Retiefklip in Kerkenberg, waar Piet Retief se dogter haar pa se naam op die rotswand gewerf het in 1837.
Deur Ilze Nieuwoudt
Vandeesmaand 185 jaar gelede, op 21 Oktober 1837, het die Retief-trek uitgespan by Kerkenberg in die Drakensberg, terwyl Piet Retief se ’n klein geselskap in Port Natal aangedoen het om die streek te verken.
Oor dié uitspanplek skryf eerwaarde Erasmus Smit dat die besondere rotsformasie van die plek hom tot ’n kerk of plek van aanbidding sou kon leen – vandaar die naam Kerkenberg.
Kerkenberg is nagenoeg 30 km suid van Harrismith op die Oliviershoekpas na Bergville geleë. J.J. Oberholster skryf in sy boek Historiese monumente van Suid-Afrika dat die Voortrekkers met 54 ossewaens van vroeg in Oktober in die omgewing van die hedendaagse Bethlehem uitgekamp het. Retief en 14 manne het op 5 Oktober vertrek om met Dingaan te gaan onderhandel, en op 19 Oktober het die oorblywende Voortrekkers uit hul geselskap begin om teen die Drakensberg op te trek.
Die hooflaer het uit 23 waens bestaan en is onder Retief se skoonseun Abraham Greyling gelei. In sy aantekeninge het Smit die skoonheid van die omgewing beskryf en ook die unieke rotsformasies wat hulle daar teëgekom het. Hy skryf: “Drie aangrensende ruimten, die … met weinig moeite tot ’n Kerk of plaats van Godsdienstige byeenkomste konden gemaakt zijn.”
Op 12 November (Retief se verjaardag) het Retief se dogter, Deborah, met groen verf haar pa se naam op ’n klip by Kerkenberg geverf – ’n inskripsie wat vandag nog bewaar word. Sowat 60 jaar later, gedurende die Anglo-Boereoorlog het nóg mense – veral lede van die Bethlehem-kommando – hul name langs dié van Retief s’n gevoeg.