin van die Dag” aan volwassenes en veral kinders toeken as hulle een of ander weldaad verrig het.

Op die reënerige aand van 8 Januarie 1880 was hy op pad na ’n debatsbyeenkoms. Onderweg het hy inmekaar gesak en gesterf. Volgens koerantberigte van die tyd het soveel as tienduisend mense ’n laaste eerbewys aan hom gaan betoon by die ondernemer waar sy lyk tot en met sy begrafnis gehou is – van arbeiders op pad werk toe, tot vername besigheidsmanne, predikante, sakkerollers, deftige dames en bedelaars. Die skare was só groot dat die polisie ingeroep is om hulle te beheer. Hy het ten tye van sy dood net ongeveer $6 in sy sakke gehad en geen ander besittings nie. ’n Fonds is gestig en het weldra genoeg geld ingesamel om te keer dat hy as armlastige begrawe word. In 1934 is die begraafplaas waar hy te ruste gelê is, ontruim en hy is met militêre eerbewys herbegrawe.

Sy nalatenskap is indrukwekkend – karakters in werke van Mark Twain en Robert Louis Stevenson is op hom gebaseer. Daar is liedjies oor en kunswerke van hom. Sy graf word steeds dikwels besoek. Die Emperor Norton Trust doen navorsing oor hom en loods veldtogte om landmerke in San Francisco na hom te vernoem. Die Trust het ’n omvattende webtuiste met inligting en foto’s van die “keiser” en was dan ook die vernaamste bron van inligting vir hierdie artikel oor ’n unieke man wat  Kaapse spore in Amerika nagelaat het.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels